Die nasionale vlag van Litaue (Litaus: Lietuvos vėliava) is op 18 November 1988 amptelik in gebruik geneem. Die vlag vertoon ’n horisontale driekleur in geel, groen en rooi.
Dit is op 25 April 1918 vir die eerste keer amptelik in gebruik geneem tydens Litaue se eerste tydperk van onafhanklikheid (1918–1940) wat beëindig is eers met die besetting deur die Sowjetunie en daarna deur Nazi-Duitsland (1941–1944). Tydens die naoorlogse, tweede Sowjetse besetting van 1945 tot 1988 is die vlag van die Litause Sosialistiese Sowjetrepubliek gebruik bestaande uit ’n generiese rooi Sowjetse vlag met die naam van die republiek op wat in 1953 verander is in die rooi vlag met wit en groen bane onder.
Daarna is die Litause vlag op 18 November 1988 amptelik weer in gebruik geneem, sowat een en ’n half jaar voordat Litaue sy onafhanklikheid herwin het en byna drie jaar voor die Ontbinding van die Sowjetunie. In 2004 is die laaste verandering aan die vlag aangebring, toe die verhouding verander is van 1:2 tot 3:5.
Geskiedenis Historiese staatsvlag Die vroegste bekende vlae met ’n Litause identiteit is gedokumenteer in die 15de-eeuse Banderia Prutenorum geskryf deur Jan Długosz. Tydens die Slag van Tannenberg in 1410 was twee verskillende vlae teenwoordig. Die meeste van die 40 regimente het ’n rooi vaandel met ’n berede, agtervolgende ridder op gedra. Dié vlag, Vytis genoem, het uiteindelik die Litause oorlogsvlag geword en in 2004 weer die staatsvlag. Die ander regimente het ’n rooi vaandel met die pilare van Gediminas gedra. Diegene met die Vytis was deel van die Groothertogdom Litaue se leër, terwyl dié met die pilare van Gediminas Litause adellikes was. Tot aan die einde van die 18de eeu, toe dit deur die Russiese Ryk geannekseer is, het die Groothertogdom Litaue die Vytis as sy vlag gebruik.
Ontwerp van die huidige vlag duimnael|Die Vilnius-konferensie in 1917 met die Vytis duimnael|Die Litause driekleur by die Kultuurkongres in Kaunas, 1927 Die oorsprong van die geel-groen-rooi-driekleur val in ’n tydperk waar ander Europese republieke hul vlae verander het. Een voorbeeld wat die driekleur geïnspireer het, was die vlag van Frankryk in blou, wit en rooi wat ná die Franse Rewolusie in 1789 aangeneem is. Die enigste driekleur wat voorheen in Litaue gebruik is, was die groen, wit en rooi van Klein-Litaue.
Dit is nie bekend deur wie die kleure geel, groen en rooi voorgestel is nie, maar dié idee word gewoonlik toegeskryf aan Litauers wat in die 19de eeu in ballingskap êrens in Europa of in die Verenigde State gebly het. Hierdie drie kleure kan dikwels in volksweefskuns en die tradisionele kleredrag gevind word. Tydens die Groot Seimas van Vilnius in 1905 is hierdie vlag bo die Vytis as die vlag van die Litause nasie gekies. Die Vytis, waarvan Jonas Basanavičius ’n sterk voorstander was, is om drie redes nie gekies nie: die eerste was dat die Seimas as deel van die strewe na nasionale identiteit afstand wou doen van die Groothertogdom Litaue se vlag omdat dit ook afsonderlike lande soos Belarus en Oekraïne ingesluit het. Die tweede rede was die gebruik van die rooi kleur deur rewolusionêres wat hulleself vereenselwig het met Marxistiese of Kommunisme. En laastens was die vlag Vytis te ingewikkeld om maklik herkenbaar te wees.
Tydens die Vilnius-konferensie in 1917 het die vlagdebat weer opgekom. Die twee kleure groen en rooi is gekies weens hul voorkoms in die volkskuns. Die kunstenaar Antanas Žmuidzinavičius het die konferensiesaal met klein rooi en groen vlaggies versier. Die afgevaardigdes het egter nie van die ontwerp gehou nie aangesien dit te donker en mistroostig was. Toe het Tadas Daugirdas voorgestel om ’n smal geel baan by te voeg (om die son te verteenwoordig) tussen die rooi (wolke wat deur die oggendson verlig word) en groen (velde en woude). Die afgevaardigdes het egter daarop besluit om dié saak aan ’n spesiale kommissie te oorhandig, bestaande uit Basanavičius, Žmuidzinavičius en Daugirdas. Op 19 April 1918 het hulle hul finale protokol aan die Raad van Litaue voorgelê. Die voorgestelde vlag was ’n driekleur (bo geel, groen in die middel en onder rooi) met die Vytis in die skildhoek of in die middel. Die raad het die voorstel aanvaar, maar die 1922-grondwet van Litaue noem nie die wapen nie. Dit het die nasionale vlag aangeneem wat vandag gebruik word. Enige van die debatte kon nie ’n historiese vlag oplewer nie. Die debat oor die nasionale vlag het voortgegaan; sy teenstanders het goud as ’n onvanpaste kleur beskou, aangesien die kombinasie van geel, groen en rooi nie aan die bestaande reëls van heraldiek voldoen het nie. In die tussenoorlogse tydperk is egter geen veranderinge aan die vlag aangebring nie.
