Die De Wet-huis in Tulbagh is ‘n voorbeeld van ‘n Kaaps-Hollandse woonhuis uit die vroeë 19de eeu.

Ligging Die huis is by Kerkstraat 36 en by die koördinate 33° 17′ 10″ suid en 19° 08′ 19″ oos.

Argitektuur Hierdie is die enigste dubbelverdiepinghuis in die straat. Dit lyk baie op die Koopmans-de Wet-huis in Kaapstad en die Grosvenor-huis op Stellenbosch. Omdat hierdie huis hoog op sy fondament staan, steek dit bo die ander huise in die straat uit. Dit het ‘n plat dak, ‘n treffende fasade, skerp omlyste pleisterwerk en ‘n hoë stoep met twee trappe.

Geskiedenis Dit is rondom 1812 gebou vir Catharina Margaretha Hugo, die weduwee van Jacobus de Wet, ‘n boer van die omgewing. Na 1822 het dit verskeie eienaars gehad en in die 1850’s was die landdroskantoor daarin gesetel. In 1949 was die huis in ‘n vervalle toestand. Deur die bemiddeling van dr. Mary Alexander Cook, ‘n kultuur-historikus en kurator van Swellendam, het Alfred Beit dit aangekoop en deeglik laat restoureer. Na die aardbewing van 1969 moes dit weer herstel word. Daarna is die huis gedoop tot Monbijou (my liefling). Reeds in 1954 is dit tot monument verklaar. Dit is nie vry toeganklik nie.

Bibliografie Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972 voicemap.me/tour/cape-winelands/church-street-in-historic-tulbagh/sites/monbijou

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika