Die John Chard-medalje en die John Chard-dekorasie was Suid-Afrikaanse militêre onderskeidings.

Kandidate Hierdie eerbewyse is in 1952 deur koningin Elizabeth II tydens die Van Riebeeckfees op versoek van die Suid-Afrikaanse regering ingestel. Die medalje is aan lede van die Burgermag na 12 jaar van voortreflike diens toegeken. Na ‘n verdere tydperk van ten minste 8 jaar kon aan die draer van die medalje die dekorasie verleen word. In 2003 is hierdie toekennings afgeskaf en onder andere vervang met die Medalje vir Troue Diens.

Medalje en dekorasie Die medalje was van brons, langwerpig in vorm van ongeveer 50 mm by 38 mm. Op die voorkant is in reliëf ‘n gebou wat ‘n deel van die sendingpos by Rorke’s Drift moet voorstel met ‘n drif in die Buffelsrivier op die voorgrond. Bo staan “John Chard” en onder “Dekorasie”. Op die verso is die koninklike monogram in reliëf afgebeeld. In 1961 met Repuliekwording is dit egter vervang met die landswapen. Die dekorasie lyk presies soos die medalje, maar met die verskil dat dit uit silwer vervaardig is.

Drawyse Die toekennings word op die linkerbors gedra, aan ‘n rooi lint met twee donkerblou strepe van 3.2 mm elk aan weerskante en van die rooi vertikale streep geskei deur twee vertikale wit lyne van 1.6 mm in die breedte. Bo-aan is ‘n knyper en onder ‘n ring. Op die lint is ‘n klein borsspeld van geskruisde swaarde of ‘n arend of ‘n anker wat respektiewelik die weermagonderdeel verteenwoordig waarin die draer diens doen. Boonop is aan die draer van die dekorasie die reg verleen om die letters J.C.D. agter sy naam te skryf. As ‘n militêr die dekorasie ontvang het, het dit die medalje vervang. Hy kon nie beide dra nie.

Naam Hierdie militêre eerbewys dra die naam van John Rouse Merriott Chard (*Boxhill, Plymouth, 21 Desember 1947 - †Hatch Beauchamp, Taunton, Engeland, 1 November 1897). Hy was ‘n Britse luitenant en mede-aanvoerder van die Britse magte ten tyde van die Slag van Rorke's Drift op 22 en 23 Januarie 1879 tydens die Anglo-Zoeloeoorlog.

Lees ook Historiese slagveldroete van KwaZulu-Natal Suid-Afrikaanse militêre dekorasies: 1952-1975

Bibliografie https://www.battlefieldsroute.co.za/john-chard-medal/ https://samilitaryhistory.org/vol142jr.html https://samilhistory.com/tag/john-chard-decoration/ https://www.1879zuluwar.com/t1004-john-chard-medal-other-medals-awarded

Kategorie:Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis Kategorie:Ordes, dekorasies en medaljes