Roald Dahl's The Wonderful Story of Henry Sugar, of slegs The Wonderful Story of Henry Sugar, is 'n Amerikaanse fantasiekortfilm van 2023 wat deur Wes Anderson geskryf, geregisseer en medevervaardig is. Dit is geskoei op die kortverhaal van 1977 "The Wonderful Story of Henry Sugar" deur Roald Dahl. Dit is die tweede rolprentverwerking deur Anderson van 'n Dahl-werk, ná Fantastic Mr. Fox (2009). Van die akteurs is Benedict Cumberbatch, Ralph Fiennes, Dev Patel, Ben Kingsley en Richard Ayoade. Die storie gaan oor 'n ryk man wat uitvind van 'n ghoeroe wat kan sien sonder om sy oë te gebruik met behulp van 'n sekere soort joga. Hy bemeester dan die vaardigheid sodat hy kan kroek wanneer hy dobbel.
Die prent is die eerste van 'n vierdelige reeks kortfilms wat verwerk is van Dahl se kortverhale, insluitend "The Swan", "The Rat Catcher" en "Poison".
The Wonderful Story of Henry Sugar se première was op 1 September 2023 op die Venesiese Internasionale Rolprentfees. Dit is op 27 September deur Netflix uitgereik. Die drie ander Anderson-verwerkings is ook deur Netflix uitgereik.
Die prent het op die 96ste Oscar-toekenningsaand die prys vir beste lewende-aksie-kortfilm gewen.
Rolverdeling Benedict Cumberbatch as Henry Sugar / Max Engelman Ralph Fiennes as Roald Dahl / die polisieman Dev Patel as dr. Chatterjee / John Winston Ben Kingsley as Imdad Khan / die uitdeler Richard Ayoade as dr. Marshall / die groot jogi David Gant as 'n casinokroepier Jarvis Cocker kameerolle as 'n casino-ontvangsklerk en verskeie vriende van Henry Sugar
Ontvangs Op Rotten Tomatoes het die prent 'n goedkeuringsyfer van 95%, gebaseer op 87 resensies, met 'n gemiddelde punt van 8,4/10. Die webtuiste se konsensus lui: "Met The Wonderful Story of Henry Sugar keer Wes Anderson terug na die wêreld van Roald Dahl – en bewys sy spesifieke styl pas gemaklik by een van die skrywer se mooiste stories." Op Metacritic het die prent 'n gemiddelde syfer van 85 uit 100, gebaseer op 30 resensies, wat dui op 'n "algemeen gunstige" ontvangs.
In die tydskrif Variety noem Peter Debruge die prent "heerlik kompak" en voeg by Dahl se kortverhaal "pas goed by Anderson se ingewikkelde benadering". Leslie Felperin van The Hollywood Reporter skryf: "The Wonderful Story of Henry Sugar is 'n perfek gebalanseerde inkorting." David Ehrlich van IndieWire noem dit "die visueel vernuftigste prent wat Anderson nog gemaak het". Glenn Kenny van RogerEbert.com gee die prent 4 uit 4 sterre.
Die prent het in 2024 die Oscar vir beste lewende-aksie-kortfilm gewen.
Sien ook The Wonderful Story of Henry Sugar and Three More
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente