Die Smutshuis is die geboortehuis van J.C. Smuts op die plaas Bovenplaats naby Riebeek-Wes in die distrik Swartland van die provinsie Wes-Kaap, Suid-Afrika.
Plaas Bovenplaats is die hoogliggende deel van die plaas Ongegund en dit lê net noord van die dorp. Sedert 1946 is dit die eiendom van die firma Pretoria Portland Cement. Michiel Smuts het die plaas in 1813 gekoop. Dit was toe nog die tradisionele 60 morg eiendomsplasie uit die VOC-tydperk. Met die toeken van bykomende grond in 1818 en 1831 onder die erfpagstelsel is die plaas tot 1700 morg vergroot en 'n uitstekende koring- en wingerdplaas. Michiel Smuts bemaak die plaas aan sy 5 seuns. Een van hulle was Michiel Nicolaas Smuts en sy seun was Jacobus Abraham Smuts, 'n lid vir Malmesbury in die Kaapkolonie se parlement. Hierdie politikus was J.C. Smuts se pa en hy het na alle waarskynlikheid die huis gebou.
Huis Die jonkershuis waarin J.C. Smuts gebore is en tot op sy 8ste jaar gewoon het, is in 1986 onder leiding van Gawie Fagan gerestoureer. Hierdie witgekalkte huisie met sy rietdak en mis- en plankvloere bestaan uit 'n voorkamer, 'n hoofslaapkamer, 'n klein slaapkamertjie, 'n kombuis met 'n bakoond, spens en pakkamer. 'n Buitetrap lei na die solder. Heelwat oorspronklike meubels is opgespoor en is in die huisie te besigtig. Op die werf is die voormanshuisie, die skoolkamer, die hoenderhok, waenhuise, melkstal en smidswinkel almal opgeknap.
Monument Die RGN het reeds in 1955 'n bronsplaat aan die huis aangebring om aandag op die historiese belang daarvan te vestig. In 1975 is dit tot gedenkwaardigheid verklaar.
Sien ook Die Groothuis in Irene, Tvl, wat ook as Smutshuis bekend staan.
Bronnelys Botha, Amanda: Die restourasie van die Smutshuis. In: Suid-Afrikaanse Panorama. Deel 33, nr. 8, Augustus 1988. ISSN 0491-4783
Verwysings
Kategorie:Monumente en gedenkwaardighede in Suid-Afrika Kategorie:Jan Smuts