Inventing Anna is 'n Amerikaanse misdaaddramaminireeks vir televisie wat deur Shonda Rhimes geskryf en geskoei is op die verhaal van Anna Sorokin en die artikel in die tydskrif New York met die titel "How Anna Delvey Tricked New York's Party People" deur Jessica Pressler.

Die minireeks is deur Shondaland vervaardig en Netflix het dit op 11 Februarie 2022 uitgereik. Die naamrol word deur Julia Garner vertolk. Resensente het die toneelspel geprys (veral Garner s'n), maar die inkonsekwente toon gekritiseer.

Storielyn Onder die vals naam Anna Delvey infiltreer die Russies gebore Anna Sorokin New York se ryk gemeenskap deur hulle daarvan te oortuig dat sy 'n Duitse sosiale vlinder en die erfgenaam van 'n groot fortuin is terwyl sy hulle uit mijoene dollars swendel.

Hoofakteurs Anna Chlumsky as Vivian Kent Julia Garner as Anna Sorokin/Delvey Arian Moayed as haar advokaat, Todd Spodek Katie Lowes as haar vriendin Rachel Williams Alexis Floyd as Neff Davis Anders Holm as Jack Anna Deavere Smith as Maud Jeff Perry as Lou Terry Kinney as Barry Laverne Cox as Kacy Duke Saamer Usmani as Chase Sikorski

Ontvangs Volgens Samba TV het 1,6 miljoen Amerikaanse huishoudings die reeks in die eerste vier dae van stroming gekyk. Dit is een van Netflix se mees gekykte Engelse TV-reekse van alle tye, met 511,92 miljoen uur kyktyd in die eerste 28 dae ná sy uitreiking.

Op Rotten Tomatoes het die reeks 'n goedkeuringsyfer van 64%, gebaseer op 87 resensies, met 'n gemiddelde punt van 6,2/10. Die webtuiste noem dit "sappige vermaak". Op Metacritic het die reeks 'n punt van 57 uit 100, gebaseer op 34 resensies, wat dui op 'n "gemengde of middelmatige" ontvangs.

Saloni Gajjar van The A.V. Club gee dit 'n B- en sê die reeks verg geduld wat nie bevredig word nie. In Rolling Stone gee Alan Sepinwall dit 2/5 en beskryf dit as 'n uitermate lang gesukkel wat nooit heeltemal seker is wat dit oor sy titelkarakter wil sê of hoe om dit te sê nie."

Mike Hale van die New York Times het sommige elemente geprys en ander gekritiseer. Hy vergelyk die opwindende aard van die artikel met die stadiger pas van die reeks: "Pressler se artikel was soos 'n resiesmotor; Inventing Anna is 'n lang pad onder 'n GPS. Die opwinding is weg."

Verwysings

Skakels

Kategorie:Amerikaanse televisiereekse