Paolo Cesare Maldini (gebore 26 Junie 1968) is ’n Italiaanse sokkerbestuurder en voormalige professionele sokkerspeler wat as ’n linkervleuelverdediger of as ’n middelverdediger vir AC Milan en die Italiaanse nasionale span gespeel het. Hy word wyd beskou as een van die grootste verdedigers van alle tye. As kaptein van Milan en Italië vir baie jare het hy die bynaam “Il Capitano” gekry. Maldini het die rekord vir wedstryd-optredes in Serie A (647) gehou totdat hy in 2020 deur Gianluigi Buffon verbygesteek is. Hy deel ook die rekord vir meeste Europese Beker/Kampioeneliga-eindstryd-verskynings (8) saam met Paco Gento. Van 2018 tot 2023 het hy by AC Milan as sportdirekteur gewerk en hy is ’n mede-eienaar van die USL-Championship-klub Miami FC.
Maldini het al 25 seisoene van sy spelersloopbaan in Serie A by Milan deurgebring en in 2009 op die ouderdom van 41 afgetree. Hy het 26 trofeë met Milan gewen: die Europese Beker/UEFA Champions League vyf keer, sewe Serie A-titels, een Coppa Italia, vyf Supercoppa Italiana-titels, vyf UEFA Superbekers, twee Interkontinentale Bekers en een FIFA-Klubwêreldbeker. Maldini het op die ouderdom van 39 die Beste Verdediger-toekenning by die UEFA Club Football Awards gewen, asook die Serie A Verdediger van die Jaar-toekenning in 2004. Ná sy uittrede het Milan sy nommer 3-trui uit diens gestel.
Maldini het in 1988 sy debuut vir Italië gemaak en vir 14 jaar gespeel voordat hy in 2002 afgetree het met 7 doele en 126 caps. Hy het die rekord vir meeste wedstryd-optredes vir Italië gehou totdat hy deur Fabio Cannavaro en Gianluigi Buffon verbygesteek is. Maldini was vir agt jaar Italië se kaptein en het die rekord vir meeste verskynings as Italië se kaptein (75) gehou totdat hy weer deur Cannavaro en Buffon oortref is. Met Italië het Maldini aan vier FIFA-Wêreldbekers en drie Europeese Kampioenskappe deelgeneem. Hoewel hy nooit ’n toernooi gewen het nie, het hy die eindstryd van die 1994-Wêreldbeker en Euro 2000, asook die halfeindstryd van die 1990-Wêreldbeker en Euro 1988 bereik. Hy is in die sterre-span vir al hierdie toernooie opgeneem.
Maldini het in 1995 tweede geëindig agter George Weah in die stemming vir FIFA-Wêreldspeler van die Jaar. Hy het ook derde geëindig in die Ballon d’Or-ranglys in 1994 en 2003. In 2002 is hy in die FIFA-Wêreldbeker-Droomspan opgeneem. In 2004 het Pelé hom op die FIFA 100-lys van die wêreld se grootste lewende spelers geplaas. Hy is 21ste gerangskik in World Soccer-tydskrif se lys van die 100 grootste spelers van die 20ste eeu. Hy is ook in die Ballon d’Or-Droomspan van 2020 ingesluit. Maldini het die rekord vir meeste verskynings in UEFA-klubkompetisies gehou, met 174, totdat hy in 2017 deur Iker Casillas verbygegaan is. Hy hou die rekord vir meeste verskynings vir Milan (902) en is een van die min spelers wat meer as 1 000 professionele wedstryde in sy loopbaan gespeel het. In Desember 2012 is hy in die Italiaanse Sokker-Eregalery opgeneem
Verwysings
Kategorie:Italiaanse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1968 Kategorie:Lewende mense