Die spoornyd tussen Moorreesburg en Hopefield het vanaf 3 Desember 1879 begin broei met die afstigting van die Hooikraalkerkie (vandag Moorreesburg), op sy ergste gewoed in die 1890's tot die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, en daarna nog tot die 1940's bly voortsmeul.Bouman, G. 2026. Spoornyd: Waarom Swellendammers g'n trein wou hê nie. Deel 1. Suidernuus, 30 Januarie, p. 5. Tydens die spoorwegontwikkeling van die Swartland en Weskus het hierdie stryd aanleiding gegee tot die totstandkoming van twee spoorlyne: die gewone Kaapse spoorlyn (3 voet, 6 duim) wat deur Moorreesburg loop Piquetberg toe, en die aanvanklike smalspoorlyn tot by Hopefield (2 voet). Goedkoop is duurkoop: die besluit op die smalspoorlyn sou vir Hopefield nog duur te staan kom.

Oorsprong Op 3 Desember 1879 kom die Ringkommissie op Hooikraal byeen, in opdrag van die Ring om 'n gemeente te stig. In die koerantberig van De Zuid-Afrikaan (6 Desember 1879) kom mens heelwat te wete. Onder andere is daar benewens die kerk, skoolgebou en woning wat vir die inwonende onderwyser en "kostleerlingen" ingerig is ook "nog eenige andere gebouwen van private personen". Hooikraal is op hierdie stadium drie uur vanaf Malmesbury geleë, drie ure vanaf Hopefield, drie ure vanaf Riebeek-Wes en drie en 'n halfuur vanaf Piquetberg. Dit is letterlik in die hart van die "Roode Zwartland", en dus baie sentraal geleë. Ook is daar reeds sprake van 'n spoorlyn wat tussen Malmesbury en Piquetberg sal loop, dit is net 'n kwessie van tyd, en die groot vraag ontstaan: sal dit deur Hooikraal loop, of Hopefield? En op handelsgebied? Alleen die toekoms sal leer.

Die presiese bewoording in die koerant lui:

Politieke agtergrond Parlementêre politiek Toe die Kaapkolonialers 'n verenigde front gevorm het teen die landing van 'n skeepslading Engelse bandiete, is gedeeltelike selfbestuur in 1853 aan die Kaap toegestaan. Hierdie stelsel het uit twee "huise" bestaan, naamlik die Hoërhuis (of Wetgewende Raad) en die Laerhuis (of Wetgewende Vergadering), die voorganger van die Volksraad. Die Laerhuis het bestaan uit 2 verkose lede (setels) uit elkeen van die 21 plattelandse kiesafdelings en vier vir Kaapstad. Hierdie verteenwoordigers is deur die publiek van die betrokke kiesafdelings gekies. Die Hoërhuis het uit vyftien ministers bestaan.Burger, W.A. 1975. Piket teen 'n berg: die geskiedenis van Piketberg 1660-1970. Epping: Privaat uitgegee, p. 325Du Plessis, A. 1981. Die Britse Tydperk; Verantwoordelike bestuur. In: Nieuwoudt, C.F., Olivier, G.C. & Hough, N. (reds.). Die Politieke Stelsel van Suid-Afrika. Kaapstad: Academica, pp. 67: Wetgewende Vergadering (Laerhuis) Die Wetgewende Vergadering het uit 46 lede bestaan wat vir 'n periode van vyf jaar deur stemgeregtigde burgers verkies is. Met die uitsondering van die voorsitter het twaalf lede 'n kworum gevorm, en besluite is met 'n meerderheid van stemme geneem. Engels is as taalmedium gebruik, en die Vergadering moes ten minste een maal per jaar op 'n plek vergader wat deur die Goewerneur bepaal is. [...] Die Wetgewende Vergadering het nuwe wette of wysigings voorgestel; die Wetgewende Raad het die voorgestelde wetgewing bekragtig of afgekeur.Du Plessis, A. 1981. Die Britse Tydperk; Verantwoordelike bestuur. In: Nieuwoudt, C.F., Olivier, G.C. & Hough, N. (reds.). Die Politieke Stelsel van Suid-Afrika. Kaapstad: Academica, pp. 67: Wetgewende Raad (Hoërhuis) Die Wetgewende Raad het bestaan uit die Hoofregter (as president en voorsitter) en vyftien verkose lede. Agt lede het onderskeidelik die weste en sewe lede die oostelike distrikte verteenwoordig. Vyf lede, sonder die voorsiter, het 'n kworum gevorm, en besluite is met 'n meerderheid van stemme geneem. Lede van die Wetgewende Raad moes bo en behalwe die kwalifikasies wat vir 'n kieser gestel is, ook 30 jaar oud wees en in besit van onbeswaarde eiendom ter waarde van £2 000 of beswaarde eiendom ter waarde van £4 000. Die Goewerneur (die verteenwoordiger van die Britse kroon) moes die wet onderteken, of kon, in uiterste gevalle, in opdrag van Londen toestemming weerhou.Du Plessis, A. 1981. Die Britse Tydperk; Verantwoordelike bestuur. In: Nieuwoudt, C.F., Olivier, G.C. & Hough, N. (reds.). Die Politieke Stelsel van Suid-Afrika. Kaapstad: Academica, pp. 67: As verteenwoordiger van die Britse Kroon het die Goewerneur oor die bevoegdheid beskik om wette te maak vir die vrede, welsyn en goeie regering van die Kaapkolonie, maar slegs op advies en met die uitdruklike goedkeuring van die Wetgewende Raad en die Wetgewende Vergadering. Sekere bevoegdhede soos die ontbinding van die Wetgewende Raad en die Wetgewende Vergadering gesamentlik of die Vergadering alleen, die besteding van staatsgeld, die terugstuur van wetgewing na die twee huise, en die uitoefening van 'n vetoreg was die prerogatief van die Goewerneur. Die Goewerneur kon enige wetsontwerp vir die oordeel van die Britse monarg voorbehou, wat beteken het dat die Britse regering dit moes bekragtig. Die finale wetgewende bevoegdheid het dus steeds by die Britse Parlement berus.

