Lis Lange (22 Mei 1961 – 8 Oktober 2025) was ‘n Suid-Afrikaanse akademikus met as navorsingsfokusareas, filosofie en politiek van onderwys, veral transformasie, kurrikulum, pedagogiek en hoëronderwyshervorming. Lange is in Argentinië gebore en was 'n permanente inwoner van Suid-Afrika.
Lewensloop Lange het in 1984 'n BA(Hons) in geskiedenis aan die Universiteit van Buenos Aires verwerf, in 1988 'n MA in Afrika-studies aan El Colegio de Mexico, en in 1998 'n PhD in geskiedenis aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy was ‘n dosent in die geskiedenis van Afrika aan die Universiteit van Buenos Aires van 1988 tot 1990. Tussen1993-1994 was sy ook ‘n dosent aan die Khanya Kollege in Johannesburg.
Lange was van 2006 tot 2010 'n uitvoerende direkteur vir die Komitee vir Hoër Onderwyskwaliteit in die Raad vir Hoër Onderwys (CHE) en was van 2007 tot 2008 waarnemende uitvoerende hoof van die CHE. Gedurende haar diens in die CHE het sy befondsing vir navorsingsprojekte oor hoër onderwys van die volgende internasionale befondsers verkry: Fulbright, Nuffic, Carnegie Corporation en Ford Foundation.
Lange het die Institusionele en Akademiese Beplanning en Navorsing-afdeling gelei aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en 'n kritiese en bewysgebaseerde benadering tot die universiteit se akademiese beplanningsprosesse daargestel. Daarna het sy van 2014 tot 2018 as Viserektor (Akademies) aan die UV gedien, waar sy instrumenteel was in die bevordering van onderrig- en leerinisiatiewe en akademiese vernuwing in die post-samesmeltingsera.
In Februarie 2018 het Lange by die Universiteit Kaapstad (UK) aangesluit as adjunk-visekanselier vir Onderrig en Leer, waar sy intellektuele en strategiese leierskap gebied het in die vorming van die universiteit se onderrig- en leervisie. Haar portefeulje het toesig oor kurrikulumtransformasie, gehalteversekering en akademiese beplanning ingesluit, asook ondersteuning vir dekane en direkteure regoor die UK se fakulteite en akademiese eenhede. Sy was 'n leidende stem in besprekings oor die dekolonisering van die kurrikulum en het die hoëronderwyssektor aangespoor om verder as toegang te beweeg en na epistemiese geregtigheid en inklusiwiteit in kennisproduksie.
Na haar ampstermyn by die UK is sy (middel 2023) as Spesiale Adviseur oor Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch aangestel, met die taak om by te dra tot akademiese vernuwing.
Evaluasie Haar intellektuele bydrae het veel verder as Suid-Afrika gestrek. Sy het op internasionale rade en komitees gedien, insluitend die Internasionale Netwerk van Gehalteversekeringsagentskappe in Hoër Onderwys (INQAAHE) en UNESCO se Internasionale Instituut vir Onderwysbeplanning (IIEP), waar sy bygedra het tot globale dialoë oor bestuur, gehalte en transformasie in hoër onderwys. Lange was ook 'n gesogte hoofspreker, bekend vir haar deurdagte refleksies oor burgerskap, vryheid en die doel van die universiteit in die hedendaagse samelewing.
Verwysings
Kategorie:Suid-Afrikaanse akademici Kategorie:Geboortes in 1961 Kategorie:Sterftes in 2025