Good Will Hunting is 'n Amerikaanse rolprent van 1997 wat deur Gus van Sant geregisseer en deur Ben Affleck en Matt Damon geskryf is. Die hoofakteurs is Robin Williams, Damon, Affleck, Stellan Skarsgård en Minnie Driver. Die verhaal gaan oor die skoonmaker Will Hunting, wie se wiskundige genialiteit deur 'n professor ontdek word.

Die prent, wat $10 miljoen gekos het, het baie lof van resensente ontvang en meer as $225 miljoen gemaak. Op die 70ste Oscar-toekenningsaand is dit in nege kategorieë benoem, onder meer vir beste prent en beste regisseur. Dit het twee gewen: vir beste manlike byspeler vir Williams en beste oorspronklike draaiboek vir Affleck en Damon.

In 2014 was Good Will Hunting nommer 53 op The Hollywood Reporter se lys van 100 gunstelingrolprente.

Rolverdeling Robin Williams as dr. Sean Maguire, 'n terapeut en sielkundeprofessor Matt Damon as Will Hunting, 'n 20-jarige selfgeleerde wiskundige genie en 'n skoonmaker by die Massachusetts-instituut vir Tegnologie (MIT) Ben Affleck as Chuckie Sullivan, 'n konstruksieweker en Will se getroue vriend van sy kinderjare af Stellan Skarsgård as professor Gerald Lambeau, 'n pryswennende wiskundeprofessor by MIT wat Will ontdek Minnie Driver as Skylar, 'n ryk Britse student en Will se liefde

Ook in die rolverdeling is Casey Affleck en Cole Hauser as Will se vriende Morgan O'Mally en Billy McBride onderskeidelik; die werklike wiskundige John Mighton as Lambeau se assistant, Tom; en die rolprentregisseur Harmony Korine en kunstenaar Francesco Clemente in kameeverskynings as Herve, 'n gevangene wat Will in die tronk sien, en 'n hipnoterapeut onderskeidelik. thumb|links|130px|Robin Williams thumb|links|130px|Stellan Skarsgård thumb|links|130px|Minnie Driver

Storielyn

Nadat hy op parool vrygelaat is, werk die selfgeleerde wiskundige genie Will Hunting van Suid-Boston as 'n skoonmaker by die Massachusetts-instituut vir Tegnologie (MIT). Hy bestee sy vrye tyd om saam met sy vriende Chuckie, Billy en Morgan te drink. By die werk los hy anoniem 'n ingewikkelde wiskundeprobleem op wat professor Gerald Lambeau as 'n uitdaging vir sy studente op 'n swartbord neergeskryf het.

Later raak Will en sy vriende in 'n skermutseling betrokke met 'n bende, wat die boelie uit Will se kinderdae insluit. Toe die polisie opdaag, word Will in hegtenis geneem omdat hy 'n polisieman aangeval het. Lambeau laat 'n nog ingewikkelder probleem op die swartbord om die vreemdeling uit te daag, en vang Will uit terwyl hy die oplossing op die bord skryf. In 'n kroeg ontmoet Will vir Skylar, 'n student wat op die punt is om aan Harvard te gradueer en planne het om na die mediese skool van die Universiteit van Stanford te gaan.

Intussen vind Lambeau uit Will is deur 'n program vir gevangenes op parool by MIT geplaas. Hy reël dat Will uit die tronk kan bly, op voorwaarde dat hy wiskunde onder sy toesig studeer en sessies met 'n sielkundige bywoon. Will stem in, maar tart sy sielkundiges uit. 'n Desperate Lambeau kontak dr. Sean Maguire, sy kamermaat op universiteit, wat sielkunde aan 'n ander universiteit doseer. Anders as die ander sielkundiges, daag Sean Will se verdedigingsmeganismes uit. Will begin met Skylar uitgaan, maar jok oor sy verlede.

Will besluit om Skylar aan sy vriende bekend te stel. Lambeau reël verskeie werkonderhoude vir Will, maar hy maak 'n bespotting van die onderhoudvoerders. Nadat Will Skylar se aanbod van die hand wys om saam met haar na Kalifornië te verhuis, sê sy hy is bang, en hy vertel vir haar van sy verlede as 'n weeskind en hoe sy aanneempa hom mishandel het. Will beëindig hulle verhouding. Sean konfronteer Will oor sy vrese, en sê hy moet eerlik wees oor wat hy in die lewe wil hê.