Al was dit nie die partypolitiek soos vandag, waar die politieke partye die septer in die parlement swaai nie, kon verteenwoordigers buitemuurs deel wees van die Afrikanerbond. Sulke verteenwoordigers is Bondsmanne genoem. Moorreesburg se Bondstak sou aanvanklik 26 September 1889 gestig word, maar dit is uitgestel tot 3 Oktober 1889.De Zuid-Afrikaan. 1889. 21 September, p. 1: Eene Publieke Vergadering zal gehouden worden te Moorreesburg, op Donderdag, 26 dezer, ten half 2 ure, ten einde een Tak van den Afrikaander Bond te stichten. Alle belangstellenden worden verzocht tegenwoordig te zijn.De Zuid-Afrikaan. 1889. 24 September, p. 2: De publieke vergadering van den Afrikaander Bond te Moorreesburg in ons laatste nommer op Donderdag 26 dezer geadverteerd, zal door dien vele perzonen niet tegenwoordig kunnen zijn, uitgesteld worden tot Donderdag, 3 October.

In die ou Kaapse parlement (1854 – 1910) het die Kiesafdeling Malmesbury twee setels gehad - wat dorpe soos Hopefield en Moorreesburg ingesluit het.Smit, A.P. 1945.Parlementslede van Malmesbury (1854-1945). Gedenkboek van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Swartland: tweede eeufees (1745-1945). Malmesbury: N.G. Kerkraad, pp. 370 & 379. Kiesafdeling Piquetberg het egter die bal aan die rol gesit met die Moorreesburg-trein, omdat die streek baie graag 'n trein tot op Piquetberg wou gehad het.

Hoe om 'n spoorlyn te kry: Die saak moet opgeneem word met die verteenwoordiger. Gewoonlik word 'n openbare vergadering gereël of 'n petisie dan opgestel, wat die verteenwoordiger van die kiesafdeling parlement toe neem. Die petisie beland in die parlement (Wetgewende Vergadering, die Laerhuis). Die petisie dien as bewys dat mense die wet wil hê. As die parlement saamstem, word daar eers op 'n mosie na bespreking gestem, totdat daar later 'n konsepwet opgestel word wat dan bespreek en oor gestem word. Indien die parlementslede leke op die betrokke gebied is, moet 'n gekose komitee saamgestel word om die nodige inligting in te win. Na afloop van die komiteeterugvoer en verdere bespreking, stem die verteenwoordigers van die verskillende kiesafdelings daaroor (of bly buite stemming). Die meerderheid stemme wen. Wen die voorstel, gaan dit Wetgewende Raad toe. Die Wetgewende Raad (Hoërhuis) besluit of die voorgestelde wet aanvaar of verwerp moet word. Laastens bekragtig of verwerp die Goewerneur die voorgestelde wet met sy handtekening.

Die probleem is, die hoeveelheid geld is beperk. Elke kiesafdeling wil ietsie (of feitlik alles) van daardie geld hê. Elke streeksverteenwoordiger baklei hard vir sy eie streek se belange en sal mekaar veto. Op die lange duur ontstaan daar ongesiens 'n quid pro quo, of "log-rolling" word dit genoem. Sekere streke kom in die geheim ooreen om vir mekaar se belange te stem.

Daar is egter ook 'n klein troefkaart, soos in die geskiedenis hieronder gesien sal word. As 'n dorp of 'n sekere belangegroep ontevrede is, word 'n openbare vergadering ter plaatse belê, die afgevaardigdes vorm 'n deputasie en gaan onderhandel direk met die Kommissaris van Openbare Werke self. Die Kommissaris skryf immers die wet. Hy kon dan die voorgestelde wet terugstuur parlement toe, met genoeg amptelike data om 'n wysiging voor te stel.

Verder is die Kommissaris die aangewese persoon wat die spelreëls ken, juis omdat hy die wet skryf. Nog voordat 'n enkele petisie geteken is, kon 'n deputasie afgevaardig word om vooraf die regte prosedure by die wetgewer te kry.

In die tweekamerstelsel het die Wetgewende Raad (Hoërhuis) hersieningsbevoegdhede gehad, maar hy kon nie finansiële wetsontwerpe ter tafel lê nie — soos om die nodige staatsfondse vir 'n nuwe spoorlyn te bewillig nie. Slegs die Goewerneur en die lede van die Wetgewende Vergadering (Laerhuis) kon sodanige geldelike maatreëls indien. Omdat die Wetgewende Raad egter wel die reg gehad het om wetgewing te 'hersien', is 'n 'dubbelganger'-petisie dikwels deur die lede van die Wetgewende Raad in die Hoërhuis formeel ingedien om as klinkklare bewys te dien waarom 'n ander wet gewysig of geveto moes word. In baie eenvoudige taal het dit neergekom op: 'Kyk hier, die mense is ontevrede, ons gaan hierdie (ander) wet wysig of veto.'Du Plessis, A. 1981. Die Britse Tydperk; Verantwoordelike bestuur. In: Nieuwoudt, C.F., Olivier, G.C. & Hough, N. (reds.). Die Politieke Stelsel van Suid-Afrika. Kaapstad: Academica, pp. 67-68: Die Parlement was dus 'n bikamerale wetgewende liggaam. Hoewel die bevoegdhede van die twee huise identies was, het die Wetgewende Raad as Hoërhuis hersieningsbevoegdhede gehad. Finansiële wetsontwerpe kon egter slegs deur die Goewerneur in die Wetgewende Vergadering ingedien word. Die Wetgewende Raad het egter dikwels teen die indiening en beperking van geldelike maatreëls beswaar aangeteken en het wysigings en finansiële wetsontwerpe aangebring om belasting te verhoog of te verminder.

Hier volg nou Lede van die Wetgewende Vergadering (LWV's) wat in die parlement Malmesbury en Piquetberg onderskeidelik verteenwoordig het:

SetelMalmesburyPiquetbergKilpin, R. 1930. The Romance of a Colonial Parliament. London: Longmans, Green & Co., pp. 137-168: Annexure E, Members of the House of Assembly, 1854-1910Setel 1Thomas Arnoldus Johannes Louw (1879 – 1898)David Tennant (1866-1895; ook speaker vanaf 1870 – 1883)Setel 2Michiel Bergh (1874 – 1888)Johan Zacharias Human (1870 – 1883) Setel 1Thomas Arnoldus Johannes Louw (1879 – 1898)David Tennant (1866-1895; ook speaker vanaf 1870 – 1883)Setel 2Jan Andries Basson (1889 – 1893)David Christiaan de Waal (1884 – 1893) Setel 1Thomas Arnoldus Johannes Louw (1879 – 1898)Daniel Jacobus Marais (1896 – 1903)Setel 2Ryan Pierce (1894 – 1898)David Christiaan de Waal (1894 – 1903) Setel 1Jacobus Abraham Smuts (1898 – 1907)Hermanus Dempers Stiglingh (1904 – 1907)Setel 2William Philip Schreiner (1898 – 1900)Michael Johannes de Beer (1904 – 1910) Setel 1Arnoldus Petrus Willem Immelman (1908 – 1910) Setel 2François Stephanus Malan (1900 – 1910) Dan was daar ook die onderskeie Kommissarisse van Openbare Werke wat die wetgewing geskryf het om die totstandkoming van 'n spoorlyn moontlik te maak:

Kommissaris van Openbare WerkeKilpin, R. 1930. The Romance of a Colonial Parliament. London: Longmans, Green & Co., p. 168: Annexure GJohn Laing (6 Februarie 1878 – 8 Mei 1881)  

John X. Merriman (9 Mei 1881 – 12 Mei 1884)

Friedrich Schermbrucker (13 Mei 1884 – 24 November 1886)

Friedrich Schermbrucker (25 November 1886 – 16 Julie 1890)

Cecil John Rhodes (17 Julie 1890 – 23 September 1890)

James Sivewright (24 September 1890 – 3 Mei 1893)

John Laing (8 Mei 1893 – 12 Januarie 1896)

James Sivewright (17 Januarie 1896 – 13 Oktober 1898)

Jacobus Wilhelmus Sauer (14 Oktober 1898 – 17 Junie 1900)

Thomas William Smartt (18 Junie 1900 – 29 Mei 1902)

Arthur Douglass (30 Mei 1902 – 21 Februarie 1904)

Thomas William Smartt (22 Februarie 1904 – 2 Februarie 1908)