SANCCOB, die Suid-Afrikaanse Stigting vir die Beskerming van Kusvoëls, is ‘n natuurbewaringsorganisasie wat hom toespits op die beskerming van die kwesbare endemiese seevoëlspesies (en veral die brilpikkewyn) in suidwestelike Afrika.

Teer Sedert 1968 het al meer olietenkskepe rondom Kaappunt gevaar wat baie oliestortings tot gevolg gehad het. Die bedreigde inheemse seevoëlbevolking (die brilpikkewyn, die trekkormorant, die Kaapse malgas, die bankduiker, en selfs seemeeue) het baie hieronder gely. ‘n Groep vrywilligers, aanvanklik onder leiding van Althea Westphal, hou hulle sedertdien besig met die skoonmaak en rehabilitasie van besoedelde voëls om hul isolasievermoë te herstel. Olie veroorsaak dat die vere hul mikrostruktuur en dus hul waterdigheidsvermoë verloor en dan die termiese isolasie van ‘n voël afbreek. Die koue met teer besmeerde pikkewyn verlaat dan die water en omdat hy daar nie kan eet nie gaan hy dood van die koue en die honger.

Skoonmaak Die skoonmaakproses het deur die jare baie verbeter en die oorlewingskanse van die bevuilde pikkewyne laat toeneem. Elke voël word vir ‘n week of langer gereeld met sekere skoonmaakmiddels gewas, gevoer en geweeg. Sodra die beskermende waterdigte donsvere herstel het, is die voël gering en in die natuur vrygelaat.

Ander take Nie net besoedelde voëls is gered nie, maar daar word ook omgesien na siek voëls (veral seemeeue en duikers wat voedselvergiftiging opgedoen het) en voëls wat byvoorbeeld blind is of rugbeserings het. Hierdie voëls word hier gehuisves, want hulle lê wel eiers en het dan gesonde kuikens.

Hospitale Die organisasie beskik in Kaapstad en Gqeberha oor hospitale met uitgebreide operasiegeriewe, spesiale sorgeenhede, waspoele vir besmeerde voëls, voëlhokke en swembaddens. Hier word ook navorsing gedoen oor die welstand van die seevoëls en veral pikkewyne aan die Suid-Afrikaanse kus.

Naam SANCCOB is ‘n akroniem vir die Engelse naam van die stigting, naamlik South African Foundation for the Conservation of Coastal Birds.

Eksterne skakels Amptelike webwerf

Kategorie:Pikkewyne