Percy Sieff (22 Junie 1928 – 1 Maart 2009) was 'n akteur en het gewerk in radio, TV, verhoog en film in Engels en Afrikaans en was 'n verhoogregisseur.
Biografie Hy is gebore op 22 Junie 1928, het grootgeword in Melkbosstrand en het later sy tuiste in Clifton gemaak. Hy was getroud met Sylvia Perl en hulle het twee kinders gehad.
Gedurende die 1990's het hy en sy vrou hulle in Australië gevestig waar hy kritiese lof ontvang het vir sy vertolking van Shylock in The Merchant of Venice in die Sydney Operahuis in 1999. Hy het egter steeds gereeld besoeke aan Suid-Afrika afgelê.
Sieff is op 1 Maart 2009 in die Kaapstad Mediclinic oorlede tydens 'n besoek aan sy tuisdorp en is begrawe in die Pinelands Joodse Begraafplaas, Kaapstad. (IMDb gee verkeerdelik sy dood as 19 Junie 2009 in Sydney, Nieu-Suid-Wallis, Australië).
Bydraes tot SA teater, film, media en teaterwese Radio Sieff was welbekend as 'n Springbokradio-persoonlikheid, byvoorbeeld bekend vir die gewilde Springbok Radio-reeks "Call Back The Past", wat hy aangebied het. Die reeks het in 1968 op Springbok Radio begin en tot 1982 voortgeduur, vir 'n totaal van 708 episodes. Elke Dinsdagaand het Percy Sieff die luisteraars op 'n historiese toer van die 19de en 20ste eeue geneem met behulp van seldsame historiese opnames, beide in stemme en musiek. (Die Springbok Radio Dokumentêre Versameling)
Verhoogwerk Sieff het vir Kruik gewerk. Het ook in die 1970's vir Die Ruimte gewerk.
Sieff het die oorspronklike Bosman-eenmanvertoning Willem Prinsloo se Perskebrandewyn: 'n Aand van H.C. Bosman landwyd opgevoer sedert vroeg in 1969, en het gespeel in Lang Dag se Reis in die Nag, Luv, Beroepe, Verklarings na 'n Arrestasie onder die Wet op Immoraliteit, 'n Duisend Narre en Alpha Beta.
Hy het ook van sy eie produksies by Die Ruimte bedink en aangebied, insluitend Jewish Humour, Sincerely Yours, Mark Twain, Nostalgic 20s, Nostalgic 30s, Look at the 60s en Son of Jewish Humour.
Met vriendelike dank aan Mark Twain het 'n langtermyn-voertuig vir Sieff geword, wat hierdie eenmanvertoning oor Mark Twain regoor die wêreld geneem het, tot in die laat 1990's.
Hy het gespeel in The Caucasian Chalk Circle (1959), Cyrano de Bergerac (1969), Moeder Hanna (Kruik 1970), Paul Harmse in Christine vir Kruik 1987, Faust, The Madwoman of Chaillot, The Proposal, Broken Glass, Venus Observed, Captain Carvallo en vele ander produksies.
Film en TV As filmakteur was hy bekend vir Dirty Games (1989), Code 7, Victim 5 (1964) en Kalahari Harry (1994).
Toekennings Drieblaar-toekenning gewen vir Polo in A Hatful of Rain, 1966.
Nominasie vir Fleur du Cap vir sy rol in Broken Glass, 1995.
Bronne South African Casting Directory 1973; 1974. https://esat.sun.ac.za/index.php/SACD
IMDb https://www.imdb.com/name/nm0796851/ Besoek 26 Maart 2026.
Cape Argus 19 Mei 1999.
Fiona Chisholm. 2009. Theatre personality Percy Sieff bows out after a long and distinguished career. Cape Times, 5 Maart 2009.
The Springbok Radio Documentary Collection https://www.all-otr.com/S027ai_SpringbokDoc.htm Besoek 26 Maart 2026.
Kategorie:Suid-Afrikaanse akteurs Kategorie:Geboortes in 1928 Kategorie:Sterftes in 2009