Zonocerus elegans is 'n algemene spesie van die Pyrgomorphidae, oftewel spitskopsprinkane. Dit is inheems aan Madagaskar en savanne van die sub-Sahara, alhoewel oorwegend suid van die ewenaar. Die spesie het kenmerkend trae bewegings, en by meeste individue is die vlerke onderontwikkeld. Volwassenes is sowat 3 tot 5 cm lank, met mannetjies wat kleiner as wyfies is. Hul lewensiklus val met die plaaslike reënvalsiklus saam. Dit is een van twee spesies in die genus Zonocerus, wat albei berug is vir skade aan landbougewasse.
Beskrywing Die kop is oorwegend swart en die oë oranje, met die antennae wat tussen die oë geplaas is. Die antennae is oranje en swart geband, soos hul generiese naam suggereer. Die skild (pronotum) is olyfkleurig, en die agterlyf (abdomen) is in kontrasterende kleure geband. Sommige het wel lang voorvlerke (tegmina) en agtervlerke en kan vlieg. Selfs hierdie grootvlerkige vorme is egter onbekwame vlieërs.Lecoq, M., Hemp, C. 2019. Elegant Grasshopper. [in] Encyclopedia of Pest Orthoptera of the World, 250-253. Lecoq, M. en Zhang, L. Sc. Ed., China Agricultural University Press, Beijing. , 311 bladsye Die bont nimfe vorm samedrommings.
Gewoontes Dit is oorwegend 'n savannespesie wat digte woud en woestyn vermy. Dit is 'n pes van verskeie gewasse, veral dié onder besproeiing. Geaffekteerde gewasse sluit uie, marôg (Amaranthus), kasjoeneute, pynappels, sitrus, koffie, taro, pampoene, geelwortels, jam, sonneblomme, patats, kassawa, piesangs, tabak en avokado in. Aan inheemse plante van die Asclepias-, Senecio- en Solanum-genera word ook voorkeur gegee, benewens die paraffienbos, 'n indringerplant. Struike kan volkome ontblaar word, en kassawa kan ontbas word. Hulle kan 'n aanstootlike, skuimende vloeistof uit 'n rugklier afskei, en dié vermoë word deur hul aposematiese kleure geadverteer. Die spesie word veral deur pirrolisidien-alkaloïede in plante aangetrek.Chiffaud, J., Mestre, J. 1990. « Le criquet puant Zonocerus variegatys (Linné, 1758) ». Essai de synthèse bibliographique. CIRAD, 138 bladsye, (lees aanlyn)
Subspesies Z. elegans omvat die volgende twee subspesies: Zonocerus elegans angolensis Kevan, 1972 — suidwestelike Angola Zonocerus elegans elegans (Thunberg, 1815) — res van Afrika en Madagaskar
Verwysings
Eksterne skakels
Kategorie:Spitskopsprinkane Kategorie:Peste