Call Me by Your Name is ’n romantiese grootworddrama van 2017 onder regie van Luca Guadagnino. Die draaiboek, deur James Ivory, wat ook as medevervaardiger opgetree het, is gebaseer op die roman met dieselfde naam van 2007 deur André Aciman. Die prent is die finale aflewering in Guadagnino se tematiese “Begeerte”-trilogie, ná I Am Love (2009) en A Bigger Splash (2015).
thumb|links|280px|Armie Hammer en Timothée Chalamet op die perskonferensie van Call Me by Your Name op die Berlynse Internasionale Rolprentfees. Call Me by Your Name speel af in 1983 in Noord-Italië en gaan oor die romantiese verhouding tussen die 17-jarige Elio Perlman (Timothée Chalamet) en Oliver (Armie Hammer), ’n 24-jarige nagraadse student en assistent van Elio se pa, Samuel (Michael Stuhlbarg), ’n professor in argeologie. Ook in die prent is Amira Casar, Esther Garrel en Victoire du Bois.
Ontwikkeling het in 2007 begin toe die vervaardigers Peter Spears en Howard Rosenman die regte op Aciman se roman verkry het. Ivory is aanvanklik gekies om saam met Guadagnino mederegie te doen, maar het in 2016 onttrek. Guadagnino het by die projek aangesluit as ’n liggingsverkenner en het uiteindelik die enigste regisseur en 'n medevervaardiger geword. Call Me by Your Name is deur verskeie internasionale maatskappye gefinansier. Die kinematograaf, Sayombhu Mukdeeprom, het 35 mm-film gebruik, eerder as digitale kinematografie.
Sony Pictures Classics het wêreldwye verspreidingsregte vir Call Me by Your Name verkry voor die première daarvan by die Sundance-rolprentfees op 22 Januarie 2017. Die prent het op 24 November 2017 ’n beperkte uitreiking in die VSA gehad en is op 19 Januarie 2018 algemeen uitgereik. Dit het wydverspreide lof ontvang, veral vir Ivory se draaiboek, Guadagnino se regie, Mukdeeprom se kinematografie en die vertolkings van Chalamet, Hammer en Stuhlbarg.
Die prent het verskeie toekennings ontvang, insluitend 'n paar vir sy draaiboek, regie, spel en musiek. Dit het vier benoemings op die 90ste Oscar-toekenningsaand gekry, insluitend vir beste rolprent en vir beste akteur vir die 22-jarige Chalamet (die derde jongste benoemde in die kategorie). Dit het die Oscar vir beste verwerkte draaiboek gewen, wat Ivory die oudste wenner van ’n mededingende Oscar in enige kategorie gemaak het. Die draaiboek het ook verskeie ander pryse gewen. Call Me by Your Name word tans beskou as een van die beste rolprente van die 21ste eeu.
Rolverdeling
Timothée Chalamet as Elio Perlman Armie Hammer as Oliver Michael Stuhlbarg as mnr. Perlman (geen voornaam) Amira Casar as Annella Perlman Esther Garrel as Marzia Victoire du Bois as Chiara Vanda Capriolo as Mafalda Antonio Rimoldi as Anchise Elena Bucci as Bambi Marco Sgrosso as Nico André Aciman as Mounir Peter Spears as Isaac Beppe Grillo as homself (argiefmateriaal)
Ontvangs Call Me by Your Name het $18,1 miljoen in die VSA en Kanada verdien, en $23,8 miljoen in ander lande, vir 'n wêreldywe totaal van $41,9 miljoen. Die begroting was $3,4 miljoen. Dit was die derde grootste verdiener van Sony Pictures Classics vir 2017.
Op sy première op die Sundance-rolprentfees het Call Me by Your Name 'n staande toejuiging gekry. Op die New Yorkse Rolprentfees het dit 'n applous van 10 minute gekry, die langste in die fees se geskiedenis.
Op Rotten Tomatoes was die goedkeuring 95% van 363 resensente, met 'n gemiddelde punt van 8,8/10. Die webtuiste se konsensus lui: "Call Me by Your Name bied 'n weemoedige, kragtig aangrypende uitbeelding van eerste liefde, empaties vertolk deur Timothée Chalamet en Armie Hammer." Op Metacritic het die prent 'n punt van 94 uit 100 gekry, gebaseer op 53 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" ontvangs.
In The Hollywood Reporter het Boyd van Hoeij die fliek beskryf as 'n "uiters sensuele … intieme en deurdringend eerlike verwerking van Aciman se roman". Hy het Chalamet se vertolking “die ware deurbraak van die prent” genoem. Peter Debruge van Variety het geskryf die prent“ brei die kanon van gay rolprente uit” deur ’n "verhaal van eerste liefde … uit te beeld wat uitstyg bo die selfdegeslagdinamika van sy sentrale paartjie”. Hy het Guadagnino se "sensuele" regie met dié van Pedro Almodóvar en François Ozon vergelyk en Call Me by Your Name "op gelyke voet met die beste van hulle werk geplaas". David Ehrlich van IndieWire het ook Guadagnino se regie geprys.
Sam Adams van die BBC het geskryf Stuhlbarg se spel "plaas 'n raam om die fliek se skildery en open weë wat ons dalk nie andersins sou verken nie, Hy noem dit een van sy beste optredes. David Morgan van CBS het die kinematografie, produksie-ontwerp en kostuums geprys, asook Stuhlbarg se karakter. Volgens Richard Lawson is Guadagnino se verwerking "gemaak met werklike liefde, met goeie bedoelings, reinheid van hart en doelgerigte, onpretensieuse intellek". Hy noem dit 'n "moderne gay klassieke prent" in sy resensie in Vanity Fair.
