thumb|400px|'n Ligkurwe vir ASASSN-15lh.
ASASSN-15lh (supernovanaam SN 2015L) was 'n uiters helder kortstondige astronomiese gebeurtenis wat ontdek is deur die All Sky Automated Survey for SuperNovae (ASAS-SN). Dit het gelyk soos 'n superhelder supernova, wat 10 keer of meer so helder soos 'n gewone supernova is. Dit is op 14 Junie 2015 die eerste keer gesien in 'n dowwe sterrestelsel in die suidelike sterrebeeld Indiër, en was die helderste supernova-agtige voorwerp wat nog waargeneem is.
Op sy hoogtepunt was ASASSN-15lh altesaam 570 miljard keer so helder soos die Son, en 20 keer so helder as die gekombineerde lig wat deur die Melkweg uitgestraal word.
Die aard van ASASSN-15lh word betwis. Die gewildste verduideliking is dat dit die helderste hipernova is wat nog waargeneem is, of 'n gety-uiteenskeuringsvoorval van 'n supermassiewe swartkolk met 'n massa van sowat 108 sonmassas.
Ander hipoteses sluit in 'n gravitasielens, 'n kwarknova in 'n Wolf-Rayetster of 'n vinnig roterende magnetar.
Ontdekking ’n Moontlike supernova is die eerste keer in Junie 2015 opgemerk deur twee 14 cm-teleskope in Chili. Die span het dit die naam ASASSN-15lh gegee. Dit het as ’n kortstondige ligpunt op ’n beeld verskyn en is met bykomende waarnemings vanaf ander teleskope bevestig. Die spektrum van ASASSN-15lh is deur nog 'n ander teleskoop verskaf. Die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) is gebruik om die rooiverskuiwing te meet, en gevolglik die afstand en ligkrag. Op 24 Julie het die voorval amptelik die supernovanaam SN 2015L gekry.
Later is gevind ander beelde van ASASSN-15lh is reeds op 8 Mei 2015 geneem. In dié stadium was die skynbare magnitude 17,4. Van 8 Mei af het die moontlike supernova helderder geword totdat dit op 5 Junie ’n maksimum helderheid van magnitude 16,9 bereik het. Teen September het die helderheid tot magnitude 18,2 afgeneem.
Eienskappe Op grond van sy rooiverskuiwing en ligging wat op die kern van ’n groot sterrestelsel geprojekteer is, word die afstand van ASASSN-15lh bereken op 3,8 miljard ligjare.
Op sy maksimum was sy absolute magnitude in die u-band . Dit het sowat 20 keer meer lig uitgestraal as die hele Melkweg, met ’n energievloed van 570 miljard keer dié van die Son. Krzysztof Stanek, een van die hoofondersoekers by ASAS-SN, het gesê: “As dit in ons eie sterrestelsel was, sou dit helderder as die volmaan geskyn het; daar sou geen nag gewees het nie, en dit sou maklik bedags sigbaar gewees het.”
Die temperatuur tydens sy maksimum ligkrag was 20 000 K, hoewel dit vroeër in die uitbarsting warmer was. Sowat 50 dae ná die piek het die temperatuur tot 11 000 K afgeneem en daarna betreklik konstant gebly. ASASSN-15lh se radius by sy maksimum helderheid was meer as 70 000 sonradiusse. Sy massa was 40 sonmassas.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Supernovas