duimnael|Sleutel tot vol. 2 van Delarivier Manley se Memoirs of Europe (1710)

'n Sleutelroman (Frans: Roman à clef; letterlik: 'n "roman met 'n sleutel") is 'n roman waarin bestaande persone en gebeure op so 'n manier gefiksionaliseer word dat hulle slegs vir die ingewyde leser herkenbaar is. Sekere leidrade funksioneer as 'n sleutel wat die storie ontsluit, en daardie sleutel word dikwels as 'n bylaag ingesluit. Die genre ontleen sy sjarme aan die wisselwerking van gelyktydige verberging en ontmaskering.Van Gorp et al. (2007), 435 Die fiktiewe name in die roman verteenwoordig werklike mense en die "sleutel" is die verhouding tussen die nie-fiksie en die fiksie. Hierdie metaforiese sleutel mag apart geskep word—tipies as 'n uitdruklike gids tot die teks deur die skrywer of skryfster—of geïmpliseer, deur die gebruik van die epigraaf of ander literêre tegnieke.

Madeleine de Scudéry het die sleutelroman in die 17de eeu geskep om 'n forum te bied vir haar nouliks versluierde fiksie wat politieke en openbare figure bevat het. 'n Skrywer of skryfster kan die sleutelroman onder andere kies as middel van satire om oor kontroversiële onderwerpe te skryf, om binne-inligting oor skandale te rapporteer sonder dat dit aanleiding kan gee tot lasteraksies, om die verhaal te verander soos wat die skrywer dit graag sou wou hê, om outobiografiese ervarings uit te beeld sonder om die skrywer self as die onderwerp van die roman te ontbloot, om inkriminasie wat as bewys in siviele, kriminele of dissiplinêre verrigtinge gebruik kan word te vermy of om die agtergrond en persoonlikhede van sleuteldeelnemers te verander en afrekeninge, soos in Vincent Haman (1898) deur Willem Paap.

Biografies-geĭnspireerde werke het in ander literêre genres en kunsvorme verskyn, veral die film à clef. Engelstalige voorbeelde sluit in The Sun Also Rises deur Ernest Hemingway (1926), Wigs on the Green deur Nancy Mitford (1935), The Bell Jar (1963) deur Sylvia Plath en The Devil Wears Prada (2003) deur Lauren Weisberger.

Genretoekenning

Dit is soms moeilik om te bepaal of 'n roman wat 'n herkenbare werklikheid uitbeeld, tereg 'n sleutelroman genoem kan word. In die roman Het land van herkomst deur E. du Perron is die skrywer se vriendekring in talle karakters herkenbaar. Menno ter Braak het byvoorbeeld as model vir die karakter Wijdenes gedien. Tog, volgens die samestellers van die Algemeen letterkundig leksikon (Nederlands), is dit op sigself nie voldoende om as 'n sleutelroman te kwalifiseer nie, want die vraag is "of dit nie 'n fiksionalisering van die werklikheid is eerder as 'n sleutelroman wat as sodanig deur die skrywer bedoel is nie." Blykbaar moet die ooreenstemming met die werklikheid aan sekere kriteria voldoen wat miskien die beste opgesom kan word as: 'n treffende akkuraatheid van ooreenstemming met die werklikheid, wat die leser stimuleer om die werklike persone in die karakters te herken. M.H. Abrams se definisie lui ook dat die skrywer "verwag dat die belese leser die werklike persone sal kan identifiseer".Abrams (1999), 275 Wanneer daar andersyds sprake is van 'n oordrewe noukeurigheid, kan mens jouself afvra of daar nie sprake is van 'n parodie op 'n sleutelroman nie. Daar is aanwysings dat Geerten Meijsing se roman, De grachtengordel, uit 1992, eerder 'n parodie op die genre as 'n ernstige sleutelroman is: die stad wat deurgaans as A vermeld word is vanaf die allereerste bladsy duidelik herkenbaar as Amsterdam.

Geskiedenis In die sestiende en sewentiende eeu raak die sleutelroman in die mode, dikwels in die gedaante van 'n herdersroman, soos Le Grand Cyrus (1649-1653) deur Madeleine de Scudéry. 'n Bekende Nederlandse sleutelroman is Vincent Haman (1898) deur Willem Paap; dit is 'n afrekening met enkele Nieuwe Gidsers. Die hoofkarakter Vincent Haman is simbool vir Lodewijk van Deyssel, en Vincent se vriend Piet Moree vir Willem Kloos. 'n Meer onlangse voorbeeld is die sewedelige romansiklus Het Bureau (1996-2000) deur J.J.Voskuil, waarin die medewerkers van, en die gang van sake aan, die P.J. Meertens-instituut beskryf word.

Voorbeelde van die genre Nederlands Multatuli, Max Havelaar (1860). Oor die koloniale bewind in Nederlands-Indië en die skrywer self. Wilhelmina Drucker, George David (1885). Oor haar oudste halfbroer, Hendrik Lodewijk Drucker. Willem Paap, Vincent Haman (1898). Oor Lodewijk van Deyssel en die groep van De Nieuwe Gids. Herman Teirlinck, Het ivoren aapje (1909). Onder meer oor H. Verriest en Léon Bloy. Antoon Coolen, Dorp aan de rivier (1934). Oor die arts en kunstenaar Hendrik Wiegersma. A. den Doolaard, Het verjaagde water (1947). Oor die Dienst Droogmaking Walcheren van Rijkswaterstaat. Louis Paul Boon, De Kapellekensbaan (1953). Oor die vriendekring van die skrywer. Karel van het Reve, Twee minuten stilte (1959). Oor akademiese kringe. Rutger van Zeijst, De autocraten (1963). Oor die redaksie van 'n studenteblad. Judicus Verstegen, De koekoek in de klok (1969). Oor die hoogleraars van Skeikunde aan die Universiteit van Amsterdam. Willem Frederik Hermans, Onder professoren (1975). Oor akademiese kringe aan die Universiteit Groningen. Henk Romijn Meijer, De stalmeesters (1978). Oor die Amsterdamse kunshandel. Piet van Aken, De blinde spiegel (1981). Oor die Sosialistiese Party in België. Geerten Meijsing, De grachtengordel (1992). Oor die literêre wêreld in die jare sewentig en tagtig. Connie Palmen, Lucifer (2007). Oor die komponis Peter Schat en die kunstenaarsmilieu in Amsterdam.

Frans Madeleine de Scudéry, Artamène ou le grand Cyrus (1649-1653, tien dele). Oor Condé, hertogin van Longueville en die skryfster self. Émile Zola, L'œuvre (1886). Oor Paul Cézanne. Simone de Beauvoir, Les mandarins (1954). Onder meer oor Albert Camus, Jean-Paul Sartre en Arthur Koestler.

Duits Anton Ulrich van Brauchschweig-Wolfenbüttel, Die römische Octavia (1677-1712, ses dele). Oor die verhouding tussen Sophia Dorothea van Hannover en Königsmark. Johann Wolfgang von Goethe, Die Leiden des jungen Werthers (1774). Oor Charlotte Buff en J. Kestner. Otto Julius Bierbaum, Prinz Kuckuck (1906-1907). Oor keiser Wilhelm II en sy kring.

Engels Thomas Love Peacock, Nightmare Abbey (1818). Die karakters is karikature van Samuel Taylor Coleridge, Lord Byron en Percy Bysshe Shelley. D.H. Lawrence, Women in Love (1920). Oor Katherine Mansfield en John Middleton Murry. Budd Schulberg, The Disenchanted (1950). Oor F. Scott Fitzgerald.

Sien ook Allegorie Parodie Roman

Verwysings

Bronnelys Abrams, M.H. (1999). A Glossary of Literary Terms. Sewende uitgawe. Fort Worth, Texas: Harcourt Brace College Publishers, Dautzenberg, J.A. (1989). Nederlandse literatuur, geschiedenis, bloemlezing en theorie tot 1916. Breukers, Chrétien. 'Boeken die ik twaalf jaar niet heb gezien (3): Geerten Meijsing en Th. van Hooff.' Tzum: Literair weblog, 23 Junie 2014. Besoek op 14 September 2014. Luc Decorte. (1993). 'Geerten Meijsing over de Amsterdamse grachtengordel.' Ons Erfdeel, p. 112-113. Besoek op 14 September 2014. Gorp, Hendrik van, Dirk Delabastita, Rita Ghesquiere met medewerking van Jan Flamend. (2007). Lexicon van literaire termen. Agtste, hersiene druk. Mechelen: Wolters Plantyn. Peeters, Carel. (1992). 'Windmolens aan de grachtengordel.' Vrij Nederland, 29 Augustus 1992, p. 61. Besoek op 14 September 2014. Röst, L.C.M. (red.). (1993). Grote Winkler Prins Encyclopedie in 26 delen. Deel 21: Sciadopitys - Sterns. Negende, geheel nuwe druk, Amsterdam en Antwerpen: Elsevier, Amos, William (1985). The Originals: Who's Really Who in Fiction. Londen: Cape. . Busby, Brian (2003). Character Parts: Who's Really Who in Canadian literature. Toronto: Knopf Kanada. . Rintoul, M. C. (2014). Dictionary of Real People and Places in Fiction.

Kategorie:Letterkunde