Moerad Olegovitsj Moesajef (Russies: Мурад Олегович Мусаев; gebore 10 November 1983) is ’n Russiese sokkerafrigter en die huidige hoofafrigter van SK Krasnodar.

Loopbaan

Hy het die onder-19-span van SK Krasnodar na die uitspeelrondte van die 2017–18 UEFA Jeugliga gelei, waar hulle voor ’n uitverkochte Krasnodar Stadion in ’n strafskopwedstryd deur Real Madrid uitgeskakel is.

Op 3 April 2018 is hy na die aflegging van Igor Sjalimov as waarnemende afrigter van SK Krasnodar aangestel. Ná sy tydperk as waarnemer in vroeg Mei, kon hy nie by die Russiese Premierliga geregistreer word as afrigter nie, weens die gebrek aan ’n UEFA Pro Lisensie (Moesajef het destyds net ’n UEFA B Lisensie gehad). Oleg Fomenko is formeel as hoofafrigter geregistreer, met Moesajef as senior assistent, maar Moesajef het in praktyk steeds die span bestuur. Hy het later in 2018 sy UEFA A Lisensie ontvang, maar dit het hom steeds nie geregtig gemaak om as hoofafrigter geregistreer te word nie. Voor die 2019–20-seisoen het Fomenko na SK Krasnodar-2 oorgeskakel en Sergej Matvejef is as hoofafrigter aangestel. Moesajef het sy UEFA Pro Lisensie in die somer van 2020 geslaag en is op 20 Junie 2020 amptelik as hoofafrigter van Krasnodar by die liga geregistreer. Hy het Krasnodar gelei na hul eerste kwalifikasie vir die groepfase van die UEFA Champions League in die 2020–21-seisoen. Hy het op 3 April 2021 bedank na ’n reeks swak resultate toe die 2020–21-seisoen hervat is ná ’n winterpouse, insluitend die klub se grootste nederlaag ooit (1–6 teen Spartak Moskou uit) en grootste tuisnederlaag ooit (0–5 teen SK Achmat Grozni).

Op 30 Oktober 2021 het hy ’n tweejaarkontrak met die Azerbeidjaanse Premierliga-klub Sabah geteken. Op 1 Februarie 2024 het Sabah aangekondig dat Moesajef sy rol as hoofafrigter verlaat het nadat sy bedanking aanvaar is.

Op 14 Maart 2024 het Krasnodar die terugkeer van Moesajef as hoofafrigter van die klub aangekondig, op ’n kontrak tot die einde van die seisoen. Op 29 Mei 2024 is sy kontrak met Krasnodar verleng tot Junie 2026.

Krasnodar het die 2024–25 Russiese Premierliga-seisoen begin met 14 wedstryde sonder nederlaag, insluitend ’n klubrekord van 11 opeenvolgende oorwinnings, wat hulle bo-aan die liga geplaas het. Op 24 Mei 2025 het Krasnodar die Russiese Kampioenskap vir die eerste keer in die klub se geskiedenis gewen.

Persoonlike lewe

Aan sy pa se kant is hy van Oesbekse en Russiese afkoms, die kleinseun van ’n Oesbek van Boechara, en aan sy ma se kant is hy Russies.

Verwysings

Kategorie:Sokkerafrigters Kategorie:Geboortes in 1983 Kategorie:Lewende mense