Die Italiaanse nasionale krieketspan (Italiaans: Nazionale maschile di cricket dell’Italia) is die nasionale krieketspan wat Italië in internasionale krieket verteenwoordig. Krieket word in Italië deur Italiaanse Krieketfederasie (F.CR.I., van Italiaans: Federazione Cricket Italiana) beheer. Hulle staan ook bekend as gli Azzurri (Italiaans vir: “die Hemelbloues”). Savoiblou is die gewone kleur van die nasionale spanne wat Italië verteenwoordig, aangesien dit die tradisionele kleur van die Huis van Savoje was wat van 1860 tot 1946 oor die Koninkryk Italië regeer het. Ná die toetslande Engeland en Ierland asook die assosiaatlede Nederland en Skotland is Italië tradisioneel een van die sterker nasionale Europese krieketspanne.

Italië het vier keer aan die T20I-wêreldbekerkwalifisering deelgeneem en die 2025-kwalifisering as naaswenner ná Nederland afgesluit, waarmee hulle vir die T20I-wêreldbeker 2026 kon kwalifiseer, hul eerste deelname aan dié toernooi. In dié proses kon hulle onder andere die meermalige deelnemer en gunsteling Skotland vir die eerste keer klop. Daarmee het hulle ná die volle lede Engeland en Ierland, asook die assosiaatlede Nederland en Skotland die vyfde Europese land geword wat vir ’n wêreldbekertoernooi kon kwalifiseer. Tydens die T20I-wêreldbeker 2026 kon Italië Nepal klop, gelyk aan hul eerste T20I-wêreldbekeroorwinning ooit.

In April 2018 het die IKR besluit om aan al sy lede volle T20I-status toe te ken. Vervolgens word al die T20I-wedstryde wat Italië ná 1 Januarie 2019 teen ander IKR-lede speel as ’n volle T20I erken. Italië is tans (Februarie 2026) 26ste op die Twintig20-wêreldranglys.

Beheerliggaam

Die Italiaanse Krieketfederasie (Italiaans: Federazione Cricket Italiana, F.CR.I.) is op 26 November 1980 in Rome as Associazione Italiana Cricket gestig. Dit is verantwoordelik vir die reël van krieket in Italië en verteenwoordig sedert 1995 Italië as ’n assosiaatlid by die Internasionale Krieketraad (IKR). Daarbenewens was die Italiaanse beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Europese Krieketraad. In dieselfde jaar het die beheerliggaam met die aansluiting by die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee as ’n assosiaatlid sy huidige naam ontvang. Sedert 2024 is die beheerliggaam ’n volle lid van die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee.

Die Italiaanse Krieketfederasie bestuur al die Italië-verteenwoordigende nasionale spanne, insluitende die mans, vroue en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die F.CR.I. verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Italiaanse span.

Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.

Geskiedenis Beginjare Die vroegste verwysing na krieket in Italië dateer uit 1793, toe Lord Nelson se seemanne tydens ’n tussenhalte in die hawe van Napels krieket gespeel het. In 1811 is die eerste krieketklub ook in Neapel gestig. Hierdie klub is deur Kolonel Maceroni gestig om die baie uitgewykenes, beide militêre en burgerlikes, vermaak te bied.

Britse seelui, wat by die Genuese hawe aangedoen het, het rondom 1890 die in die Verenigde Koninkryk reeds gevestigde krieket aan Italië bekendgestel. Maar vanaf die begin is dit deur sokker oorskadu en was ’n nissport. Daar word vermoed dat die Britte aanvanklik veral onder mekaar verkeer het. Hulle het verskeie krieket- en sokkerklubs gestig, waaronder in 1893 die eerste Italiaanse Genoa Krieket- en Sokkerklub as die Genoa Krieket & Atletiekklub en in 1899 AC Milan as die Milaanse Krieket- en Sokkerklub. Hierdie klubs het egter weggedoen met krieket en hulle op sokker toegespits. Met die opkoms van fascisme en die gelyktydige afname van immigrante in Italië in die 1920’s en 1930’s het die gewildheid van die sport egter afgeneem en amper heeltemal verdwyn.

