Enough Said is 'n Amerikaanse romantiese komediedramarolprent van 2013 wat deur Nicole Holofcener geskryf en geregisseer is. Die hoofakteurs sluit in Julia Louis-Dreyfus, James Gandolfini, Catherine Keener, Toni Collette en Ben Falcone. Louis-Dreyfus vertolk die rol van Eva, 'n geskeide masseuse wat 'n verhouding aanknoop met Albert (Gandolfini) en dan uitvind hy is die eksman van haar kliënt en vriendin Marianne (Keener).

Holofcener het die draaiboek geskryf wat deels deur haar eie lewe geïnspireer is nadat sy deur twee vervaardigers van Fox Searchlight Pictures genader is. Hulle het aangebied om haar volgende projek te vervaardig. Die fliek se begroting was $8 miljoen. Gandolfini is dood nadat die prent klaar geskiet, maar voordat dit uitgereik is; Holofcener het die prent aan hom opgedra.

Enough Said se première was op die Toronto- Internasionale Rolprentfees van 2013 en is uitgereik op 18 September 2013, wat Gandolfini se 52ste verjaarsdag sou wees. Dit was volgens Rotten Tomatoes die uitreiking van die jaar op die groot doek wat die beste resensies gekry het. Veral Louis-Dreyfus en Gandolfini se toneelspel is geprys, sowel as Holofcener se draaiboek. Die prent het verskeie benoemings vir groot pryse gekry, insluitend 'n Golden Globe for Louis-Dreyfus (haar eerste benoeming vir 'n rolprentrol), a Screen Actors Guild Award, twee Independent Spirit Awards en vier Critics' Choice Movie Awards.

Rolverdeling

Julia Louis-Dreyfus as Eva James Gandolfini as Albert Catherine Keener as Marianne Toni Collette as Sarah Tavi Gevinson as Chloe Ben Falcone as Will Tracey Fairaway as Ellen Eve Hewson as Tess Toby Huss as Peter Anjelah Johnson as Cathy Michaela Watkins as Hilary Amy Landecker as Debbie Jessica St. Clair as Cynthia Christopher Nicholas Smith as Hal Kathleen Rose Perkins as Fran Phillip Brock as Jason

Ontvangs Enough Said het positiewe resensies ontvang. Op Rotten Tomatoes het die prent ’n gradering van 95%, gebaseer op 190 resensies, met ’n gemiddelde punt van 7,7/10. Die webtuiste se konsensus lui: “Enough Said is ’n volwasse prent op die beste moontlike manier: skerpsinnig bekoorlik, foutloos vertolk en uiteindelik nogal bittersoet.” Metacritic het die prent ’n punt van 78 uit 100 gegee, gebaseer op 44 resensies, wat dui op “oor die algemeen 'n gunstige” ontvangs. Baie resensente het die prent ook onder hulle 10 bestes van die jaar gelys.

Die fliek is spesifiek geloof vir sy verbintenis tot realisme, sowel op die manier waarop Holofcener se karakters gesels as in die temas wat die prent behandel. In ’n resensie vir The New York Times het A.O. Scott beweer “dit is reël vir reël, toneel vir toneel, een van die bes geskrewe Amerikaanse rolprentkomedies in onlangse heugenis”. Kenneth Turan van die Los Angeles Times het gevoel Enough Said “toon Holofcener se gawe om die lewe uit te beeld soos dit geleef word”, terwyl David Denby in The New Yorker geskryf het dit “benader novelistiese rykdom”.

In The New York Times Book Review het Francine Prose lof gehad vir Holofcener omdat sy karakters geskryf het “met voldoende diepte en wysheid sodat … die akteurs nooit soos filmsterre lyk wat mense naboots nie. Hulle verdwyn eerder in die kwesbare en selftwyfelende karakters wat hulle vertolk, sonder ’n sweem van die verwaande ydelheid wat so dikwels veroorsaak dat rolprentvertonings geforseerd en oppervlakkig voorkom.”

Talle resensente het ook Gandolfini en Louis-Dreyfus se vertolkings geloof. Ann Hornaday van The Washington Post het geskryf Gandolfini het “uitstekende sensitiwiteit en ontblote kwesbaarheid” na sy uitbeelding van Albert gebring, terwyl Indiewire se Eric Kohn gevoel het Gandolfini kom “werklik tot bloei" in die prent. In The Wall Street Journal het Joe Morgenstern Gandolfini se vertolking eweneens as “wonderlik” en “gegrond in gemoedelike menslikheid” beskryf, en Louis-Dreyfus as “eweredig innemend” beskou. Ty Burr van The Boston Globe het geskryf Gandolfini het “’n vertolking van enorme teerheid en sjarme” gelewer, “so innemend as wat dit hartverskeurend is”, en het van Louis-Dreyfus gesê: “Holofcener bring ’n kwesbaarheid na vore wat jy dalk vergeet het in hierdie aktrise was.”

In ’n negatiewe resensie vir die San Francisco Chronicle het Mick LaSalle geskryf hy vind Eva en Albert se romantiese koppeling onwaarskynlik en, met die kennis dat Gandolfini ná die maak van die prent oorlede is, is die verwysings na Albert se vetsug “ongemaklik en makaber en glad nie genotvol nie”.

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse rolprente