Die Suikerbrug is 'n brug oor die Buffeljagsrivier was deel van die ou Kaapse wapad van Kaapstad na die oostelike dele van die Kaapkolonie. Die brug is in 1852 voltooi en het tot 1980 diens gedoen waarna dit gesluit is.

Ligging Die reste van die brug is by die nedersetting Buffeljagsrivier (oos van Swellendam) by 34° 2′ 44″ suid en 20° 32′ 6″ oos. Dit is langs die spoorbrug en die laagwaterbrug en net stroomop van die historiese plaas Rotterdam.

Brug 'n Brug was nodig omdat die pont nie meer die toenemende verkeer kon hanteer nie. Ingenieurs het die plek van die beoogde brug en die lengte daarvan bepaal. Met sy 100 m was dit op daardie tydstip die langste brug in die kolonie. Weens vertraging in die aflewering van die boumateriaal is eers in 1847 met die bouwerk begin.

Pilare Verskeie klippilare van rooi sandsteenblokke is op ‘n rotsformasie gebou. Die werk is begin deur die Royal Engineers en voltooi deur klipmesselaars wat in 1850 uit Engeland gekom het.

Wegdek As loopvlak is kiaathoutbalke gebruik. Toevallig het op 12 Februarie 1847 die Britse skip Robert in ‘n suidoosterstorm in Gordonsbaai vergaan. Dit was van Mawlamyine in Myanmar na Londen onderweg met ‘n vrag kiaat. Die hout is na Port Beaufort verskeep en van daar per ossewa na die bouperseel vervoer.

Naam Suiker is as ‘n vertragingsmiddel (gips en suiker) in die betonmengsel gebruik. Sement was op die tydstip onverkrygbaar. Die plaaslike inwoners was geamuseerd met die byvoeging van suiker tot die beton en het die brug tot die Suikerbrug gedoop.

Monument Buitengewone vloede in 1936 en in die 1980’s het al meer skade aan die pilare en kiaathoutblokke veroorsaaak. Op 6 Februaire 1989 is die Suikerbrug tot gedenkwaardigheid verklaar. In 2016 is die brug tweede geplaas op die lys van die tien mees bedreigde erfenisterreine in die land.

Lees ook Oude Post

Verwysings

Bronnelys Burrows, Edmund H.: Overberg Odyssey – People, Roads and Early Days. Swellendam: Swellendam Trust, 1994. Turner, Malcolm: Shipwrecks & Salvage in South Africa – 1505 to the present. Kaapstad: Struik, 1988. Victor, Wim: Buffeljagsrivier se Suikerbrug. In: SSK Wenakker. Desember 2025

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika