Die Glen Grey-wet van 1894 in die Kaapkolonie kan beskou word as ‘n voorloper van die apartheidswetgewing. Dit het voorsiening gemaak vir persoonlike grondbesit en beperkte plaaslike selfregering vir die Xhosa in die Transkei.

Wet 25 van 1894 Hierdie wet is beskou as premier C.J. Rhodes se grootste wetgewende prestasie. Dit is op 7 Augustus aanvaar met die steun van die Afrikanerbond en het ‘n einde gebring aan die gelyke status wat die Xhosa met die blanke inwoners van die Kaapkolonie geniet het.

Bepalings Rhodes se beleid het op vier hoofpunte berus. Die Xhosa moes in afsonderlike reservate woon (dus segregasie), hulle het daar die reg van persoonlike grondbesit (in teenstelling tot gemeenskaplike grondbesit in stamverband) en plaaslike selfbestuur verkry. Dan moes hulle drie maande per jaar vir ‘n ander werk tensy hy ‘n grondeienaar is of minstens 10 sjielings aan belasting betaal.

Uitvoering Die doel daarmee was om die Xhosa op te lei in die Westerse bestuurstyl van selfbestuur. In elke woongebied is ‘n lokasieraad met slegs Xhosa-lede gevorm. Distriksrade het egter ‘n blanke voorsitter gehad. Hulle kon belasting hef en die geld gebruik vir onderwys, om paaie in stand te hou en die dip van skape. Hulle het ook sekere admistratiewe pligte gehad. Op hul beurt het die distriksrade verteenwoordiging gehad in ‘n Algemene Raad (die Bunga) met beperkte magte en funksies aangaande die Transkei. Dit het die politieke bewuswording van die Xhosa bevorder. ‘n Spesiale grondbesitstelsel vir die Xhosa is ingestel waarvolgens elkeen ‘n 4 ha grond volgens die erfpagstesel kon besit. Maar dit het nie as die eiendomskwalifikasie gegeld wat in die Kaapkolonie vir stemreg in die kolonie vereis is. Dus is sekere mense ontkieser. Om die nuwe grondeienaars teen blanke grondspekulante te beskerm was daar klousules wat die verkoop teengewerk het. Om te voorkom dat die klein plasies versnipper tot onekonomiese eenhede is bepaal dat slegs ‘n oudste seun van ‘n gesin dit mag erf.

Ligging Hierdie proefneming in Xhosa-selfbestuur is aanvanklik toegepas in ‘n gebied oos van Queenstown en wes van die Indwerivier bekend as Tamboekieland. Dit is later herdoop tot Glen Grey ter ere van die goewerneur. Dadelik is die wet in vier aangrensende distrikte ingevoer en langsamerhand tot die hele Transkei uitgebrei.

Lees ook Glen Grey

Bronnelys Böeseken, A.J.: Die Nuusbode. Kaapstad: Nasou,1966 Kruger, D.W. (red.): Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Nasou, 1966 Pretorius, Fransjohan (red.): Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot vandag. Kaapstad: Tafelberg, 2012. ISBN 978-0-624-05466-5 van Jaarsveld, F.A.: Van Van Riebeeck tot Vorster 1652-1974. ‘n Inleiding tot die Geskiedenis van die Republiek van Suid-Afria. Johannesburg: Perskor-Uitgewery, 1976. ISBN 0-628-00795-7 https://omalley.nelsonmandela.org/index.php/site/q/03lv01538/04lv01646/05lv01705.htm https://journals.co.za/doi/abs/10.10520/EJC95714

Kategorie:Geskiedenis van Suid-Afrika Kategorie:Apartheid