Die glukemiese lading (GL) van voedsel is ’n getal wat raam hoeveel 'n kossoort ’n persoon se bloedsuikervlak sal verhoog nadat dit geëet is. Een eenheid glukemiese lading benader die effek van die eet van een gram glukose. Glukemiese lading neem in ag hoeveel koolhidraat in die voedsel is en hoeveel elke gram koolhidraat in die voedsel die bloedsuikervlakke verhoog. Glukemiese lading is gebaseer op die glukemiese indeks (GI), en word bereken deur die massa beskikbare koolhidrate in die voedsel (in gram) te vermenigvuldig met die voedsel se glukemiese indeks, en dan deur 100 te deel.
Beskrywing Glukemiese lading skat die impak van koolhidraatinname deur gebruik te maak van die glukemiese indeks, terwyl dit terselfdertyd die hoeveelheid koolhidrate wat in ’n porsie geëet word, in ag neem. Waatlemoen het byvoorbeeld ’n hoë GI, maar ’n tipiese porsie waatlemoen bevat nie baie koolhidrate nie en dus is die glukemiese lading daarvan laag. Terwyl glukemiese indeks vir elke soort voedsel gedefinieer word, kan glukemiese lading bereken word vir enige porsiegrootte van ’n voedsel, ’n hele maaltyd of selfs al die dag se maaltye.
Die glukemiese lading van ’n porsie voedsel van 100 g kan bereken word as die koolhidraatinhoud gemeet in gram (g), vermenigvuldig met die voedsel se GI, en gedeel deur 100. Waatlemoen het byvoorbeeld ’n GI van 72. ’n Porsie van 100 g waatlemoen het 5 g beskikbare koolhidrate (dit bevat baie water), wat die berekening maak (5 × 72)/100=3,6; dus is die GL 3,6. ’n Voedsel met ’n GI van 90 en 8 g beskikbare koolhidrate het ’n GL van 7,2 (8 × 90/100=7,2), terwyl ’n voedsel met ’n GI van net 6 en met 120 g koolhidrate ook ’n GL van 7,2 het (120 × 6/100=7,2).
Vir een porsie voedsel word ’n GL van 20 of meer as hoog beskou, ’n GL van 11-19 as medium en ’n GL van 10 of minder as laag. Voedsel wat ’n lae GL in ’n tipiese porsiegrootte het, het byna altyd ’n lae GI. Voedsel met ’n intermediêre of hoë GL in ’n tipiese porsiegrootte wissel van baie lae tot baie hoë GI.
’n Studie in 2007 het die waarde daarvan om glukemiese lading as basis vir gewigsverliesprogramme te gebruik, bevraagteken. Das et al. het ’n studie gedoen op 36 gesonde, oorgewig volwassenes, met ’n toets om die doeltreffendheid van twee diëte te meet: een met ’n hoë GL en een met ’n lae GL. Die studie het bevind daar is geen statisties beduidende verskil tussen die uitkomste van die twee diëte nie.
Glukemiese lading blyk ’n belangrike faktor te wees in dieetprogramme wat gemik is op metaboliese sindroom, insulienweerstandigheid en gewigsverlies. Studies het getoon aanhoudende pieke in bloedsuiker- en insulienvlakke kan lei tot ’n verhoogde risiko van diabetes. Die Shanghai-vrouegesondheidstudie het bevind vroue wie se dieet die hoogste glukemiese indeks gehad het, was 21 persent meer geneig om tipe 2-diabetes te ontwikkel as dié met diëte met die laagste glukemiese indeks. Soortgelyke bevindings is gerapporteer in die Black Women's Health Study. ’n Dieetprogram wat die glukemiese lading bestuur, mik daarop om aanhoudende bloedsuikerpieke te vermy en kan help om die aanvang van tipe 2-diabetes te voorkom.
Die data oor GI en GL wat in hierdie artikel gelys word, kom uit die GI-databasis van die Universiteit van Sydney (menslikevoedingseenheid).
Die GI is in 1981 uitgevind deur drr. Thomas Wolever en David Jenkins van die Universiteit van Toronto en is ’n maatstaf van hoe vinnig ’n voedsel wat 25 of 50 g koolhidrate bevat, bloedsuikervlakke verhoog. Omdat sommige kossoorte gewoonlik ’n lae koolhidraatinhoud het, het Harvard-navorsers die GL geskep, wat die hoeveelheid koolhidrate in ’n gegewe porsie van ’n voedsel in ag neem en dus ’n nuttiger maatstaf is. Liu et al. was die eerstes om te wys dat, gebaseer op hul berekening, die glukemiese lading van ’n spesifieke voedsel – bereken as die produk van daardie voedsel se koolhidraatinhoud en sy glukemiese-indekswaarde – ’n direkte fisiologiese betekenis het in dié sin dat elke eenheid geïnterpreteer kan word as die ekwivalent van 1 g koolhidraat van witbrood (of glukose, afhangend van die verwysing wat gebruik is in die bepaling van die glukemiese indeks).
Dit het onmiddellik duidelik geword dat sodanige direkte fisiologiese kwantifisering van glukemiese lading pasiënte met diabetes sou toelaat om 'n "glukemieselading"-telling te gebruik in plaas van die konvensionele "koolhidraattelling" vir die monitering van die glukemiese effek van voedsel. Die konsep van glukemiese lading los die probleem op van die beoordeling van voedsel as goed of sleg uitsluitlik op grond van hul glukemiese indeks. Hoewel die glukemiese indeks vir rou wortels 19 en gaar wortels 47 is, is die glukemiese lading van een porsie wortels klein omdat die hoeveelheid koolhidrate in een porsie wortels minimaal is (≈7 g koolhidrate). Trouens, ≈700 g wortels (wat 50 g koolhidrate verskaf) moet geëet word om ’n inkrementele glukosereaksie van brood (50-95) te produseer. (Bron: )
Lys kossoorte en hulle GL vir 'n porsie van 100 g Alle numeriese waardes in die tabel is by benadering. Let wel: 'n Porsie van 100 g is dalk nie verteenwoordigend van 'n tipiese porsiegrootte nie. 'n Tipiese rysporsie sal byvoorbeeld 150-200 g wees, met 'n ooreenstemmende toename in GL, terwyl 'n piesang meer as 100 g kan wees.
Kossoort Glukemiese indeks Koolhidraat-inhoud(g) Glukemiese lading (100 g-porsie) InsulienindeksBaguette, wit, gewoon (hoog)—Piesang, gemiddelde van 10 studies (laag) - 55 ± (laag-med.)2010-11 ± 1 ± 4Kool (laag)<—Wortels, gem. van 4 studies (laag)<—Mielietortilla (laag)—Aartappel, gem. van 5 studies50 (laag) - 99 ± 25 (hoog) ± 585 ± 8Rys, wit, gekook, gem. van 12 studies25 Berekening geskoei op Miller, 1992 ± 10 - 55 ± 8 - 67 ± 15Waatlemoen (hoog)<—AppelAppelkoos
Sien ook Glukemiese indeks Insulienindeks
Verwysings
Skakels
Kategorie:Endokrinologie