Vliegtuie het verskillende nommers waarvolgens hulle geïdentifiseer kan word. Een nommer is ’n permanente nommer en verander nooit nie, terwyl ander nommers verander wanneer ’n vliegtuig verskillende identiteite gegee word.  “Reeksnommer” verwys na die volgnommers wat militêre magte aan hulle vliegtuie toeken, terwyl “konstruksienommer” (k/n of kon.-no. afgekort) verwys na die permanente nommer wat die vervaardiger aan ’n vliegtuig toeken. “Registrasienommer” verwys na die nommer wat deur ’n burgerlike vliegtuig gedra word. Die boek DC-1/DC-2/DC-3 onderskei tussen registrasie- en reeksnommers.

Die terme konstruksienommer, registrasienommer, reeksnommer en lynnommer Daar is ook ander terme vir “konstruksienommer”. In verskillende bronne word dit ’n reeksnommer genoem. Skyleaders onderskei byvoorbeeld tussen fabrieksreeksnommer, burgerlike registrasies en militêre reeksnommers. “Fabrieksreeksnommer” word in Douglas-dokumente gebruik en Skyleaders noem dat “konstruksienommer” oor die algemeen in die Verenigde Koninkryk gebruik word. In ander bronne word daar van ’n “vervaardiger se reeksnommer” gepraat. Bowers verwys byvoorbeeld na "reeksnommer" en noem dat dit oor die algemeen “konstruksienommer” of “k/n” deur vliegtuigentoesiaste genoem word om hierdie term van die militêre reeksnommer te onderskei.

Die wesenlike verskil tussen “konstruksienommer” (k/n) of “vervaardiger se reeksnommer” (“msn”) en “reeksnommer” is dat ’n k/n of ’n msn nie gedurende die leeftyd van ’n bepaalde lugraam verander nie. Die reeksnommer wat deur militêre magte uitgereik word, kan egter verander as ’n vliegtuig nadat dit verkoop is deur ’n ander land met ’n verskillende numeringstelsel gebruik word. Die terme “konstruksienommer” en “vervaardiger se reeksnommer” is goed gevestig en ewe geldige metodes om die nommer te omskryf wat gebruik word om ’n individuele lugraam te identifiseer. Vandag word  “vervaardiger se reeksnommer” by voorkeur deur Airbus en Boeing gebruik.

’n Ander term is vervaardigersnommer (“konstrukteursnommer”). Die boek DC-1/DC-2/DC-3 noem dat hierdie nommer gewoonlik deur die vervaardiger toegeken word namate vliegtuie gebou word.

Die term stertnommer word ook in plaas van registrasienommer gebruik en “stertnommer” word selfs vir militêre of regeringsdoeleindes gebruik.

Nog ’n term wat in die lugvaart gebruik word, is "lynnommer". Elke aanleg van ’n vervaardiger het lynnommers in volgorde toegeken vanaf 1 ensovoorts aan vliegtuie wat daar geproduseer is. So begin die volledige reeks lynnommers vir die Boeing 707/720-reeks vliegtuie byvoorbeeld by 1 en eindig by 1012. Dit sluit die Boeing 707-100, 707-200, 707-300, 707-400, al die Boeing 720’s en die Boeing EC-137, E-3A, E-3B, ensovoorts in, maar nie die Model C/KC-135 nie. Insluitende die C/KC-135, is 1832 vliegtuie gebou (insluitende 820 C/KC-135’s).

Een vliegtuig kan dus verskillende reeksnommers/registrasienommers hê, maar het net een konstruksienommrer. Die konstruksienommer 12107 verwys byvoorbeeld na die Douglas C-47A-1-DK met die indentiteitsrekord 42-92320 (USAAF), FZ572 (Britse Koninklike Lugmag), SALM 6821, ZS-BXF (SAL), SALM 6888 en ZS-BXF (SAL, SAL-museumvlug).

Beelde wat die gebruik van die terme konstruksienommer, registrasienommer, reeksnommer en lynnommer illustreer Die verskille tussen hierdie nommers word met behulp van foto's van die Vickers Viscount met die konstruksienommer 280, die Savannah MXP-70 met die registrasienommer ZU-DWX, die Raytheon Model 390 Premier I met die registrasienommer ZS-ABG en die Boeing 737-800 van Air Austral met die registrasienommer F-ONGB toegelig. Sien die fotogalery vir die foto's.

Die Vickers Viscount met die konstruksienommer 280 is ’n voorbeeld van een vliegtuig wat verskillende identiteite gehad het. Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) het ’n Viscount Reeks 781D vir BBP- en ander take gebruik. Hierdie skroefvliegtuig het aanvanklik die militêre reeksnommer 150 en later die burgerlike registrasienommer ZS-LPR gehad (op 17 Augustus 1984 as ZS-LPR op naam van die SALM-hoofkwartier geregistreer). Teen 25 Januarie 1992 het die vliegtuig die registrasenommer 9Q-CWL gehad. Alhoewel die reeksnommer van die masjien na ’n registrasienommer verander het en daardie registrasienommer na ’n ander registrasienommer verander het, het die konstruksienommer van die vliegtuig nooit verander nie.

Fotogalery

Verwysings