’n Sagtegammaherhaler (Engels: soft gamma repeater, SGR) is ’n sterrekundige voorwerp wat op onreëlmatige tye groot uitbarstings gamma- en X-strale uitstraal. Hulle is vermoedelik ’n soort magnetar, of andersins 'n neutronster met fossielskywe om hulle.
Geskiedenis Op 5 Maart 1979 is ’n kragtige gammaflits waargeneem. Aangesien verskeie ontvangers op verskillende plekke in die Sonnestelsel die flits op effens verskillende tye waargeneem het, kon die rigting bepaal word en is getoon dat dit afkomstig was van naby ’n supernovaoorblyfsel in die Groot Magellaanse Wolk.
Met verloop van tyd het dit duidelik geword dit is nie ’n normale gammaflits nie. Die fotone was minder energiek in die sagtegamma- en harde-X-straalreeks, en herhalende uitbarstings het uit dieselfde gebied gekom.
Die sterrekundige Chryssa Kouveliotou van 'n navorsingsvereniging by Nasa se Marshall-ruimtvlugsentrum het besluit om die hipotese te toets dat sagtegammaherhalers magnetars is. Volgens die hipotese sou die uitbarstings veroorsaak dat die voorwerp se rotasiespoed verminder. In 1998 het sy sorgvuldig vergelykings gemaak van die periodisiteit van die sagtegammaherhaler SGR 1806-20. Die periode het met 0,008 sekondes toegeneem sedert 1993, en sy het bereken dat dit verduidelik kon word aan die hand van ’n magnetar met ’n magneetveldsterkte van 8×1010 tesla (8×1014 gauss). Dit was genoeg om die internasionale sterrekundige gemeenskap te oortuig dat sagtegammaherhalers inderdaad magnetars is.
’n Besonder skouspelagtige sagtegammaherhaler-uitbarsting was SGR 1900+14, wat op 27 Augustus 1998 waargeneem is. Ten spyte van die groot afstand na hierdie SGR, wat op sowat 20 000 ligjare geraam word, het die uitbarsting 'n groot uitwerking op die Aarde se atmosfeer gehad. Die atome in die ionosfeer, wat gewoonlik deur die Son se straling gedurende die dag geïoniseer word en snags weer neutraal word, is snags geïoniseer tot vlakke wat nie veel laer as die normale dagvlak was nie. Die Rossi X-Ray Timing Explorer, ’n X-straalsatelliet, het tydens die voorval sy sterkste sein van die uitbarsting af ontvang, selfs al was dit op ’n ander deel van die hemelruim gerig en sou dit normaalweg teen die straling beskerm gewees het.
Verwysings
Vertaalnota
Kategorie:Magnetars