Anna Sorokin (Russies: Анна Сорокина, Anna Sorokina; gebore 23 Januarie 1991), ook bekend as Anna Delvey, is 'n swendelaar en bedrieër wat haar van 2013 tot 2017 as 'n ryk erfgenaam voorgedoen het aan die hoër stand van die New Yorkse sosiale en kunssirkels.

Delvey is naby Moskou gebore en het in 2007, toe sy 16 jaar oud was, saam met haar ouers na Duitsland verhuis. In 2011, op 20-jarige ouderdom, het Delvey Duitsland verlaat om in Londen en Parys te gaan woon. In 2013 is sy na New York, waar sy 'n intern was vir die Franse modetydskrif Purple. Sy het 'n klub en kunsstigting met privaat lede bedink, wat ingesluit het die huur van 'n groot gebou met winkels en uitstallings deur bekende kunstenaars wat sy ontmoet het terwyl sy 'n intern was. Sy het later vervalste dokumente geskep om haar bewering te staaf dat sy 'n trustfonds van miljoene euro's het en het talle geldoordragtransaksies vervals. Sy het dié dokumente en vervalste tjeks gebruik om banke, kennisse en eiendomsagente te oorreed om kontant aan haar uit te betaal en lenings sonder kollateraal te kry. Sy het die geld gebruik om haar uitspattige leefstyl te onderhou, insluitend verblyf in verskeie duur hotelle.

Tussen 2013 en '17 het Delvey groot finansiële instellings, banke, hotelle en individue verneuk. In 2017 het die New Yorkse polisie haar in hegtenis geneem met die hulp van haar voormalige vriendin Rachel Williams, wat Delvey beskuldig het van bedrog van $62 000. In 2019 het 'n New Yorkse staatshof Delvey gevonnis op 'n paar aanklagte van diefstal en pogings tot diefstal, en is sy gevonnis tot tronkstraf van tussen 4 en 12 jaar. Nadat sy twee jaar daarvan uitgedien het, is sy op parool vrygelaat.

Ses weke later is sy deur die Amerikaanse doeanepolisie in hegtenis geneem om na Duitsland gedeporteer te word. In Oktober 2022, nadat sy 19 maande lank aangehou is, is sy op borgtog van $10 000 vrygelaat en in huisarres geplaas.

Delvey se storie het publisiteit geniet toe Williams 'n lang artikel in die tydskrif Vanity Fair geskryf het oor haar ondervindings in 2018 met Delvey. Sy het in haar boek My Friend Anna (2019) op die storie uitgebrei. In dieselfde jaar het die joernalis Jessica Pressler 'n artikel vir die tydskrif New York geskryf oor Delvey se lewe as 'n sosiale vlinder. Netflix het Delvey $320 000 betaal vir die regte vir haar storie en dit ontwikkel in die minireeks Inventing Anna (2022) vir televisie. Delvey se lewensverhaal was ook die onderwerp van verskeie ander televisieprogramme, onderhoude, podsendings en teaterproduksies.

Vroeë lewe thumb|260px|Haar geboortedorp, Domodedowo naby Moskou. Delvey is op 23 Januarie 1991 in Domodedowo, ’n werkersklassatellietdorp suid van Moskou in die Sowjetunie gebore. Haar pa, Wadim, het as ’n vragmotorbestuurder gewerk en haar ma het ’n klein winkel besit. In 2007, toe Delvey 16 was, het haar gesin na Noordryn-Wesfale, Duitsland, verhuis. Daar het haar pa ’n uitvoerende pos by ’n vervoermaatskappy beklee totdat die maatskappy in 2013 insolvent geraak het. Hy het daarna ’n verhittings-en-lugvoerkoelingsbesigheid begin wat in doeltreffende energiegebruik gespesialiseer het. Delvey se ma was ’n huisvrou.

Delvey het 'n Katolieke gimnasium in Eschweiler bygewoon. Maats het gesê sy was stil en het gesukkel met Duits. As jong volwassene het sy Vogue, modeblogs en fotorekenings op LiveJournal en Flickr obsessief gevolg.

Ná skool in 2011 het Delvey na Londen verhuis om by Central Saint Martins, ’n kunsskool, te studeer, maar sy het gou opgeskop en na Duitsland teruggekeer. In 2012 het sy 'n kort internskap by ’n openbarebetrekkingemaatskappy in Berlyn gedoen. Daarna het sy na Parys verhuis, waar sy sowat €400 per maand tydens ’n internskap vir Purple verdien het. Delvey het nie dikwels kontak met haar ouers gehad nie, maar hulle het haar huur gesubsidieer. Omstreeks daardie tyd het sy die van "Delvey" aangeneem; sy het gesê dit is op haar ma se nooiensvan gebaseer, maar haar ouers het gesê hulle herken nie die van nie.