Ná die Tweede Wêreldoorlog is die Italiaanse krieket herleef. Dit het in die 1960’s gelei tot dit stigting van ’n aantal nuwe krieketklubs. In dié dekade het krieket in Rome gefloreer op ’n uitstekende veld wat vanaf die Villa Doria Pamphilj oor die Sint Pieterskerk uitgekyk het. Die Australiese en Britse ambassades, die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbouorganisasie, die Britse Statebond se Oorlogsgrafkommissie, die Eerwaardige Engelse Kollege en Beda-kollege het almal met hul spanne om die Romeinse As meegeding totdat in die 1970’s die Villa in ’n openbare park omskep is. In 1964 het Australië tydens sy 1964-toer om die As na Engeland vir ’n wedstryd ’n tussenhalte in Rome gemaak.

Toe krieket in Rome aan die einde van die 1970’s op ander velde hervat is, het vier van die Villa Doria Pamphilj-veld se spelers in 1980 die Doria Pamphili-krieketklub gestig: die Italiaans-Sri Lankaanse Francis Alphonsus Jayarajah, die Italiaans-Indiese Massimo da Costa, die Australiese Desmond O’Grady en die Siriër Issam Kahale. In dieselfde tydperk is ook ietwat krieket in Noord-Italië gespeel. In 1972 is die Milaanse Krieketklub gestig en in 1981 die Euratom Krieketklub.

Die nasionale span se eerste jare Op 26 November 1980 is in Rome die Italiaanse Krieketfederasie (Italiaans: Federazione Cricket Italiana, F.CR.I.) as die Associazione Italiana Cricket gestig en hulle het in 1984 ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketkonferensie (IKK; nou Internasionale Krieketraad, IKR) geword en is in 1995 tot assosiaatlid gepromoveer. In 1983 is die Italiaanse Krieketkampioenskap vir die eerste keer beslis. Francis Alphonsus Jayarajah was sowel by die stigting van die nasionale beheerliggaam betrokke asook die Italianers se eerste kaptein. Hy was die eerste persoon van kleur wat Italië in enige sport aangevoer het.

Die Italiaanse span se eerste gedokumenteerde wedstryd was tydens hul eerste toer in 1984 na die Verenigde Koninkryk, waartydens hulle in Augustus ’n week se krieket teen plaaslike Londense krieketklubs gespeel het, wat met ’n nederlaag teen die Enfield-krieketklub begin het, maar hulle kon dié toer afsluit met hul eerste oorwinning in die laaste wedstryd oor Noord-Middlesex-krieketklub. In 1989 het die Italianers vir hul eerste internasionale wedstryd Denemarke besoek, waartydens die Dene 438 lopies aangeteken en dié eendagwedstryd met 409 lopies gewen het. Die eerste internasionale toernooi, waaraan Italië deelgeneem het, was die Europese Krieketbeker in Engeland in 1992. Een jaar later het die span aan die Europese Nasiesbeker deelgeneem en die Marylebone-krieketklub (MCC) het Italië besoek. In 1995 het die Italieners in Argentinië in ’n tweedaagse wedstryd onbeslis gespeel en die eendagwedstryd met vyf paaltjies gewen. In dieselfde jaar het hulle Israel gehuisves en albei eendagwedstryde gewen.

Ná jare se wedstryde teen buurlande soos Duitsland en Frankryk het Italië in 1996 aan die eerste Europese Kampioenskap in Denemarke deelgeneem en die sewende plek behaal nadat hulle Israel in die uitspeelwedstryd verslaan het. In dieselfde jaar het die span Namibië besoek, maar die driedaagse wedstryd met ’n beurt en ook albei eendagwedstryde verloor. In 1997 het die beheerliggaam met die aansluiting by die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee as ’n assosiaatlid sy huidige naam ontvang en in dieselfde jaar het hulle by die vastelandse beheerliggaam Europese Krieketraad (European Cricket Council, ECC) aangesluit. Aan die destyds IKR-trofee genoemde krieketwêreldbekerkwalifisering kon Italië, nadat hulle in 1995 ’n assosiaatlid van die IKR geword het, in 1997 in Maleisië vir die eerste keer deelneem. Die Italianers het egter swak vertoon en onder 22 deelnemers die laaste plek met Israel gedeel. Die daaropvolgende jaar se Europese Kampioenskap het hulle in die sesde plek geëindig, nadat hulle in die uitspeelwedstryd een van die grootste verrassende oorwinnings in die krieketgeskiedenis aangeteken het deur Engeland XI te verslaan. Ook in 1998 het die MCC Italië besoek.

In 1999 het Italië in Gibraltar saam met die gasheer, Frankryk en Israel aan ’n vierhoekige toernooi deelgeneem. Hulle het die toernooi gewen deur Gibraltar in die eindstryd te verslaan. Tydens die Europese Kampioenskap in die volgende jaar het hulle die afdeling een in die vyfde plek afgesluit en sou vervolgens deelneem aan die IKR-trofee 2001, die Krieketwêreldbeker 2003-kwalifiseringstoernooi, maar hulle het hulleself in die laaste minuut voor dié toernooi onttrek weens ’n geskil oor die geskiktheid van vier spelers wat deur hul geboorte Italiaanse burgers was, maar nie in Italië gebly het nie. Een jaar later is hierdie geskil opgelos, nadat die IKR burgerskap as ’n voorwaarde erken het om vir die nasionale span te verskyn.

Die Europese Kampioenskap 2002 se afdeling een het Italië in die sesde plek afgesluit, waarmee hulle na die afdeling twee gerelegeer is wat hulle in 2004 dadelik kon wen. Daarmee het die Italianers vir die IKR-trofee 2005 se uitspeelrondte vroeg in 2005 in Kuala Lumpur, Maleisië, gekwalifiseer, wat deel was van die Krieketwêreldbeker 2007-kwalifisering. Hulle het dié toernooi in die sewende plek afgesluit nadat hulle Zambië in die uitspeelwedstryd geklop het.

Hulle het in die Europese Kampioenskap 2006 se afdeling een die vyfde plek beklee. In Mei–Junie 2007 het die span Darwin besoek vir die Wêreldkrieketliga se afdeling drie, wat deel was van die Krieketwêreldbeker 2011-kwalifisering. Hulle het die sewende plek behaal nadat hulle Fidji in die uitspeelwedstryd verslaan het en daarmee na die Wêreldkrieketliga 2008 se afdeling vier gerelegeer is, wat hulle in die derde plek afgesluit het, waarmee hulle vir die Wêreldkrieketliga 2009–14 in dié afdeling 2010 aangebly het. Dit is in die Emilia-Romagna-streek beslis en die gasheer het die eindstryd gehaal, maar teen die Verenigde State met agt paaltjies vasgeval. Gevolglik is die Italieners na die Wêreldkrieketliga 2011 se afdeling drie gepromoveer, waar hulle die vierde plek beklee en daarmee vir die Wêreldkrieketliga 2013 in dié afdeling aangebly het. Die span het die kans gehad om vir die Krieketwêreldbeker 2015 te kwalifiseer as hulle die Wêreldkrieketliga 2013 se afdeling drie onder die twee beste spanne afsluit en daarna tydens die Krieketwêreldbekerkwalifisering 2013 dieselfde uitslag behaal. Italië het dié toernooi op ’n bemoedigende manier begin met oorwinnings oor Oman (met nege paaltjies) en die Verenigde State (met agt lopies), waarop egter nederlae gevolg het, eers naelskraap teen Ierland (met twee paaltjies) en toe swakker teen Kenia (met sewe paaltjies). Nadat hulle die toernooi in die laaste plek afgesluit en in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek teen Oman vasgeval het, is hulle na die Wêreldkrieketliga 2014 se afdeling vier gerelegeer.

In Maart 2012 het die Italianers in die Verenigde Arabiese Emirate aan die T20I-wêreldbeker 2012-kwalifisering deelgeneem, destyds hul hoogste vlak van internasionale deelname. Ná oorwinnings oor Oman, die Verenigde State en Uganda het hulle die uitspeelwedstryd om die negende plek gehaal, maar teen Kenia vasgeval. Een jaar later het hulle die T20I-wêreldbeker 2014-kwalifisering in die negende plek afgesluit ná oorwinnings oor die Verenigde State, asook die hoer geplaaste opponente die Verenigde Arabiese Emirate en Namibië in die uitspeelwedstryd om die negende plek.