Ernst Franz Hermann Happel (29 November 1925 – 14 November 1992) was ’n Oostenrykse sokkerspeler en afrigter. As speler het hy meestal vir Rapid Wien (Wene) op klubvlak gespeel. Hy het ook vir die Oostenrykse nasionale span uitgedraf, wat hy by die Olimpiese Spele in 1948 verteenwoordig het, asook by die Wêreldbekertoernooie in 1954 en 1958. Ernst Happel is egter hoofsaaklik bekend vir sy afrigtersprestasies. Hy het sy afrigterloopbaan in 1962 by ADO Den Haag begin, en het saam met hulle die Nederlandse Beker in 1968 gewen. Happel het ligatitels en bekerkompetisies gewen in Nederland, België, Wes-Duitsland en Oostenryk. Hy het die Europese Beker twee keer gewen — in 1970 met Feyenoord en in 1983 met Hamburger SV.
In 1978 het hy Club Brugge na die eindstryd van die Europese Beker gelei. Daardie jaar was hy ook die afrigter van Nederland se nasionale span en het hulle tot die eindstryd van die 1978 FIFA Wêreldbeker geneem, waar hulle teen die gasheer Argentinië gespeel het. Dit was Oranje se tweede agtereenvolgende Wêreldbeker-eindstryd en hul laaste een tot die toernooi in Suid-Afrika, 32 jaar later. Sy laaste klub as afrigter was Swarovski Tirol, met wie hy twee keer die Oostenrykse kampioenskaptitel gewen het (1989 en 1990), voordat hy in 1992 kortliks as hoofafrigter van die Oostenrykse nasionale span gewerk het.
Ernst Happel is nooit getroud nie. Een van sy voormalige spelers het hom beskryf as ’n bietjie van ’n alleenganger, met ’n voorliefde vir sigarette en cognac. Hy is in 1992 op 66-jarige ouderdom aan longkanker oorlede. Ná sy dood is die grootste sokkerstadion in Oostenryk, die Praterstadion in Wene, herdoop tot die Ernst-Happel-Stadion.
Verwysings
Kategorie:Oostenrykse sokkerspelers Kategorie:Sokkerafrigters Kategorie:Geboortes in 1925 Kategorie:Sterftes in 1992