Glass Onion (met die subtitel A Knives Out Mystery) is ’n Amerikaanse raaiselrolprent van 2022 wat deur Rian Johnson geskryf en geregisseer is. Dit is ’n selfstandige opvolgprent van Knives Out van 2019 en die tweede aflewering in die Knives Out-rolprentreeks. Daniel Craig keer in Glass Onion terug as die baasspeurder Benoit Blanc terwyl hy ’n nuwe saak aanpak wat gaan om die tegnologiemiljardêr Miles Bron (vertolk deur Edward Norton) en sy naaste vriende.
Die ensemblerolverdeling sluit ook in Janelle Monáe, Kathryn Hahn, Leslie Odom jr., Jessica Henwick, Madelyn Cline, Kate Hudson en Dave Bautista.
Johnson het verskeie rolprente met die Benoit Blanc-karakter oorweeg voor die uitreiking van die eerste prent. ’n Opvolg is in 2020 deur die oorspronklike verspreider, Lionsgate, goedgekeur, maar in Maart 2021 het Netflix die regte op twee Knives Out-opvolgprente gekoop. Verfilming het in Junie en Julie 2021 op die Griekse eiland Spetses plaasgevind, en is tot September in Belgrado voortgesit.
Ná sy wêreldpremière op die rolprentfes in Toronto op 10 September 2022 het Glass Onion op 23 November 2022 ’n beperkte vertoning van 'n week gehad voordat Netflix dit op 23 Desember begin stroom het. Soos sy voorganger, het die prent lof van resensente ontvang, met Johnson se draaiboek en regie, die spel van die akteurs en die musiek wat geprys is; hoewel sommige dit as minderwaardig aan die eerste prent beskou het. Die Amerikaanse National Board of Review het Glass Onion as een van sy toptienprente van 2022 aangewys.
Die rolprent is vir 'n Oscar benoem en het verskeie ander ander pryse gewen. ’n Derde Knives Out-prent, Wake Up Dead Man, is op 26 November 2025 in teaters uitgereik.
Rolverdeling Daniel Craig as Benoit Blanc, 'n privaat speurder Edward Norton as Miles Bron, 'n milardêr en die eienaar van Alpha, 'n groot tegnologiemaatskappy Janelle Monáe as: Andi Brand, 'n medestigter van Alpha en Miles se oudsakevennoot Helen Brand, Andi se identiese tweelingsuster, 'n laerskoolonderwyseres van Alabama Kathryn Hahn as Claire Debella, die goewerneur van Connecticut wat nou 'n kandidaat vir die Amerikaanse Senaat is Leslie Odom jr. as Lionel Toussaint, die hoofwetenskaplike vir Miles se maatskappy Kate Hudson as Birdie Jay, 'n hedonistiese, polities inkorrekte voormalige supermodel, nou 'n modeontwerper in New York Dave Bautista as Duke Cody, 'n aanlyn videospeletjie-stromer en mansregteaktivis Jessica Henwick as Peg, Birdie se assistent Madelyn Cline as Whiskey, Duke se meisie
Storielyn thumb|200px|Leonardo da Vinci se skildery Mona Lisa uit die vroeë 16de eeu speel 'n belangrike rol in die storielyn.
In Mei 2020 tydens die covid-19-pandemie hou Miles Bron, die medestigter van die tegnologiemaatskappy Alpha, ’n moordraaiselspeletjie by die Glass Onion, sy herehuis op ’n privaat eiland in Griekeland. Hy stuur uitnodigings met ingewikkelde legkaartbokse aan sy vriendekring, onder andere Andi, wat van die res vervreem is.
Die vriende reis na Miles se eiland. Die bekende speurder Benoit Blanc sluit by hulle aan en beweer Miles het hom genooi; by sy aankoms sê Miles egter privaat aan hom dat ’n ander gas hom waarskynlik as ’n grap genooi het, maar hy laat hom bly. Voor aandete spog Miles met sy glasbeeldhouwerke en die Mona Lisa, wat hy by die Louvre geleen het. Hy onthul ook dat die herehuis aangedryf word deur Klear, ’n waterstofgebaseerde alternatiewe brandstof wat Alpha binnekort gaan verkoop, ondanks die wete dat dit gevaarlik onstabiel is.
Blanc los Miles se moordraaiselspeletjie onmiddellik op en waarsku hom privaat al sy vriende het motiewe om hom te vermoor. Ná ’n argument met die res van die groep storm Andi weg. 'n Vriend, Duke, sterf skielik nadat hy uit Miles se glas gedrink het, en die paniekerige groep vermoed Andi het probeer om Miles te vergiftig. Iemand bel die polisie, maar hulle kan eers die volgende oggend opdaag. Nadat die groep ontdek Duke se pistool is weg, vind ’n kragonderbreking plaas wat die groep laat uitmekaarspat. Blanc vind Andi, maar ’n onsigbare aanvaller skiet haar. Blanc bring die groep weg van die liggaam bymekaar en kondig aan dat hy Andi se moord opgelos het.
