Bros is 'n Amerikaanse romantiese komedie van 2022 met Billy Eichner en Luke Macfarlane as twee gay mans in Manhattan wat verhoudings vermy, maar aangetrokke tot mekaar voel. Die regisseur is Nicholas Stoller en die prent is gebaseer op 'n draaiboek wat hy saam met Eichner geskryf het.

Dit is een van die eerste gay romantiese komedies deur 'n groot ateljee en die hoofakteurs is openlik LGBTQ.

Bros se première was op 9 September 2022 op die Internasionale Toronto-rolprentfees en die prent is op 30 September in teatars in die VSA uitgereik.

Die fliek is goed ontvang, maar het nie goed by die loket gedoen nie: Dit is met 'n begroting van $22 miljoen gemaak en het wêreldwyd $14 miljoen geïn.

Rolverdeling

Billy Eichner as Bobby Lieber Luke Macfarlane as Aaron Shepard Guy Branum as Henry Miss Lawrence as Wanda Ts Madison as Angela Dot-Marie Jones as Cherry Jim Rash as Robert Eve Lindley as Tamara Monica Raymund as Tina Guillermo Díaz as Edgar Jai Rodriguez as Jason Amanda Bearse as Anne Debra Messing as haarself Peter Kim as Peter Justin Covington as Paul Harvey Fierstein as Louis Bowen Yang as Lawrence Grape Kristin Chenoweth as haarself Ben Stiller as homself Seth Meyers as Harvey Milk

Ontvangs Bros het in die VSA en Kanada $11,6 miljoen geïn en in ander lande $3,2 miljoen, vir 'n wêreldwye totaal van $14,8 miljoen.

Eichner het gesê hy is teleurgesteld oor die fliek se swak vertoning by die loket en dat "straight mense, veral in sekere dele van Amerika, net nie na Bros kom kyk het nie." Zack Sharf en William Earl van die tydskrif Variety het gemeen ander faktore het bygedra tot die prent se swak vertoning en "dat straight mense nie heeltemal te blameer is nie". Hoewel hulle gedink het homofobie is 'n waarskynlike rede, het hulle ook gesê daar was 'n gebrek aan belangstelling in die materiaal, te min sterk akteurs, die bemarking het op verteenwoordiging in plaas van humor gefokus, die tyd van uitreiking was verkeerd en dat gehore belangstelling in Apatow se prente verloor het.

Op Rotten Tomatoes het Bros 'n goedkeuringsyfer van 88%, gebaseer op 226 resensies, met 'n gemiddelde punt van 7,6/10. Op Metacritic het die prent 'n punt van 72 uit 100, gebaseer op 46 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" reaksie.

TheWrap se Alonso Duralde het Macfarlane se spel geprys en gesê: "Ek het altyd Macfarlane se werk (in Hallmark-flieks) geniet as 'n romantiese hoofrolspeler, maar Bros bied die soort kompleksiteit en skakering (om nie te praat van humor nie) wat Hallmark nooit kon doen nie." Marya E. Gates van RogerEbert.com het die fliek 2,5 uit 4 sterre gegee en in Consequence het Clint Worthington dit 'n B- gegee en gesê: "As dit effens minder bewus was van daardie homonormatiwiteit, sou dit 'n konherenter identiteit gehad het."

Verwysings

Skakels Amptelike webtuiste

Kategorie:Amerikaanse rolprente Kategorie:Romantiese rolprente