Will hoor Sean en Lambeau oor sy potensiaal stry. Volgens Sean kan Lambeau Will se toekoms verongeluk deur te veel druk op hom uit te oefen. Lambeau gaan weg, en Sean en Will praat oor albei se ondervindings as slagoffers van kindermishandeling. Sean help Will aanvaar die mishandeling wat hy ondergaan het, is nie sy skuld nie deur dit oor en oor te herhaal. Will bars in trane uit.

Will aanvaar een van die aanbiedinge wat Lambeau vir hom gereël het. Vir sy verjaardag koop sy vriende vir hom 'n motor sodat hy werk toe kan ry. Will ry later in die motor weg. Hy laat 'n nota vir Sean dat hy vir Lambeau moet sê hy het na sy meisie gaan soek.

Vervaardiging Skryfwerk Die akteurs en draaiboekskrywers Ben Affleck en Matt Damon het op hulle tuisdorp in Massachusetts ontmoet en op onderskeidelik agt- en 10-jarige ouderdom vriende geword. Jare later het Damon Good Will Hunting begin skryf as 'n finale taak vir 'n skryfklas aan Harvard. Hy het die universiteit verlaat nadat hy 'n rol in die prent Geronimo: An American Legend van 1993 gekry het en Affleck in Los Angeles besoek. Hy het die draaiboek saamgebring. Damon het Affleck se inset gevra, en dit het gelei tot die twee se lang samewerking aan Good Will Hunting. Affleck en Damon is geïnspireer om aan die draaiboek te werk danksy die regisseur Quentin Tarantino se suksesverhaal met die vervaardiging van sy 1992-prent Reservoir Dogs, wat geskep is al was Taratino 'n winkelklerk.

In Los Angeles het die twee klein rolle in prente en advertensies losgeslaan om aan die lewe te bly terwyl hulle sonder sukses probeer het om 'n indruk op die rolprentbedryf te maak. Affleck en Damon het hulle familie en vriende se lewens as inspirasie vir die draaiboek gebruik: Affleck se pa en sy meisie van destyds het as skoonmakers by Harvard gewerk, Affleck en Damon het in die somer op konstruksieterreine gewerk, en van hulle ouers se agtergrond is in die prent gebruik.

Finansiering Die twee het die draaiboek in 1994 voltooi en dit aan hulle agent, Patrick Whitesell, gegee, wat daarvan gehou het. Whitesell het egter gedink dit sou feitlik onmoontlik wees om 'n ateljee te kry wat bereid sou wees om 'n prent te vervaardig waarin twee onbekende akteurs speel wat ook die draaiboek geskryf het. Affleck en Damon het nog nie 'n titel of 'n naam vir die hoofkarakter gehad nie. Die twee het toe 'n draaiboek met die titel Good Will Hunting gelees wat deur hulle skoolvriend Derrick Bridgeman geskryf is en hom $10 000 aangebied om die titel te gebruik as hulle hulle draaiboek verkoop sou kry. Bridgeman verskyn in die fliek as 'n student in een van Lambeau se klasse. Inligting oor die draaiboek het onder uitvoerende beamptes versprei, en Affleck en Damon het Castle Rock Entertainment se aanbod van $600 000 in November 1994 aanvaar op aanbeveling van die regisseur Richard Linklater, saam met wie Affleck in 1993 aan die prent Dazed and Confused gewerk het.

Op aanbeveling van ander kenners het Affleck en Damon die draaiboek feitlik heeltemal oorgeskryf en gekonsentreer op die verhouding tussen Will en Sean. Castle Rock het hulle gevra om die draaiboek verskeie kere oor te skryf en wou nie hê hulle moes by die vervaardiging betrokke wees nie. Eindelik het hulle die twee gevra om binne 30 dae 'n ander maatskappy te kry wat die draaiboek vir $1 miljoen sou koop.

Affleck het Kevin Smith gevra om dit te vervaardig vir Miramax Films. Dié het nie kans gesien nie, maar dit onder die aandag van Miramax se stigter, Harvey Weinstein, gebring. Weinstein het daarvan gehou en Good Will Hunting vir $1 miljoen van Castle Rock gekoop. Hy het Affleck en Damon die hoofrolle in die fliek gegee.

