Rustenburg is die geskiedkundige huis in Kaapstad waarin die verdrag van oorgawe tussen die VOC en die Britse invalsmag in 1795 geteken is, en tans die Laer Meisieskool Rustenburg gevestig is.

Ligging Die hoë wit gebou in die neoklassieke styl is op die noordelike hoek van die aansluiting van Rustenburglaan by Hoofweg in Rondebosch. Dit is by die koördinate 33° 57′ 31″ suid en 18° 28′ 12″ oos.

Geskiedenis Reeds in 1657 het Jan van Riebeeck hier ‘n vrugteboord aangelê en ‘n huis vir die tuinier laat bou, want hier was dit beskut teen die suidoostewinde van die somer. Later was die huis tot 1751 die somerverblyf vir die goewerneurs. Op 30 November 1671 is goew. Pieter Hackius hier oorlede. Besoekers is hier gehuisves en onthaal, soos byvoorbeeld in 1686 Portugese drenkelinge en later die uit Java verbanne rajah van Tambera. Simon van der Stel het in September 1683 hier gaan woon en slegs die landgoed op Sondae verlaat om die kerk te besoek en deur die week slegs as belangrike sake by die Kasteel dit vereis het. Hy laat tuine aanlê met wingerde en akkerbome. Die huis het toe ‘n boverdieping en pilare gekry. Na Van der Stel se tyd is die huis min gebruik en het dit verwaarloos. Na die eerste Britse verowering van die Kaap in 1795 het die oorgaweonderhandleinge in hierdie huis plaasgevind tussen Abraham Josias Sluysken van die VOC en die Britse militêre aanvoerders James Henry Craig en George Keith Elphinstone. Die akte van oorgawe is hier op 16 September geteken. Van 1798 tot 1801 is die huis bewoon deur goew. Francis Dundas. Daarna kom die huis in privaat besit. In 1803 is Johannes Hoets die eienaar en laat 4 Ioniese pilare aan die voorkant aanbring. ‘n Brand in 1859 vernietig verskeie herehuise in Rondebosch. Die huis Rustenburg ly ook aansienlike skade. C.J. Rhodes laat die huis met die hulp van Herbert Baker in 1894 restoureer Die Kaapse skoolraad wil in 1939 die gebou sloop, maar die Historiese Monumentekommissie verhoed dit deur dit in 1941 tot monument te verklaar.

Uitsigkoepel Hierdie unieke uitsigtorinkie, ‘n belvédère, op die terrein van die oorspronklike Rustenburg-landgoed bied ‘n uitsig oor groot dele van die stad. Dit lê by 33° 57′ 27″ suid, 18° 27′ 50″ oos, teen Rhodesrylaan en aan die bopunt van Japonica-wandellaan. ‘n Halwe agthoek vorm die vloer. Pilare staan op die hoeke en trappe lei na die dak. Dit is omstreeks 1760 deur die VOC gebou en in 1940 amper gesloop. Ook dit is later deur Herbert Baker opgeknap. Hierdie uitsigpunt en die wandellaan vorm die hoofas waarom die kampus van die Universiteit van Kaapstad ontwikkel het.

Bibliografie https://artefacts.co.za/main/Buildings/bldgframes.php?bldgid=191 Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004.  Oberholster, J.J.: Die historiese monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972

Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Geboue en strukture in Kaapstad