Good Grief is 'n Amerikaanse komediedrama van 2023 wat as debuut deur Daniel Levy geskryf en geregisseer is. Die rolverdeling sluit in Levy, Ruth Negga, Himesh Patel, Celia Imrie, David Bradley, Arnaud Valois en Luke Evans. Dit gaan oor Marc, wat oor die dood van sy man rou, en sy twee beste vriende wat hom help op sy pad van verdriet en aanvaarding.
Good Grief het op 29 Desember 2023 'n beperkte uitreiking in die VSA gehad voordat Netflix dit op 5 Januarie 2024 begin stroom het.
Hoofkarakters Daniel Levy as Marc Ruth Negga as Sophie Himesh Patel as Thomas Luke Evans as Oliver Celia Imrie as Imelda Arnaud Valois as Theo Mehdi Baki as Luca
Storielyn
Marc het 'n Kerspartytjie in Londen saam met vriende en Oliver, sy man van baie jare. Oliver verlaat die partytjie vroeg vir 'n boekbekendstelling in Parys en sterf net sekondes later in 'n motorongeluk.
In die volgende jaar help sy beste vriende, Sophie en Thomas, hom om sy verdriet te verwerk. Marc maak egter 'n jaar ná Oliver se dood 'n kaartjie van hom oop waarin hy sê het het iemand anders ontmoet. Marc vind ook uit sy man het in die geheim 'n woonstel in Parys gehad.
Marc bring Sophie en Thomas saam met hom na Parys, maar hou die onthulling 'n geheim sodat hulle hulle vakansie kan geniet. Marc bring ook tyd deur saam met Theo, 'n Fransman wat hy vroeër op 'n uitstalling in Londen ontmoet het.
Marc erken teenoor Theo sy woede oor Oliver se geheime maak dat hy nie genoeg kan rou nie. Hy erken ook hy het ophou skilder ná die dood van sy ma, en hy is bekommerd daaroor dat hy nie genoeg oor Oliver rou nie, nes hy nie genoeg oor sy ma gerou het nie. Theo bring Marc na die Claude Monet-kamer in die Musée de l'Orangerie en verduidelik dat Monet dié skilderye ná die dood van sy gesin geskilder het, en hulle soen mekaar.
Die volgende oggend kom 'n man die woonstel binne en stel hom as Luca van Berlyn voor. Hy het Oliver se kunsbeurs gewen en toe nader aan hom gegroei. Dit lei daartoe dat Marc eindelik die waarheid oor hulle reis vertel. Sophie erken sy het 'n probleem om haar aan iemand te verbind en Thomas erken sy vrees dat hy nooit "die een" vir sy kêrels sal wees nie. Sophie en Thomas keer daarna terug na Londen. Luca vra Marc verskoning en vertel vir hom dat Oliver nie van plan was om hom te verlaat nie. Marc sien Theo vir die laaste keer.
Nadat Marc teruggekeer het huis toe, besluit hy om die huis wat hy met Oliver gedeel het te verkoop en weer te begin skilder. Die volgende Kersfees is Sophie verloof aan Terrance en Thomas stel sy nuwe kêrel aan Marc voor. Marc se skilderye, onder andere van hom en sy vriende, word in 'n ateljee uitgestal terwyl Marc eindelik op 'n plek van aanvaarding is.
Ontvangs Op Rotten Tomatoes is 76% van 37 resensies positief en is die gemiddelde punt 5,6/10. Op Metacritic het die fliek 'n punt van 59 uit 100 gekry, gebaseer op 19 resensies, wat dui op 'n "gemengde of gemidelde" ontvangs.
Peter Debruge van die tydskrif Variety gee 'n positiewe resensie en skryf: "Levy het ’n emosionele verhaal geskep wat sterk genoeg is om die dwarsklappe van ’n ironiese generasie te weerstaan, ’n generasie wat gekondisioneer is om na opregtheid te kap. Dit verg durf om ware gevoelens ten toon te stel, veral nadat daar vir kykers met 'n sarkastiese ingesteldheid soveel ammunisie gegee is.". David Rooney skryf in The Hollywood Reporter 'n diepte van gevoel word gesuggereer wat in die skryfwerk, en dus ook in die vertolkings, ontbreek. "Die draaiboek is gevoelig maar nooit werklik indringend nie, en die prent se intimiteit voel meer opgevoer as deurleef."
Brian Tallerico van RogerEbert.com gee dit 2 uit 4 en sê: "Levy het 'n sterk persoonlikheid op die skerm – hy is 'n besonder natuurlike karakter van wie 'n mens hou – maar hy sukkel 'n bietjie om sy stem as skrywer en regisseur te vind met Good Grief". Tim Robey van The Daily Telegraph het die prent 3 uit 5 gegee.
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente Kategorie:LGBT-verwante rolprente