Voorproduksie Smith, as uitvoerande vervaardiger, wou hê Affleck en Damon moet Good Will Hunting regisseer, maar die ateljee het geweier. Affleck en Damon het die regisseur Gus van Sant voorgestel omdat hulle sy werk bewonder het. Miramax het die draaiboek na Van Sant gestuur, maar ook aan ander regisseurs, onder andere Michael Mann. Dié het geweier om die prent te regisseer omdat hy nog nie van Affleck en Damon gehoor het nie. Die twee het saam met Mel Gibson aan die ontwikkeling begin werk, maar Gibson se uitgerekte vervaardiging het meegebring dat die twee hom gevra het om te onttrek, want hulle was bang hulle sou eindelik te oud wees om die rolle te vertolk. Nadat Gibson ingestem het, het Miramax die prent amptelik aan Van Sant gebied, maar teen 'n kwart van die prys wat hy wou hê. Van Sant het gehuiwer om saam met Weinstein te werk, want hy het by Tarantino van sy humeur gehoor. Van Sant en Weinstein het oor sekere aspekte begin argumenteer en die vervaardiging is stopgesit.

Die akteur Robin Williams se belangstelling in die rolprent het daartoe gelei dat dit eindelik vervaardig is. Hy het sy rol vergelyk met sy rol in Dead Poets Society. Williams het sy prys van sowat $20 miljoen per rolprent verlaag na $5 miljoen. Hy het egter in sy kontrak laat insluit dat hy 20% van die prent se verdienste sou kry as die bruto inkomste $60 miljoen oorskry, met die persentasie wat groei namate die bruto inkomste toeneem. Miramax het nie geglo die prent sou soveel verdien nie en het ingestem. Van Sant is eindelik as regisseur aangestel.

Verfilming Die verfilming het op 14 April 1997 begin en nege weke geduur. Affleck en Damon het Van Sant toegelaat om die ontwikkeling van die verhaal oor te neem en besluit om op toneelspel te fokus. Van Sant se proses het ingesluit om met die akteurs te oefen, ’n onopsigtelike plek te vind om die kamera te plaas en lang tonele te verfilm sonder om in te meng, om vertolkings en interaksies te verkry wat volgens Damon ’n "oomblik-tot-oomblik-eerlikheid" oorgedra het. Van Sant het probeer om die akteurs tegemoet te kom: Damon het dikwels net een probeerslag vir 'n skoot nodig gehad, Affleck het daarvan gehou om die tonele ’n paar keer oor te skiet en Williams het ’n minimum van sewe probeerslae nodig gehad om tevrede te voel, aangesien hy weergawes wou hê wat op verskillende emosies gefokus het. Verskeie akteurs het Van Sant se metode waardeer: Damon het gevoel dat sy toneelspelproses deur die regisseur "gevoed" is, Skarsgård het gesê hy het "die akteurs ruimte gegee om te groei" en Williams het gedink die proses is "maklik". Williams het dikwels reëls op stel geïmproviseer, met een van sy byvoegings wat die laaste reël van Good Will Hunting was: "Son of a bitch stole my line".

Die verfilming van die binnenshuise tonele het in Toronto plaasgevind en van die buitenshuise tonele in die Groter Boston-gebied. In Boston het Affleck en sy broer saam met Damon en Hauser in dieselfde woonstel gebly en dikwels saam met Driver uitgehang. Van Sant het inwoners van Boston in klein rolle geplaas en die rol van regter Malone gegee aan Jimmy Flynn, ’n lid van die Winter Hill-bende wat voorheen vir moord verhoor en vrygespreek is in dieselfde hofsaal van die Bostonse munisipale hof se Suid-Bostonse afdeling waar die prent geskiet is.

Die bemarkingspan van Miramax wou verskeie kettingrestaurante as stelle gebruik, maar Affleck en Damon het unieke Boston-liggings soos The Tasty en Kelly's Roast Beef bevorder. Die Harvard-administrasie het aanvanklik geweier om die die span toe te laat om op kampus te verfilm, maar het ingestem nadat die akteur en Harvard-alumnus John Lithgow vir hulle in die bres getree het, wat die span toegelaat het om tonele voor Dunster- en Lowell-huis te skiet. Die Bostonse polisiekantoor het sekuriteit vir die span verskaf terwyl Damon en Williams ’n toneel in die Bostonse Openbare Tuin verfilm het, wat meer as 3 000 toeskouers gelok het. Die film eindig met Will wat op die Massachusetts Turnpike wegry.

Uitreiking In rolprentteaters thumb|240px|Die Bruinteater in 2006.