The Economist het gelet op die spanning "tussen pyn en plesier" en het Chalamet geprys deur te sê: "Hy roep so baie grade van menslikheid op en vertolk 'n pad van jeugdige selfontdekking wat rouer, omgekrapter en eindelik eerliker is as wat baie akteurs kan regkry."
Top-10-lyste Call Me By Your Name was op baie resensente se top-10-lys vir 2017.
1ste – Justin Chang, Los Angeles Times 1ste – Christy Lemire & Brian Tallerico, RogerEbert.com 1ste – Alonso Duralde, TheWrap 1ste – Jake Coyle, Associated Press 1ste – David Ehrlich, IndieWire 1ste – Joshua Rothkopf, Time Out New York 1ste – David Rooney, The Hollywood Reporter 2de – Todd McCarthy & Frank Scheck, The Hollywood Reporter 2de – Emily Yoshida & David Edelstein, New York Magazine 2de – Tim Grierson, Screen International 2de – Tomris Laffly, RogerEbert.com 2de – Rex Reed, New York Observer 3de – Peter Travers, Rolling Stone 3de – Katie Rife, The A.V. Club 3de – Richard Lawson, Vanity Fair 4de – Lindsay Bahr, Associated Press 4de – Bill Goodykoontz, Arizona Republic 4de – Peter Debruge, Variety 5de – Marlow Stern, The Daily Beast 6de – Stephanie Zacharek, Time 6de – Ann Hornaday, The Washington Post 6de – Mara Reinstein, Us Weekly 7de – Alissa Wilkinson, Vox 8ste – Owen Gleiberman, Variety 10de – Michael Phillips, Chicago Tribune 10de – A.A. Dowd & Ignatiy Vishnevetsky, The A.V. Club Top-10 (alfabeties gelys) – Peter Bradshaw, The Guardian Top-10 (alfabeties gelys) – John Powers, Vogue Top-10 (alfabeties gelys) – Dana Stevens, Slate Top-10 (alfabeties gelys) – Joe Morgenstern, The Wall Street Journal Top-10 (alfabeties gelys) – Kenneth Turan, Los Angeles TimesUitbeelding van ouderdomsgaping in 'n seksuele verhouding Die film se uitbeelding van ’n seksuele verhouding met ’n ouderdomsverskil tussen Elio en Oliver het kommentaar en kritiek ontlok, veral in die VSA waar die laagste wettige toestemmingsouderdom hoër is as in Italië. Elio is 17, en Chalamet was 20 ten tyde van die verfilming, terwyl die 24-jarige Oliver deur Hammer vertolk is, wat toe 30 was.
thumb|180px|Die destyds 20-jarige Chalamet se spel het wêreldwyd lof ingepalm. Die aanbieder van die TV-reeks Queer Eye, Karamo Brown, het die rolprent gekritiseer asof dit seksuele aanranding verheerlik en gesê: “dit lyk soos ’n volwasse man wat seks met ’n klein seun het.” Die skrywer Cheyenne Montgomery het gesê sy is ontstel daaroor dat een van die protagoniste as ’n seun en die ander as ’n man uitgebeeld word, en gesê: “Elio word baie duidelik as ’n kind uitgebeeld: Hy skeer dons van sy gesig af, soek troeteling by sy ouers en sy gesegdes is dikwels nogal bederf en kinderlik, en hy word vertolk as ’n sexy romantiese maat vir ’n karakter wat baie duidelik as ’n volwassene uitgebeeld word.”
Die geneesheer Renee Sorrentino en Jack Turban het in Psychiatric Times geskryf:
’n Rubriek in die LGBT-tydskrif The Advocate het die aandag gevestig op rolprente wat heteroseksuele verhoudings met soortgelyke of groter ouderdomsverskille uitbeeld, soos dié tussen die tiener Scarlett en die 33-jarige Rhett Butler in Gone with the Wind.
Pryse en benoemings Die National Board of Review en die American Film Institute het Call Me by Your Name as een van die top-10-rolprente van die jaar gekies. Op die 90ste Oscar-toekenningsaand is dit benoem vir beste prent, beste akteur (Chalamet), beste oorspronklike liedjie ("Mystery of Love") en beste verwerkte draaiboek (Ivory ), en het laasgenoemde gewen. Chalamet was die derde jongste akteur wat benoem is en die jongste sedert 1939, en Ivory die oudste wenner in enige mededingende kategorie.
Die prent het vier benoemings op die 71ste Bafta-toekenningsaand gekry, onder meer vir beste prent en beste regie. Dit het die prys vir beste verwerkte draaiboek (Ivory) gewen. Op die 75ste Golden Globe-toekenningsaand is dit benoem vir beste drama, beste akteur (Chalamet) en beste manlike byspeler (Hammer).
Die prent het agt Critics' Choice Awards-benoemings gekry en die prys vir beste verwerkte draaiboek gewen. Dit het ook ses benoemings (die meeste dié jaar) gekry vir die Independent Spirit Awards, en een vir 'n Screen Actors Guild Award. Dit het die GLAAD Media Award vir beste prent, wye uitreiking, gewen.
In 'n reeks oor die beste in rolprente in die 2010's het die webtuiste IndieWire Call Me by Your Name'' gekies as die 18de beste fliek van die dekade en Chalamet se toneelspel as die 39 beste.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Italiaanse rolprente Kategorie:Amerikaanse rolprente Kategorie:Franse rolprente Kategorie:Brasiliaanse rolprente Kategorie:LGBT-verwante rolprente