Die Italiaanse Krieketfederasie (Italiaans: Federazione Cricket Italiana, afgekort “F.CR.I.”) is die bestuursliggaam wat krieket in Italië beheer. Die beheerliggaam is in 1980 gestig en in Rome gesetel. Sedert 1995 verteenwoordig dit Italië by die Internasionale Krieketraad (IKR) as ’n assosiaatlid en sedert 1997 ook by die Europese Krieketraad (European Cricket Council, “ECC”).
Geskiedenis Die Italiaanse Krieketfederasie (Italiaans: Federazione Cricket Italiana, F.CR.I.) is op 26 November 1980 in Rome as die Italiaanse Krieketvereniging (Associazione Italiana Cricket) gestig. In 1984 het hulle ’n geaffilieerde lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) geword en in 1995 ’n assosiaatlid. Daarbenewens was die Italiaanse beheerliggaam in 1997 ’n stigtingslid van die Europese Krieketraad. In dieselfde jaar het die beheerliggaam by die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee as ’n assosiaatlid aangesluit en sy huidige naam aangeneem. Ná die opname van krieket in die Olimpiese Somerspele 2028 in Los Angeles se program het die Italiaanse Krieketfederasie op 11 Julie 2024 ’n volle lid van die Italiaanse Nasionale Olimpiese Komitee geword.
Taak Die Italiaanse Krieketfederasie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Italië se nasionale seniormanskrieketspan (Gli Azzurri), vroue (Le Azzurre) en jeug. Hulle is ook verantwoordelik vir die bestuur en organisasie van T20I-reekse teen ander spanne, en vir die reël van internasionale wedstryde tuis. Daarbenewens is die Italiaanse Krieketfederasie verantwoordelik vir inkomsteverkryging deur die verkoop van kaartjies, borgskappe en uitsaairegte, veral in verband met die Italiaanse span.
Kinders en jongmense word reeds op skool aan krieket bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hulle met hul afrigting.
Kenteken Die embleem van Italië toon ’n paaltjie in die Italiaanse vlagkleure (groen, wit en rooi) en daarvoor ’n kolwer.
Sien ook
Italiaanse Rugbyfederasie
Verwysings
Bronnelys
Eksterne skakels Amptelike webwerf van die Italiaanse Krieketfederasie
Kategorie:Krieket in Italië Kategorie:Krieketbeheerliggaam Kategorie:Internasionale Krieketraad