Mario Götze (gebore 3 Junie 1992) is ’n Duitse professionele sokkerspeler wat vir die Bundesliga-klub Eintracht Frankfurt speel. Alhoewel sy voorkeurposisie dié van ’n aanvallende of sentrale middelveldspeler is, het hy ook as vleuel en as ’n sogenaamde “valse nege” gespeel.
Hy het tussen 2009 en 2013 vir Borussia Dortmund gespeel, waar hy die Bundesliga-titel in 2010/11 gewen het, asook die Bundesliga en DFB-Pokal dubbel in 2011/12. Hy was deel van die span wat die eindstryd van die UEFA Champions League in 2013 gehaal het. In April 2013 het Bayern München ’n bod van €37 miljoen gemaak, wat ’n vrystellingklousule in Götze se kontrak geaktiveer het. Dit het hom op daardie stadium die tweede duurste Duitse sokkerspeler gemaak, ná Mesut Özil.
Hy het drie seisoene by Bayern München deurgebring, waar hy nog drie ligatitels, twee DFB-Pokal-bekers, sowel as wennersmedaljes in die FIFA-Klubwêreldbeker en die UEFA Superbeker gewen het. In 2016 het hy teruggekeer na Dortmund, waar hy nog ’n DFB-Pokal-titel en ’n DFL-Superbeker by sy prestasies gevoeg het.
Götze is in 2010, op 18-jarige ouderdom, vir die eerste keer vir die Duitse nasionale sokkerspan gekies. Hy is ingesluit in die groep vir die Europese Kampioenskap in 2012 en het twee jaar later die wen-doel in die eindstryd van die 2014 FIFA Wêreldbeker aangeteken.
Verwysings
Kategorie:Duitse sokkerspelers Kategorie:Geboortes in 1992 Kategorie:Lewende mense