Die Tempel van Edfu is ’n Egiptiese tempel wat op die wesoewer van die Nyl in Edfu, Bo-Egipte, geleë is. Die stad was in die Hellenistiese tydperk in Koine bekend as Ἀπόλλωνος πόλις (Apollonos polis) en in Latyn as Apollonopolis Magna, na die hoofgod Horus, wat as Apollo geïdentifiseer is.David, Rosalie. Discovering Ancient Egypt, Facts on File, 1993. p. 99 Dit is een van die bes bewaarde heiligdomme in Egipte. Die tempel is in die Ptolemeïese Ryk tussen 237 en 57 v.C. gebou.

Die inskripsies teen sy mure verskaf belangrike inligting oor taal, mite en godsdiens tydens die Hellenistiese tydperk in Egipte. In die besonder “verskaf die tempel se gegraveerde boutekste besonderhede oor die konstruksie daarvan, en bewaar dit ook inligting oor die mitiese interpretasie van dié en alle ander tempels as die Eiland van Skepping”. Daar is ook “belangrike tonele en inskripsies van die Heilige Drama wat verband hou met die eeue oue konflik tussen Horus en Set”.

Geskiedenis thumb|links|240px|'n Skildery deur David Roberts van hoe die tempel in November 1838 gelyk het.

Edfu was een van verskeie tempels wat tydens die Ptolemeïese Ryk gebou is. Die omvang daarvan weerspieël die relatiewe welvaart van die tyd.Agnese, Giorgio and Maurizio Re. Ancient Egypt: Art and archaeology of the land of the pharaohs, 2004. p. 23 Die huidige tempel, wat op 23 Augustus 237 v.C. begin bou is, het aanvanklik bestaan uit ’n saal met pilare, twee dwarssale en ’n barkheiligdom omring deur kapelle.”Dieter Arnold, Nigel Strudwick & Sabine Gardiner, The Encyclopaedia of Ancient Egyptian Architecture, I.B. Tauris Publishers, 2003. p. 78 Die bouwerk is begin tydens die bewind van Ptolemeus III Euergetes en in 57 v.C. onder Ptolemeus XII Auletes voltooi. Dit is op die terrein van ’n vroeëre, kleiner tempel gebou wat ook aan Horus gewy was, hoewel die vorige struktuur oos-wes georiënteer was, eerder as noord-suid soos by die huidige terrein. ’n Verwoeste toring lê net oos van die huidige tempel; epigrafiese bewyse is gevind wat dui op ’n bouprogram onder Ramses I, Seti I en Ramses II, heersers van die Nuwe Ryk.

Oor die eeue heen is die tempel begrawe tot ’n diepte van 12 meter onder woestynsand en lae rivierslyk wat deur die Nyl afgeset is. Plaaslike inwoners het huise direk bo-op die voormalige tempelterrein gebou. Slegs die boonste dele van die tempeltorings was teen 1798 sigbaar, toe die tempel deur ’n Franse ekspedisie geïdentifiseer is. In 1860 het Auguste Mariette, ’n Franse Egiptoloog, begin om die tempel uit die sand te bevry.

Die Tempel van Edfu is byna ongeskonde en ’n goeie voorbeeld van ’n antieke Egiptiese tempel.David., op. cit., p. 99 Sy argeologiese betekenis en hoë mate van bewaring het dit ’n sentrum vir toerisme in Egipte gemaak en dit is ’n gereelde stilhouplek vir die vele rivierbote wat op die Nyl vaar. In 2005 is toegang tot die tempel opgeknap met die toevoeging van ’n besoekersentrum en ’n geplaveide parkeerterrein.

’n Beligtingstelsel is laat in 2006 bygevoeg om nagbesoeke moontlik te maak.

Skeppingsmite van die tempel Die skeppingsmite van die Tempel van Edfu bestaan uit verskeie verwante tonele wat hoofsaaklik aan die binnekant van die omringende mure van die tempel voorkom.

Hulle vertel die verhaal van die begin van die wêreld, toe dit nog heeltemal deur water bedek was. Tydens die stryd tussen land en oervloedwater het die land daarin geslaag om naby die oppervlak te kom. Waar dit gebeur het, het riete gegroei met die hulp van ’n valk, wat deur die gode Die Verre en Die Grote versterk is. Die riete was die kiemsel vir die Tempel van Edfu, en hier het Horus as ’n valk geland. ’n Krag het genader in die vorm van ’n voël en Horus, die heer van Edfu, gevoed; hierdie ritueel was die begin van die kultus van Edfu.

Die slangagtige Apofis het probeer om die skepping te belemmer. Horus het van vrees gebewe, maar ’n harpoen, een van die vorme van Ptah, het tot sy redding gekom. Die vyand is verslaan en die skepping het voortgegaan. ’n Valk het die hemelkoepel gevorm, met sy vlerke wat van horison tot horison strek, en die son het sy daaglikse siklus begin. Daarna is die eerste Tempel van Edfu deur die gode Thoth en Sesjat ontwerp, die een verantwoordelik vir wysheid en die ander vir skrif.

Die goddelike meesterbouer het die tempel volgens hierdie planne opgerig, maar aanvanklik van riet, nie van klip nie.

Die fondamentritueel van die tempel bestaan uit verskeie elemente: Eerstens is die grondplan uitgelê met die ritueel van die span-van-die-koord. Nadat die bouwerk voltooi is, het die koning die tempel aan ’n triade van gode oorhandig. Om die gebou teen eksterne bedreigings te beskerm, het 60 gode ’n lewende muur rondom die tempel gevorm.

Verwysings

Bronne

Oakes, Lorna and Lucia Gahlin. Ancient Egypt: An illustrated reference to the myths, religions, pyramids and temples of the land of the pharaohs. 2006. Kurth, Dieter. The Temple of Edfu. 2004. American University in Cairo Press. Émile Gaston Chassinat, Maxence de Rochemonteix, Le temple d'Edfou, 14 vols. (1892–1934).

Skakels

Kategorie:Geboue en strukture van Antieke Egipte