The Wonderful Story of Henry Sugar and Three More is 'n Amerikaanse fantasieantologiefilm van 2024 wat deur Wes Anderson geskryf, geregisseer en medevervaardig is. Dit is geskoei op vier kortverhale deur Roald Dahl en is die tweede rolprentverwerking deur Anderson van Dahl se werk, ná Fantastic Mr. Fox (2009). Van die akteurs is Benedict Cumberbatch, Ralph Fiennes, Dev Patel, Ben Kingsley, Richard Ayoade en Rupert Friend wat almal verskillende rolle vertolk.
Die rolprent is op 15 Maart 2024 uitgereik as 'n antologie van Anderson se kortfilms wat in 2023 uitgereik is: The Wonderful Story of Henry Sugar, The Swan, The Rat Catcher en Poison. Die antologie se titel verwys na die versameling kortverhale deur Dahl The Wonderful Story of Henry Sugar and Six More.
Storielyn
Die prent word voorgestel as 'n reeks televisieprente wat van 1978 tot 1981 op die fiktiewe Britse Channel 7 uitgesaai is.
Dit begin met Roald Dahl (Ralph Fiennes) wat sy skryfproses verduidelik voordat hy met 'n nuwe storie begin. Die antologie bestaan uit vier kortfilms, wat elk ooreenstem met 'n kortverhaal deur Dahl. Dit behou die grootste deel van die oorspronklike teks en vertelling. Deur die hele reeks vind toneel- en kostuumveranderings voor die kameras plaas deur middel van sigbare helpers, en van die akteurs vertolk in elke storie meer as een rol.
The Wonderful Story of Henry Sugar
Henry Sugar is die skuilnaam van 'n ongetroude man (Benedict Cumberbatch) wat sy erfgeld gebruik om te dobbel. Eendag kom hy op 'n boek af met 'n mediese verslag oor die geval van Imhad Khan (Ben Kingsley), 'n man wat beweer het hy kan sien sonder om sy oë te gebruik. Die skrywer, dr. Z.Z. Chatterjee (Dev Patel), het Imhad ontmoet toe dié sy hospitaal besoek en gevra het dat Chatterjee en sy kollega, dr. Matthews (Richard Ayoade), sy oë professioneel toebind as deel van 'n vertoning in 'n reisende sirkus. Met sy oë toegebind, het Imhad foutoos uit die hospitaal geloop en op sy fiets weggery. Nadat Chatterjee die vertoning bygewoon het, het hy 'n onderhoud gevoer met Imhad, wat vir hom sy lewensverhaal vertel het. As jong man in 'n sirkus het hy die hulp van 'n ghoeroe, die Groot Jogi (Ayoade), gevra om sy liggaam in die lug te laat sweef met behulp van meditasie. Die Groot Jogi het Imhad geleer hoe om dit te doen en sonder sy oë te sien. Dit het 20 jaar van daaglike oefening gekos. Chatterjee het die volgende dag na die sirkus teruggekeer, en gehoor Imhad is die vorige nag in sy slaap dood. Sy geheim was verlore voordat dokters dit kon bestudeer.
Deur Imhad se meditasie na te boots, leer Henry om die voorkant van omgekeerde speelkaarte te kan sien. Dit kos hom drie jaar, en daarna wen hy £30 000 in 'n casino met blackjack. Hy voel egter dit was te maklik om die geld te wen en gooi dit van sy balkon af in die strate van Londen. Ná die rumoerigheid wat dit veroorsaak, klop 'n polisieman (Fiennes) aan sy deur en gee hom 'n preek omdat hy nie die geld aan mense in nood skenk nie. Henry besluit om deur die wêreld te reis en sy vermoë by verskillende casino's te gebruik om so 'n netwerk van hospitale en kinderhuise te bou. Twee dekades later sterf Henry nadat hy deur sy vel gesien het hoe 'n bloedklont sy hart nader. Dahl skryf daarna sy lewensverhaal met behulp van Imhad se vriende, op voorwaarde dat sy identiteit geheim bly.
The Swan Verwerk van 'n Dahl-kortverhaal met dieselfde titel.
In 'n monoloog en met die hulp van werkers op die rolprentstel, vertel Peter Watson (Rupert Friend) van iets wat as 12-jarige seun (Asa Jennings) met hom gebeur het. Ernie, die skool se boelie, kry 'n geweer vir sy 15de verjaarsdag. Hy en sy vriend Raymond skiet voëls daarmee voordat hulle dit op Peter rig. Hulle dwing Peter om op die treinspoor te lê; hy oorleef deur sy kop in die gruis te wikkel toe 'n trein oor hom ry. Daarna neem die boelies hom na 'n eendedam en dwing hom om hulle "jaghond" te wees. Die seun, wat lief is vir voëls, raak woedend toe Ernie 'n swaan doodskiet, en Ernie belowe om dit weer te laat vlieg. Hy sny die swaan se vlerke af en bind dit aan Peter se arms vas. Daarna dwing hy Peter om tot bo in 'n wilgerboom te klim. Peter weier om te spring toe die seuns sê hy moet, maar Ernie skiet hom in sy been en hy verloor sy balans. Net toe sien hy 'n helder lig wat lyk of dit hom nader wink. Hy val van die boom af en duik in die rigting van die lig. So skep hy die beeld van 'n groot vlieënde swaan wat oor die dorp vlieg. Hy land in sy ouers se tuin, waar sy ma om hulp roep terwyl sy die vlerke van sy arms afsny.
The Rat Catcher Verwerk van die Dahl-kortverhaal The Ratcatcher uit sy kortverhaalversameling Someone Like You van 1953.
'n Rottevanger (Fiennes) kom na 'n vulstasie om te help met rotte daar. Claud (Friend) en 'n verslaggewer (Ayoade) neem hom na 'n hooimied oorkant die pad en die rottevager strooi hawer om die hooimied. Hy herhaal dit nog twee dae lank en vervang dit op die vierde dag met vergiftigde hawer in klein hopies.
Hy kom die volgende dag terug en vra 'n sak om die dooie rotte in te sit, maar hy kry nie 'n enkele een nie. Om sy beeld in ere te herstel, doen die rottevanger 'n demonstrasie: Hy haal 'n lewende rot uit een van sy sakke en 'n fret uit 'n ander. Hy druk albei diere voor by sy hemp in en laat die fret die rot vang. Hy wed dan die twee mans dat hy 'n rot kan doodmaak sonder om sy hande te gebruik. Hy haal 'n rot uit sy knapsak, bind dit aan 'n petrolpomp vas en maak dit met sy tande dood. Nadat hy die dooie dier se bloed uitgespoeg en die wedgeld gevat het, sê hy lekkergoedfabrieke gebruik rottebloed om droplekkers te maak, en Claude en die verslaggewer is bly toe hy vertrek. Die verslaggewer merk op die rotte moes "iets voedsaams" in die hooimied gekry het om te eet in plaas van die vergiftigde hawer. Hy en Claude loer dan na 'n strooibiljet oor 'n plaaslike man wat vermis word.
Poison Verwerk van 'n kortverhaal met dieselfde naam van 1950.
Die storie speel in Indië af tydens die Britse bewind. Timber Woods (Patel) word na die huis van sy vriend Harry Pope (Cumberbatch) ontbied. Dié lê natgesweet, paniekerig en doodstil in sy bed en sê 'n dodelike slang, 'n krait, het onder die lakens tot op sy maag geseil en vra Timber om 'n dokter te bel. Timber bel dr. Ganderbai (Kingsley), 'n plaaslike Indiese dokter, wat aangejaag kom om te help. Timber en Ganderbai probeer om die slang op verskeie maniere van Harry af te kry (wat insluit om Harry 'n teengifmiddel te gee en die slang met chloroform te verdoof). Eindelik raak dit duidelik daar is geen slang op Harry nie.
Toe die aanvanklike paniek verby is, vra Ganderbai of Harry seker is dat daar regtig 'n slang was. Harry dink Ganderbai noem hom 'n leuenaar en skree woedend rassistiese aanmerkings vir hom. Ganderbai loop uit die kamer en Timber bedank hom. Hy vra verskoning vir Harry se gedrag en sê dit is die chloroform wat dit veroorsaak het. Ganderbai wys die verskoning met waardigheid van die hand en ry huis toe.
Rolverdeling Benedict Cumberbatch as Henry Sugar, Max Engelman en Harry Pope Ralph Fiennes as Roald Dahl, die polisieman en die rottevanger Dev Patel as dr. Chatterjee, John Winston en Timber Woods Ben Kingsley as Imdad Khan, die uitdeler en dr. Ganderbai Richard Ayoade as dr. Marshall, die Groot Jogi en die redakteur/verslaggewer Rupert Friend as Peter Watson/verteller en Claud David Gant as die casinokroepier Asa Jennings as 'n jong Peter Watson Jarvis Cocker kameerolle as 'n casino-ontvangsklerk en verskeie vriende van Henry Sugar
Verwysings
Skakels
Kategorie:Amerikaanse rolprente