duimnael|Namib-wildeperde in 2012. Die wilde perde van die Namib is 'n unieke natuurverskynsel in die suidedeel van Namibië. Hulle is nie slegs van toerismebelang nie, maar ook van wetenskaplike nut.
Waar? 'n Groep van ‘n paar honderd perde swerf rond by 26° 35′ suid, 16° 4′ oos, in 'n afgeleë area van 35 000 ha op die Garub-plato van die Namib-Naukluft Nasionale Park. Dit is die gebied rondom die Garub-spoorweghalte, die Dikwillem ('n berg) en die pad tussen Aus en Lüderitz en op ‘n hoogte van ongeveer 1500 m bo seespieël. Hierdie streek is deel van die sukkulente Karoo, die mees diverse woestyn op aarde.
Oorsprong Daar bestaan 'n paar teorieë oor die herkoms van hierdie perde. Hulle kan afstammelinge wees van perde wat 'n skeepsramp oorleef het of bloot ontsnap het by 'n boer of uit 'n Suid-Afrikaanse militêre basis tydens die Eerste Wêreldoorlog weggekom het. Ook kan die perde net laat loop is toe die Duitse kavallerie hulle na die Eerste Wêreldoorlog haastig aan hul kolonie Duits-Suidwes-Afrika onttrek het. Meer waarskynlik is egter dat die perde afstammelinge is van perde van die stoetery van baron Hansheinrich von Wolf van die Duwisib-kasteel. Hy het perde vir die koloniale polisie en die Duitse weermag uit Europa ingevoer, hulle gekruis met die plaaslike boerperd en 'n perd gekry geskik vir die plaaslike omstandighede. Von Wolf sneuwel egter in Frankryk en in die verwarring aan die einde van die oorlog kom van hierdie perde los. 'n Hings en enkele merries oorleef 'n tog van 'n 150 km suidwaarts in die woestyn en kom af op ‘n permanente waterbron, 'n trog by die pompstasie langs die spoorweghalte Garub.
Tans Die perde lewe in klein groepies van 4 of 5 ('n hings, 'n paar merries en enkele vullens) saam. Hulle trek tot 20 km per dag van die waterpunt na weiding en drink een maal per dag en soms slegs een maal in twee dae. Te danke aan die beskerming wat hulle geniet, die verskaffing van water en die voedsame gras het hulle tot 'n paar honderd aangeteel. Hulle is opvallend homogeen en kleiner gebou as ander perde. Dit is te wyte aan die feit dat hulle almal van 'n paar perde afstam en aan die barre natuuromstandighede waaraan hulle al geslagte lank blootgestel is. Die oorspronklike perde op Duwisib was almal van normale hoogte. Hierdie groep perde gee aan veeartsenykundiges 'n unieke kans om te sien hoe die fisiologie van perde oor geslagte heen aangepas het om te kan oorleef onder woestynomstandighede.
Bronnelys Coulson, David: The Wild Horses of the Namib. In: Optima. Deel 35, nr. 1, Maart 1987 Mannfred Goldbeck; Telané Greyling; Ron Swilling (2011). Wild horses in the Namib Desert: An Equine Biography. Windhoek. Sneddon, Jenny en Tammi Krecek en Johan Louw: Sturdy survivors thrive in the desert. In: Conserva. Departement van Omgewingsake. Deel 8, nr. 1, Januarie/Februarie 1993. ISSN 0258-3313 Sycholt, August: Ongetem in die woestyn. In: Suid-Afrikaanse Panorama. Jaargang 34, nr. 7, Augustus 1989. ISSN 0491-4783
Verwysings
Eksterne skakels
Webwerf van die "NAMIBIA WILD HORSES FOUNDATION"
Kategorie:Namibië Kategorie:Perde