Die Suid-Afrikaanse Leërvrouekollege (SALVKOL) het jong vroue opgelei om tydens ‘n noodtoestand die nadelige gevolge van die ramp wat die gemeenskap getref het doeltreffend te beheer.
Doel SALVKOL het sy deure op 10 April 1971 in George geopen onder die aanvanklike naam Burgerlike Beskermingskollege (die BBK). Meisies is daar opgelei om sulke take te verrig wat mans dan beskikbaar sou stel vir krygsdiens. Hulle is voorberei om leiding in die samelewing te neem in tye van rampe of sosiale onrus. Hulle het ‘n nie-vegtende militêre ondersteuningsgroep gevorm.
Leerplan Die leerplan het behels leierskapontwikkeling, selfverdediging, noodhulp, verpleging, openbare gesondheid, gevorderde motorbestuurvaardighede, ambulansbeheer, noodhuisvesting, rantsoenering, brandbestryding, telekommunikasie en administratiewe vaardighede. Daar is sterk klem gelê op die ontwikkeling van intellektuele, geestelike en liggaamlike weerbaarheid. Ook is aandag gegee aan militêre opleiding, persoonlike versorging, sport en ander vryetydsaktiwiteite.
Kandidate Blanke tweetalige meisies jonger as 22 jaar kon aansoek doen om toelating tot hierdie keurkorps. Tot 1998, toe die kursus in George gestaak is, het die meisies in hul kenmerkende uniforms deel gevorm van George se straatbeeld. In Afrikaans is na die meisies verwys as die soldoedies en in Engels het hulle bekend gestaan as Botha’s Babes, ‘n verwysing na die destydse minister van verdediging PW Botha. Bekende alumni van hierdie instelling is Anna Davel, Zenobia Kock, Franci Greyling en Ruda Landman.
Bibliografie https://dsae.co.za/entry/bothas-babe/e01175 https://sadf.info/SALVKOL%20Introduction.html Nththela, Borifi: Botha’s Angels. In: Dawn. Journal of Umkhonto we Sizwe. Deel 8, nr. 3, 1984. https://sahistory.org.za/sites/default/files/archive-files4/Damar84.pdf Wondergem, Hanri: PW Botha se ‘Babes’, 50 jaar later. https://www.netwerk24.com/pw-botha-se-babes-50-jaar-later-20210219
Kategorie:Suid-Afrikaanse Weermag Kategorie:Suid-Afrikaanse militêre eenhede