Otto Friedrich Mentzel (*Berlyn, 26 Februarie 1709 - †Neustädtel, Benede-Silesië, tans deel van Pole, 8 Augustus 1801), was ‘n VOC-amptenaar en reisiger in en beskrywer van toestande aan die Kaap tussen 1733 en 1741.

Lewensloop Otto Mentzel arriveer op 5 Julie 1733 as soldaat aan die Kaap. In 1734 word hy aan die ryk boer Paulus Keyser as kneg en onderwyser uitgeleen, maar is in 1736 weer soldaat. Die jaar daarop tot 1740 is hy die klerk by die VOC se houtmagasyn en terselfdertyd onderrig hy die kinders van R.S. Allemann en die seun van goew. Jan de la Fontaine. Hy reis baie rond en in die tyd aan die Kaap woon hy ook 2 jaar buite die nedersetting. Die 32-jarige Mentzel is op 2 Januarie 1741 onbepland terug na Europa toe hy ‘n brief op die rede gaan aflewer het. ‘n Onverwagse storm het hom op die retoerskip die Hartenlust vasgekeer en slaap die nag op die skip oor. In die nag besluit die kaptein om te vertrek voor die weer verder versleg. Na ‘n jaar in Amsterdam gaan Mentzel terug na Silesië, eers as slodaat en later is hy daar staatsamptenaar. Hy het nooit na die Kaap teruggekeer nie.

Sy boeke Meer as 40 jaar na sy terugkeer na sy geboorteland gee hy in sy boeke Lebensgeschichte Herrn Rudolph Siegfried Allemann en Vollständige .... geographische en topographische Beschreibung des afrikanischen Vorgebirges der Guten Hoffnung ‘n uitvoerige beskrywing van sy indrukke van en ervaringe in die Kaap. Vir historici is die boeke dus ‘n waardevolle bron oor die destydse toestande aan die Kaap. Hierdie boeke is later in ‘n Engelse vertaling deur die Van Riebeeck-Vereniging heruitgegee.

Inhoud Hierdie skerpsinnige Duitser lewer in sy boeke kommentaar oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe. Hy raak bevriend met die inwoners van die land. Nie net met die VOC-amptenare nie, maar hy leer ook die Khoikhoi, San, Vryburgers en die Franse Hugenote ken. Die oplettende reisiger sien die topografie, flora en fauna raak. Hy het ooglopend ‘n hoë dunk van die VOC-amptenare se vroue met hul mooi gesigte, gelaatskleur en wakker oë. Volgens hom het die vroue meer verstand as die mans. Ook beskryf hy hul kleredrag. Mentzel vertel van die drankwinkels, die kroeë, die biljarttafel, tabak, pype en van Constantia-wyn. ‘n Half eeu na die koms van die Franse Hugenote reis hy deur die Drakensteinvallei. Hy beskryf die area rondom Franschhoek as die beste deel van die Kaap weens die buitengewone grondvrugbaarheid. Die Parade was destyds bloot veld, maar die pad wat daaroor geloop het, was so swak dat waens soms vasgeval het en mense beseer is. Op ‘n besoek aan die bopunt van Tafelberg moes hy en sy maats op lastige bobbejane skiet om hulle te verdryf. Verder lewer hy kommentaar oor sake soos die vuurwapens wat aan die Kaap gebruik is, oor die soutpanne in die omgewing, die gehalte van die Nederlands wat die platttelandse bevolking gepraat het, die goeie behandeling van die slawe, die drinkwatervoorsiening aan die inwoners en aan die skepe in die baai, die oordrewe statusgevoel onder die VOC-amptenare en hul luukse onthale, die aantal personeellede by die skeepswerf, die salarisse van en korrupsie deur die amptenare, die toestande by die hospitaal, die boere se agting vir hul bywoners, en die koste van ‘n graf. Verder sê hy dat die bemanning en passasiers van ‘n skip wat aankom dikwels weens o.a. skeurbuik meer dood as lewend was, maar danksy die Kaapse vars en voedsame kos weer gou herstel het.

Persoon Rudolph Siegfried Allemann (*Neuendorf, Duitsland, 1692 - †Kaapstad, 22 Julie 1762), VOC-soldaat

Bronnelys de Wet, Con en Leon Hattingh en Jan Visagie: Die VOC aan die Kaap, 1652-1795. Pretoria: Protea, 2016. Green, Lawrence G.: Beyond the city lights. The Story of the Western Province – the Towns and the Farms, the Life and the People, the Folklore and the Legends. Kaapstad: Howard Timmins, 1957 (lees Howard Benson Timmins) Green, Lawrence G.: Tavern of the Seas. Kaapstad: Howard B. Timmins, ongedateerd (lees Laurie Green)

Kategorie:Geskiedenis van Suid-Afrika