White Noise is 'n absurdistiese komediedrama van 2022 wat deur Noah Baumbach geskryf en geregisseer is. Dit is geskoei op die roman met dieselfde naam van 1985 deur Don DeLillo. Dit is Baumbach se eerste rolprent wat nie op 'n verhaal deur homself geskoei is nie. Die hoofakteurs is Adam Driver, Greta Gerwig en Don Cheadle. Die verhaal speel in die 1980's af en gaan oor die wel en wee van 'n nisakademikus en sy gesin. Dit begin met 'n omgewingsramp naby hulle huis.
Die prent se wêreldpremière was op 31 Agustus 2022 op die Venesiese Internasionale Rolprentfees en is op 25 November in uitgesoekte teaters uitgereik voor sy stromingsuitreiking op 30 Desember deur Netflix. White Noise het oor die algemeen gunstige resensies gekry, met Baumbach se regie, die kinematografie, die toneelspel (veral Driver s'n) en die musiek wat geprys is. Die menings oor die draaiboek en lengte van die prent was egter verdeel.
Storielyn
In 1984 is Jack Gladney 'n professor van "Hitlerstudies" ('n veld wat hy begin het) aan die College-on-the-Hill in Ohio. Ondanks sy spesialiteit, praat hy nie Duits nie. Hy neem in die geheim basiese lesse om hom voor te berei op 'n lesing wat hy op 'n konferensie moet lewer. Jack is met sy vierde vrou, Babette, getroud. Saam het hulle 'n mengelmoes van kinders: Heinrich en Steffie, uit twee van Jack se vorige huwelike; Denise, uit Babette se vorige huwelik; en Wilder, hulle kind saam.
Denise spioeneer op Babette en ontdek sy drink in die geheim pille genaamd Dylar, 'n geheimsinnige middel wat nie in die gewone rekords voorkom nie. Jack droom van 'n bedreigende man wat skimp op 'n vroeëre gesprek tussen Jack en Babette oor hulle gesamentlike vrees vir die dood.
Jack se kollega, Murray Siskind, 'n professor in Amerikaanse kultuur, wil 'n soortgelyke nisveld as hy, "Elvisstudies", begin en oorreed Jack om hom te help. Hulle word vir 'n kort ruk mededingers weens mededinging tussen hulle kursusse.
Die gesin se lewens word ontwrig toe 'n rampspoedige treinongeluk 'n wolk chemiese afval oor die dorp laat waai. Dié "Luggifvoorval" lei tot 'n reusagtige vlugtog uit die dorp, wat 'n groot verkeersknoop op die snelweg veroorsaak. Jack ry na 'n vulstasie om petrol in te gooi, waar hy aan die wolk blootgestel word. Die gesin en ander mense moet noodgedwonge in 'n somerkamp gaan bly totdat die gevaar verby is. Murray gee vir Jack 'n klein palmgroottepistool om hom teen die woeste elemente in die kamp te verdedig. Eendag ontstaan 'n chaos toe verskeie gesinne uit die kamp probeer vlug. Die Gladneys gaan op 'n woeste rit en kom eindelik in Iron City aan, waar hulle 'n man teenkom wat uitvaar oor die gebrek aan media-aandag oor die voorval; die man hou op praat toe hy Jack sien en beweer hy het déjà vu van daardie oomblik. Ná nege dae keer die gesin terug huis toe. Die feit dat Jack vir 'n kort ruk aan die chemiese afval blootgestel was, verhoog egter sy vrees vir die dood.
Later het alles na normaal teruggekeer, behalwe dat Babette bleek, moeg en emosioneel verwyder van Jack en die res van die gesin geword het. Kort daarna begin Jack hallusinasies kry van 'n geheimsinnige, bleswordende man wat hom rondvolg. Jack konfronteer Babette oor die Dylar. Sy erken sy het by 'n obskure kliniese proefneming aangesluit vir 'n dwelm wat vrees vir die dood genees, en toe sy sien sy is uit die proefneming geskop, het sy ingestem om seks met "mnr. Gray" te hê in ruil vir 'n aanhoudende voorraad pille. Die egpaar word verwyder van mekaar, en Jack deursoek die vullis na die laaste van die Dylarpille om sy eie vrees vir die dood te behandel. Hy kom egter af op 'n advertensie vir die proefneming. Hy vat sy pistool en wil op mnr. Gray gaan wraak neem. Jack spreek met hom af om hom in 'n hotel te ontmoet om Dylar te koop. Daar vind hy uit mnr. Gray is die man in sy hallusinasies. Jack skiet hom en plaas die pistool in sy hand sodat dit soos selfmoord kan lyk. Babette daag onverwags op en mnr. Gray, wat nog lewe, skiet hulle albei. Nadat Jack en Babette die verwarde mnr. Gray oortuig het dat hy vir almal se beserings verantwoordelik is, neem hulle hom na 'n nabygeleë hospitaal, wat deur Duitse ateïstiese nonne bedryf word. Daar raak die egpaar versoen.
Die volgende dag besoek die Gladneys 'n plaaslike supermark, waar hulle 'n dansnommer saam met die ander klante en die werknemers uitvoer. Rolverdeling
Adam Driver as prof. Jack Gladney Greta Gerwig as Babette Gladney Don Cheadle as prof. Murray Siskind Raffey Cassidy as Denise Gladney Sam Nivola as Heinrich Gladney May Nivola as Steffie Gladney Jodie Turner-Smith as Winnie Richards André Benjamin as Elliot Lasher Sam Gold as Alfonse Carlos Jacott as Grappa Lars Eidinger as mnr. Gray Bill Camp as die man met die TV-stel Barbara Sukowa as suster Hermann Marie Francis Jue as dr. Lu Henry en Dean Moore as Wilder Gladney Gideon Glick en Chloe Fineman as Simuvac-tegnici Kenneth Lonergan as dr. Hookstratten
Ontvangs Op Rotten Tomatoes het White Noise 'n goedkeuringsyfer van 64%, gebaseer op 261 resensies, met 'n gemiddelde punt van 6,5/10. Die webtuiste se konsensus lui: "White Noise kan soms sukkel met die bronmateriaal wat na bewering onverfilmbaar was, maar Noah Baumbach kry dit reg om die humoristiese hart van sy storie te vind." Op Metacritic het die prent 'n punt van 66 uit 100, gebaseer op 45 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" ontvangs.
Ná die prent se première in Venesië het Peter Bradshaw van The Guardian dit 5 uit 5 sterre gegee en Baumbach se draaiboek geprys. The Hollywood Reporter se David Rooney het die toneelspel, musiek en humor geprys, maar gedink die draaiboek is inkonsekwent. David Ehrlich van IndieWire het die draaiboek as "ewe geïnspireerd as frustrerend" beskryf. In Artforum het Will Sloan gekla dat dit lyk of elk van die hoofakteurs in sy eie rolprent is. "Jy kan nie van die banaliteit ontsnap nie, maar jy kan ten minste daarvoor grinnik."
Die rolprentvervaardiger Wes Anderson het White Noise in Variety geprys en gesê dit is "stralend en geheimsinnig en poëties en baie vermaaklik. Dit is 'n heel nuwe konkoksie van een van ons oorspronklikste stemme wat sy talente op maniere verfyn en ontwikkel het wat ons net kan terugstaan en bewonder (en geniet)."
Verwysings
Skakels
Kategorie:Britse rolprente Kategorie:Amerikaanse rolprente