Fabio Cannavaro (gebore 13 September 1973) is ’n Italiaanse professionele sokkerafrigter en voormalige -speler wat as een van die grootste verdedigers van alle tye beskou word.

Hy het as ’n sentrale verdediger en het sy professionele loopbaan by Napoli begin voordat hy sewe jaar by Parma deurgebring het, saam met wie hy twee Coppa Italia-titels, die 1999 Supercoppa Italiana en die 1999 UEFA-beker gewen het. Ná tydperke by Inter en Juventus het hy (saam met afrigter Fabio Capello) in 2006 van Juventus na Real Madrid oorgegaan, waar hy opeenvolgende La Liga-titels in 2007 en 2008 gewen het. Hy het in 2009/10 vir een seisoen na Juventus teruggekeer en in 2011 uit sokker getree ná ’n tydperk by Al-Ahli in VAE.

Cannavaro was deel van die Italië-span wat opeenvolgende UEFA Europese Onder-21 Kampioenskappe in 1994 en 1996 gewen het. Nadat hy sy eerste senior wedstryd in 1997 gespeel het, het hy sy nasionale span gehelp om die eindstryd van UEFA Euro 2000 te bereik, waar hy in die span van die toernooi ingesluit is, en hy het in 2002 kaptein geword ná Paolo Maldini se uittrede.

Hy het die bynaam Il Muro di Berlino (“Die Berlynse Muur”) van Italiaanse ondersteuners gekry tydens die Wêreldbekertoernooi in 2006 in Duitsland, weens sy verdedigende vertonings, waarin Italië vyf skoon velle gehou het en slegs twee doele afgestaan het tydens sewe wedstryde. Hy het die Silwer Bal ontvang nadat hy as die toernooi se tweede beste speler aangewys is. Hy is in 2006 as FIFA Wêreldspeler van die Jaar aangewys, wat hom die enigste verdediger in die geskiedenis maak wat die toekenning gewen het. Hy het ook die Ballon d’Or in 2006 gewen, wat hom die enigste verdediger van daardie dekade maak wat dit gewen het, en slegs die derde ooit ná Franz Beckenbauer en Matthias Sammer."Cannavaro discusses highs and lows" . Football Federation Australia. Retrieved 18 November 2013.

In 2009 het Cannavaro Maldini verbygesteek as die speler met die meeste nasionale wedstryde in die land se geskiedenis. Hy het op 25 Junie 2010 uit internasionale sokker getree ná Italië se mislukking om vir die uitklopfase van die 2010 Wêreldbeker te kwalifiseer, met 136 wedstryde en 2 doele vir die senior nasionale span. In totaal het hy Italië by vier Wêreldbekertoernooie, twee Europese Kampioenskappe, die 1996 Olimpiese Somerspele en die 2009 FIFA Konfederasiebeker verteenwoordig. Hy is tans Italië se tweede hoogste speler in terme van internasionale verskynings, agter Gianluigi Buffon, asook Italië se mees-gespeelde verdediger.

Sedert sy uittrede het Cannavaro verskeie spanne in Asië afgerig. Hy is kortstondig in 2019 as afrigter van die Chinese nasionale span aangestel. Hy was hoofafrigter van die Serie B-klub Benevento in die 2022/23-seisoen, en in April 2024 het hy hoofafrigter van die Serie A-klub Udinese geword, waar hy die klub suksesvol uit die relegasiesone gelei het. In Desember 2024 is hy as bestuurder van die Kroatiese klub Dinamo Zagreb aangekondig, maar is vier maande later ontslaan. In Oktober 2025 is hy as hoofafrigter van die Oesbekistan se nasionale span aangestel.

Verwysings

Kategorie:Italiaanse sokkerspelers Kategorie:Sokkerafrigters Kategorie:Geboortes in 1973 Kategorie:Lewende mense