Dwarka (Goedjarati: દ્વારકા, ) is 'n kusstad in die Indiese deelstaat Goedjarat met 'n bevolking van 38 873 in 2011, aan die Arabiese See. In Dwarka bevind hom die 15de-16de-eeuse Dwarkadhish-tempel wat aan die Hindoe-god Dwarkadhish, 'n plaaslike weergawe van Krishna, gewy is. Gevolglik is Dwarka 'n godsdienstige sentrum van Krishnaïsme, 'n variant van Vaishnavisme, op sy beurt een van die vier groot tradisies in Hindoeïsme. Dwarka is ook een van die Char Dham wat die vier belangrikste bedevaartplekke vir Hindoe-pelgrimstogte saamvat en aan die vier hoeke van Indië geleë is; die ander is Badrinath (noorde), Puri (ooste) en Rameswaram (suide). As 'n Hindoe tydens sy aardse lewe al vier die plekke besoek, sal dit hom help om moksja te bereik (d.w.s. die vrystelling van die lyding as gevolg van die kringloop van herhalende sterfte en hergeboorte).

Verwysings

Eksterne skakels

Amptelike webwerf

Kategorie:Goedjarat Kategorie:Hindoeïsme Kategorie:Kusstede Kategorie:Nedersettings in Indië