Die Marloth-natuurreservaat is ‘n beskermde natuurgebied aan die suidelike hellings van die Langeberge.
Ligging Hierdie bergagtige gebied lê by Swellendam rondom 33° 57′ 65″ suid en 20° 23′ 31″ oos, aan die oostekant van die Overberg en die westelike punt van die Tuinroete.
Reservaat Die gebied is nagenoeg 300 km² groot, waarvan die helfte in privaat besit is, maar as ‘n geheel deur die Wes-Kaapse natuurbewaringsowerheid bestuur word. Dit omsluit die Tienuurkop op 1195 m en die Twaalfuurkop op 1428 m bo seespieël. Daar is aangeduide voetslaanpaaie van 5 tot 80 km lank van ‘n wisselende moeilikheidsgraad, bergfietsroetes, oornaggeriewe, perdrypaadjies en piekniekterreine.
Flora en fauna Die terrein is die tuiste van die bergfynbos. Reeds 25 ericaspesies is al aangeteken. Geelhout, stinkhout, assegaai (boom), kershout en die hardepeer groei hier welig. Kleiner wildsoorte is hier volop: die vaalribbok, grysbok, bosbok, bosvark, ystervark, klipspringer, duiker, bobbejaan, muishond en die meerkat. Reeds 114 voëlspesies is waargeneem. Luiperde kan teengekom word.
Stigting Die park het in 1928 begin op aandrag van Hermann Wilhelm Rudolf Marloth. In 1981 is dit aansienlik vergroot en toe is die eerste voetslaanroetes geopen. Sedert 2015 is dit deel van ‘n groter wêrelderfenisgebied.
Lees ook Bergfynbos en -renosterveld Kaapse floraryk Lys van Erica-spesies Marlothpark Wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika
Bronnelys https://www.capenature.co.za/reserves/marloth-nature-reserve/ https://www.capenature.co.za/uploads/files/Reserves/CapeNature-Marloth-2025.pdf https://www.capenature.co.za/uploads/files/v2-Marloth-Infosheet-DEC_2022.pdf
Kategorie:Natuurreservate in die Wes-Kaap Kategorie:Wêrelderfenisgebiede