Bedrog thumb|240px|Church Missions House.

In middel 2013 het Delvey na New York gereis om die New Yorkse Modeweek by te woon. Dit was vir haar makliker om daar vriende te maak as in Parys en sy het besluit om te bly. Sy het vir 'n kort ruk in die New Yorkse kantoor van Purple gewerk. Nadat sy bedank het, het sy op die idee van die "Anna Delvey-stigting" – 'n klub en kunsstigting met privaat lede – gekom en vergeefs probeer befondsing soek van welgestelde lede van die stad se sosiale toneel. Haar voorstel het ingesluit die huur van die hele Church Missions House van ses verdiepings in die besit van Aby Rosen se RFR Holdings, om dit te gebruik as 'n veeldoelige venue en kunsateljee. Hier het sy beplan om winkels op te rig en uitstallings te hou. Vir die beplanning het sy hulp gekry van die seun van die argitek Santiago Calatrava.

Die platejoggie Elle Dee beskryf 'n vreemde voorval met Delvey op 'n partytjie in Mei 2014 in Montauk, New York. Delvey het voorgegee sy is 'n ryk erfgenaam en gespog oor die handelsmerke van die klere wat sy gedra het, maar mense op die partytjie slaapplek gevra. Toe hulle weier, het sy in 'n motor geslaap. Volgens Dee was Delvey gemeen, veral met mense in die gasvryheidsbedryf. Sy het mense aangeval wat nie baie volgelinge op Instagram gehad het nie en het gespog dat sy 'n dakwoonstel sou huur vir $12 000 per maand. Volgens Dee het Delvey op haar en ander kennisse staatgemaak om haar uitgawes te betaal; sy het beweer sy het haar beursie vergeet of dat haar kredietkaarte weens 'n noodgeval nie werk nie.

In 2015 het Delvey die kunshandelaar en student Michael Xufu Huang op 'n partytjie ontmoet. Toe sy hoor hy beplan om die Venesiese Biënnale by te woon, het sy hom gevra of sy kon saamgaan. Huang het ingestem en 'n vliegkaartjie en hotelkamer vir Delvey bespreek met die veronderstelling dat sy hom die koste van $2 000 - $3 000 sou terugbetaal. Terug in New York het Delvey blykbaar van die reëling "vergeet" en hom nie betaal nie. Hy het haar eindelik geblokkeer en hulle vriendskap beëindig.

In Februarie 2016 het Delvey 'n fotoredakteur by Vanity Fair, Rachel DeLoache Williams, in 'n nagklub ontmoet. Williams het goed met haar bevriend geraak en was later instrumenteel is haar arres.

Delvey het Microsoft Word gebruik om vervalste bankstate en ander finansiële dokumente te skep wat wys sy het €60 miljoen in Switserse bankrekenings, maar het gesê sy kon nie die geld kry nie omdat sy in Amerika was. Een van haar kennisse het haar in verbinding gebring met die prokureur Andrew Lance by Gibson Dunn, wat haar weer in verbinding gebring het met verskeie groot finansiële instellings, insluitend City National Bank en Fortress Investment Group. In November 2016 het Delvey vervalste dokumente ingehandig as deel van 'n leningsaansoek vir $22 miljoen van City National. City National het die lening geweier nadat Delvey nie bewyse kon verskaf van die bron van die Switserse bates nie, en sy het toe by Fortress aansoek vir 'n lening gedoen. Fortress het ingestem om die aansoek te oorweeg as Delvey $100 000 betaal om regskoste in verband met die lening te dek. In Desember 2016, toe Delvey nie huur kon betaal nie, is die Church Missions House aan iemand anders verhuur.

Op 12 Januarie 2017 het Delvey City National oorreed om 'n tydelike oortrekkingsgerief van $100 000 aan haar toe te staan met die belofte om die geld gou terug te betaal. Sy het aan hulle vals e-posadresse verskaf van "Peter Hennecke", 'n niebestaande sakebestuurder. Toe agterdog ontstaan, het Delvey beweer hy is oorlede en 'n nuwe persoon, "Bettina Wagner", bedink. Aanklaers het later in haar verhoor gewys sy het 'n soektog op Google gedoen oor hoe om 'n "vals, onnaspoorbare e-pos" te skep. Delvey het die $100 000 aan Fortress betaal vir die leningsaansoek, maar 'n besturende direkteur het snuf in die neus gekry wees 'n paar ongerymdhede in haar dokumente: Sy het byvoorbeeld beweer sy is van Duitse herkoms, maar volgens haar paspoort is sy in Rusland gebore. Toe die direkteur vra om haar bankiers in Switserland te ontmoet, het sy die leningsaansoek teruggetrek. In Februarie 2017 het Fortress $55 000, die deel van die geld wat nie vir uitgawes in verband met die lening gebruik is nie, aan Delvey terugbetaal. Sy het toe rojaal geld uitgegee op luukseklere, elektronika en 'n persoonlike instrukteur, asook $800 op ligstrepe in haar hare en $400 op wimperverlengings.