In ’n uitgebreide terugflits word gewys Andi het in werklikheid ’n week tevore gesterf, skynbaar deur selfmoord, en dat haar tweelingsuster, Helen, Blanc gehuur het om ondersoek in te stel. Andi het Alpha se ontwikkeling van Klear gestaak weens kommer oor veiligheid, en Miles het haar afgedank. Andi het Miles gedagvaar, maar verloor nadat die ander vriende hulleself aan meineed skuldig gemaak het deur te getuig Miles, en nie Andi nie, het die oorspronklike plan vir Alpha op ’n servet geteken. Kort voor haar dood het Andi aan die groep ’n foto per e-pos gestuur wat wys dat sy die oorspronklike servet het waarop sy die plan geteken het. Helen het vermoed een van die vriende het Andi vermoor en die servet gesteel om Miles en hulleself te beskerm. Omdat Andi se dood nog nie openbare kennis was nie, het Blanc Helen oorreed om haar as Andi by Miles se partytjie voor te doen en hom met die ondersoek te help.
Helen vind uit elkeen van Miles se vriende het Andi se huis besoek op die dag dat sy gesterf het. Helen deursoek die gaste se kamers, maar kry nie die servet nie. Toe Helen geskiet word, keer Andi se joernaal in haar baadjiesak die koeël. Met die ander vriende wat glo sy is dood, deursoek sy Miles se kantoor.
Blanc lei af Miles het vir Andi en Duke vermoor, nadat hy die moontlikheid vroeër verwerp het omdat hy Miles se intelligensie oorskat het. Miles het Andi 'n noodlottige oordosis gegee nadat hy uitgevind het sy het die servet, maar Duke het hom sien wegry van Andi se huis af. Tydens die partytjie sien Duke ’n nuusberig oor Andi se dood en, toe hy besef dat Miles verantwoordelik was, probeer hy hom afpers. Miles vergiftig Duke toe met pynappelsap, waarvoor hy allergies is, en neem Duke se pistool om Helen te skiet.
Helen vind Andi se servet in Miles se kantoor en onthul haar identiteit aan die groep. Miles verbrand die servet en vernietig daarmee die bewys, en sy vriende weier om teen hom te getuig. Blanc sê vir Helen hy het alles gedoen wat hy kon en gaan buitentoe. In ’n woedebui slaan Helen Miles se glasbeeldhouwerke stukkend. Sy steek ’n vreugdevuur aan en gooi ’n stuk Klear in die vuur, wat ’n ontploffing veroorsaak wat die herehuis en die Mona Lisa vernietig, en finaal bewys dit is gevaarlik. Die hele vriendekring besluit toe om teen Miles te getuig.
Ontvangs Op Rotten Tomatoes was 91% van 434 resensies positief. Die konsensus lui: "Glass Onion bring Benoit Blanc terug vir nóg ’n uiters vermaaklike raaisel, afgerond deur ’n uitstekende ensemble-rolverdeling." Op Metacritic het dit 'n punt van 81 uit 10 gekry, gebaseer op 62 resensies, wat dui op "algemene byval".
Variety se Owen Gleiberman het die film geprys as ’n "groter, pronkeriger, selfs nog ingewikkelder veelfasetraaisel” as die eerste prent. Christy Lemire van RogerEbert.com het die prent 3 uit 4 sterre gegee en geskryf: “Die slim besonderhede, amusante naamverwysings en presies gemikte steke teen die leë roemkultuur hou Johnson se rolprent rats wanneer dit dreig om te sloer.” Peter Bradshaw van The Guardian het dit 4 uit 5 sterre gegee en gesê: “Glass Onion is nooit minder as vermaaklik nie, met sy opeenvolging van A-lys- en A-plus-lys-kameë wat oral opduik.”
Die rolprent se karakters en intrige is vergelyk met hedendaagse sakemagnate. Calder McHugh van Politico het die prent beskryf as ’n "allegorie vir ons almal wat leef met die alomteenwoordige Elon Musk, Donald Trump en Jeff Bezos”, terwyl James Downie van MSNBC beweer het Norton se karakter Miles Bron se “mengsel van grootpratery, hoogmoed en halfgebakte idees sal waarskynlik die Twitter-eienaar en deeltydse motorgeesdriftige Elon Musk in herinnering roep.”
Oor die prent se relevansie tot die oorname van Twitter in 2022 deur Elon Musk, het Rian Johnson opgemerk: “’n Vriend van my het gesê: ‘Man, dit voel of dit vanmiddag geskryf is.’ En dit is maar net ’n verskriklike, verskriklike toeval, weet jy?”
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente