W.W.M. Eiselen was die hoofbeplanner van die beleid van apartheid.

Afkoms Werner Willi Marx Eiselen is op 13 Junie 1899 op Botshabelo by Middelburg gebore en op 12 Junie 1977 op Tzaneen oorlede. Hy was die seun van eerw. Gustav Eiselen, ‘n sendeling van die Berlynse Sendinggenootskap.

Opleiding Eiselen studeer aan die Universiteit van Pretoria en behaal daarna ‘n M.A.-graad in die Sosiale Antropologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Later studeer hy in Berlyn en Hamburg en behaal daar sy doktorsgraad. In Europa is sy leermeester die beroemde kenner van Afrika-tale Carl Friedrich Michael Meinhof (*Barwitz, Rügenwalde, Pommere, Julie 1857 - †Greifswald, 10 Februarie 1944).

Loopbaan In 1926 word Eiselen lektor in die Sosiale Antropolgie aan die Universiteit van Stellenbosch en in 1935 professor in die vakgebied. Reeds die volgende jaar word hy aangestel as ‘n inspekteur van “Bantoe-onderwys” in die destydse Transvaal, ‘n pos wat hy tot 1947 beklee. Na ‘n kort onderbrekening as professor in sy vak aan die Universiteit van Pretoria beklee hy vanaf 1949 tot 1958 die pos van “sekretaris van naturellesake”. In hierdie amp is hy direk betrokke by die invoering van die beleid van apartheid. Vanaf 1960 is hy die “kommisssaris-generaal van die Noord-Sotho-volk”. Later is hy ook ‘n getuie in die saak wat Liberië en Ethiopië teen Suid-Afrika in die Wêreldhof gevoer het.

Eerbewyse Die Universiteit van Port Elizabeth ken hom ‘n eredoktorsgraad toe. Hy ontvang ‘n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die Afrikanistiek. In 1970 word hy aangestel as die kanselier van die Universiteit van die Noorde.

Lees ook Eiselenlyn

Kategorie:Apartheid Kategorie:Geboortes in 1899 Kategorie:Sterftes in 1977 Kategorie:Antropoloë