Op 18 Februarie 2017 het Delvey ingeboek in 'n kamer van $400 per nag by die 11 Howard Hotel in Soho, Manhattan. Sy het dikwels fooitjies van $100 kontant gegee aan die concierge, met wie sy bevriend geraak het, en ander werknemers vir eenvoudige take soos restaurantaanbevelings of om pakkies na haar kamer te bring. Tog het die meeste personeellede gedink sy is irriterend, en hulle het haar beskryf as onbeskof en klasbewus. Delvey het die concierge bederf met masserings, manikure en sessies met die persoonlike instrukteur vir die sterre Kacy Duke.

thumb|200px|Die Mercer Hotel. Nadat die bestuur ontdek het hulle het geen kredietkaart vir haar op rekord nie, het hulle daarop aangedring dat sy haar rekening van $30 000 betaal. Teen Maart 2017 was Delvey se geld op. Sy sou aanbied om vriende vir drankies en ete uit te neem, maar wanneer dit tyd was om te betaal het sy beweer sy het haar kredietkaarte vergeet of hulle werk nie.

In April 2017 het Delvey vervalste tjeks vir $160 000 in 'n Citibank-rekening inbetaal en sy kon $70 000 daarvan onttrek. Sy het toe $30 000 telegrafies aan 11 Howard gestuur om haar rekening te betaal.

Ná drie maande by 11 Howard het Delvey met Rachel Williams se hulp na die Mercer Hotel verskuif. Sy het ook twee nagte in die Bowery Hotel gebly en 'n vervalste betaling van Deutsche Bank aan hulle gestuur. In Mei 2017 het sy 'n vervalste geldoordrag van Deutsche Bank vir $35 390 na Blade Air Mobility gestuur vir 'n huurvlug na Nebraska.

thumb|260px|La Mamounia. Ook in Mei 2017 het Delvey vir Williams, Kacy Duke en haar videograaf genooi op 'n "gratis" reis na Marokko. Sy was geïnspireer deur Khloé Kardashian en het 'n huis van $7 000 per nag gehuur by La Mamounia, 'n luuksueuse vyfsterhotel in Marrakesj. Dit het drie slaapkamers, 'n privaat swembad en sy eie butler gehad. Sy wou ook 'n dokumentêr agter die skerms maak van die skepping van haar stigting.

Ná 'n paar dae het die hotelpersoneel gesê hulle kon nie geld van Delvey se kredietkaarte kry nie en 'n ander manier van betaling geëis. Delvey het verskonings uitgedink, die personeel se onbeholpenheid die skuld gegee en beweer hulle stelsels is te blameer. Delvey het Williams oorreed om die rekening van $62 000 te betaal, wat meer as 'n jaar van Williams se netto salaris was. Williams het haar werk se kredietkaart sowel as haar eie gebruik en Delvey het belowe om die geld telegrafies aan haar te stuur. Williams het ook betaal vir die vlugte na Marokko, items wat Delvey gekoop het en 'n privaat toer, met beloftes van Delvey om haar terug te betaal.

Ná die een verskoning na die ander het Delvey haar eindelik net $5 000 terugbetaal en sy moes geld van vriende leen om haar huur te betaal. American Express het later sowat $52 000 van die heffings op haar kredietkaartse verwyder. Nadat sy ander kennisse gekontak het aan wie Delvey ook geld skuld, het Williams besef sy pleeg bedrog.

In Marokko het Delvey in nog twee luuksehotels gebly en Duke, wat weens 'n voedselverwante siekte reeds na New York teruggekeer het, gevra om vir haar kamers te betaal. Toe Duke ook aanbied om haar vliegkaartjie terug na New York te betaal, het Delvey 'n sitplek in die besigheidklas gevra.

Op 17 en 21 Augustus 2017 het Delvey na bewering twee vervalste tjeks van $15 000 in haar rekening by Signature Bank inbetaal en oor die volgende paar dae het sy sowat $8 200 kontant getrek voordat die tjeks gehop het.

Aanklagte en arres