Musgrave is ‘n Suid-Afrikaanse geweermakersfabriek gevestig in Ermelo. Die firma lê hom toe op die produksie van jag- en skyfskietgewere.
In 1919 het Ben Musgrave as stokperdjie gewere begin maak. Ben was ‘n bekende Springbokskut en laat sy seun Trevor in Londen as ‘n wapensmid oplei. Trevor open in 1953 ‘n fabriek buite Bloemfontein waar hy geweerlope sny. Hierdie lope raak gewild in die plesierskietsekor in Suid-Afrika en selfs in die buiteland.
Die vervaardiging van Musgrave se jag- en sportgewere is nie gemik op massaproduksie nie. Daar is ‘n vaste produksiereeks van verskillende kalibers, maar daar word ook voorsien in die smaak en behoeftes van die individuele skut. Okkerneuthout, sierlike houtsneewerk aan die kolf en graveerwerk en metaalinleg in die loop is beskikbaar. ‘n Geweer van 22-kaliber was die eerste in sy soort in die land wat vir regs- en linkshandige skuts ontwerp is. Musgrave het ‘n Mauser-gedenkreeks van 10 pronkgewere in opdrag van die Oorlogmuseum in Bloemfontein vervaardig wat veldslae uit die Tweede Vryheidsoorlog in herinnering roep. Enkeles hiervan het goudinlegwerk. In 1970 is die eerste in sy geheel in Suid-Afrika ontwerpte en uit plaaslike grondstowwe vervaardigde jaggeweeer, die Musgrave-Vrystaat, bemark.
Krygkor het in 1971 die fabriek oorgeneem. Mettertyd was dit onder beheer van Denel. In 1996 het die handelsnaam Musgrave verdwyn en is die fabriek in Bloemfontein gelsuit, maar in 2009 het die naam herleef in ‘n nuwe maatskappy in Ermelo.
Bibliografie Goosen, Helena: Lê aan met Musgrave. In: Suid-Afrikaanse Panorama. Deel 33, nr. 8, Augustus 1988. ISSN 0491-4783 musgraverifles.co.za
Kategorie:Vuurwapens