Gerard Piqué Bernabéu (gebore 2 Februarie 1987) is ’n Spaanse voormalige professionele sokkerspeler wat as sentrale verdediger gespeel het. Hy word beskou as een van die grootste verdedigers van sy generasie en is een van die mees bekroonde spelers ooit, met 37 trofeë.

Aanvanklik was hy ’n talentvolle student-atleet by La Masia, FC Barcelona se jeugakademie, en hy het sy professionele loopbaan in 2004 by Manchester United begin. In 2008 het hy na Barcelona teruggekeer en die klub gehelp om driekronings in 2008/09 en 2014/15 te wen. Hy het in 616 mededingende wedstryde vir die klub verskyn en 31 groot klubtitels verower, insluitend nege La Liga-titels en drie Champions League-titels.

Piqué het ook 102 keer vir die Spaanse nasionale span uitgedraf en sy debuut op 11 Februarie 2009 gemaak. Hy het ’n sleutelrol gespeel in die Spaanse spanne wat die Wêreldbekertoernooi in 2010 en Europese Sokkerkampioenskap in 2012 gewen het. Ná die Wêreldbekertoernooi in 2018 het hy uit internasionale sokker getree.

Van 2011 tot 2022 was Piqué in ’n verhouding met die Colombiaanse sangeres Shakira. Hulle het mekaar ontmoet toe hy in die musiekvideo vir haar enkelsnit "Waka Waka (This Time for Africa)" verskyn het, die amptelike lied van die 2010 FIFA Wêreldbeker. Piqué en Shakira deel dieselfde verjaardag, tien jaar uit mekaar. Hulle het saam twee seuns, genaamd Milan en Sasha.

In 2022 het hy die Kings League gestig, ’n sewe-teen-sewe sokkerformaat.

Verwysings

Kategorie:Spaanse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1987 Kategorie:Lewende mense