Segue 2 is 'n elliptiese dwergsterrestelsel in die Ram wat deur die Digitale Sloan-lugopname ontdek is. Dit is sowat 114 000 ligjare van die Son af geleë en beweeg teen 'n snelheid van sowat 40 km/s in die rigting van die Son.

Die naam kom van die feit dat dit deur die SEGUE-program (die Sloan Extension for Galactic Understanding and Exploration) ontdek is.

Eienskappe Segue 2 is een van die kleinste en dofste satelliete van die Melkweg – dit is sowat 800 keer so helder soos die Son, wat minder as die helderheid van baie bolswerms is.

Die sterrestelsel bestaan hoofsaaklik uit ou sterre wat meer as 12 miljard jaar gelede gevorm het. Die metaalinhoud van sulke sterre is baie laag (Fe/H < -2), wat beteken hulle bevat minstens 100 keer minder metale as die Son. Die sterre van Segue 2 was moontlik onder die eerstes wat in die heelal gevorm het. Daar is tans geen stervorming meer in die stelsel nie.

Segue 2 is naby die kant van die Sagittarius-stroom gelë en is ewe ver van die Son af. Dit was dalk eens 'n satelliet of bolswerm van die Sagittarius- Elliptiese Dwergsterrestelsel.

Sien ook Lys van Melkweg se satelliet-sterrestelsels

Verwysings

Skakels

Kategorie:Ram (sterrebeeld) Kategorie:Melkweg Kategorie:Dwergsterrestelsels