Sowjetse besetting
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Litaue beset deur die Sowjetunie (1940–1941 en 1944–1990) en Nazi-Duitsland (1941–1944). Die gebruik van die nasionale vlag in hierdie tydperk is verbied en vervolg. Tydens die Sowjetse besetting (1944–1988) is twee vlae gebruik: onmiddellik ná die oorlog het die vlag bestaan uit ’n rooi veld, goue hamer en sekel met die Latynse karakters LIETUVOS TSR (Litause SSR in Litaus) daarbo in ’n goue sans-serif-lettertipe. Dié vlag is in 1953 vervang deur die laaste vlag wat deur die Litause Sosialistiese Sowjetrepubliek gebruik is — ’n rooi vlag met die hamer en sekel en ster in die skildhoek. Onderaan die vlag was ’n horisontale baan in wit en groen. Die vlag se rooi veld was 2⁄3 van die vlag se hoogte, die wit baan 1⁄12 en die groen baan 1⁄4. Sedert Litaue Sowjet-simbole in 2008 verbied het, is dit onwettig om die Litause SSR-vlag in die openbaar te hys of andersins te gebruik.
Restourasie In 1988, toe die Litause onafhanklikheidsbeweging momentum verkry het, het die Litause Opperste Sowjet weer die driekleur as die nasionale vlag erken deur artikel 168 van die Litause SSR se grondwet te wysig. Die vlag is bepaal as ’n horisontale driekleur bestaande uit drie ewe bane: die boonste is geel, die middel is groen, die onderste is rooi; die vlagverhouding is 1:2 (soos dié van Sowjet-vlae). Dié vlag is bevestig deur die voorlopige grondwet op 11 Maart 1990 artikel nr. I-10.
Ná onafhanklikheid van die Sowjetunie is die driekleurvlag ingeskryf in die nuwe grondwet van Litaue wat deur ’n 1992-referendum aangeneem is. Dié grondwet het nie die vlagverhouding bepaal nie, waarvolgens dit tot in 2004 1:2 gebly het, toe die 1991-wet “op die nasionale vlag en ander vlae” op 8 Julie 2004 deur wet nr. IX-2331 hersien en die vlagverhouding in 3:5 verander is.
Vorige vlae
Ontwerp duimnael||Die vlag van Litaue op die Grootvorstepaleis van Litaue duimnael|’n Wapperende Litause vlag Die Litause vlag het die volgende tegniese ontwerp:
350px|senter|Konstruksietekening
Simboliek Die Wet van die Republiek Litaue oor die Litause staatsvlag (Wet Nr. I-1497) is op 26 Junie 1991 goedgekeur en bepaal die ontwerp, grootte en gebruik van die staatsvlag. Dié wet is op 8 Julie 2004 (Wet Nr. IX-2331) gewysig en die mees noemenswaardige verandering sluit in die verandering van die nasionale vlag se verhouding van 1:2 tot 3:5 en die amptelike goedkeuring van ’n historiese vlag as die staats- (regerings-) vlag. Die wysiging het op 1 September 2004 in werking getree, nadat dit deur president Valdas Adamkus onderteken is.
Die vlag se geel kleur verteenwoordig die son en voorspoed, groen die woude, landskap, vryheid en hoop, en die rooi die bloed en dapperheid van diegene wat vir Litaue gesneuwel het. Die presiese kleurskakerings van beide die nasionale en staatsvlag is bepaal volgens die ooreenstemmende Pantone-stelsel, spesifiek die Pantone-tekstielpapier (TP). Die verhouding van beide die nasionale en staatsvlag moet 3:5 wees en die standaard vlaggrotte 1,0 by 1,7 meter. Verskeie grottes van die vlag mag vervaardig word, maar hulle moet aan die vereiste kleurkodes en verhouding voldoen wat in die wet bepaal word. Die amptelike Pantone-kleure word sedert 2004 gepubliseer; die lys hieronder toon die amptelike kleure en hul voorgestelde ekwivalente:
Kleure Die kleurskema word hieronder gelys:
40pxKleurskema Geel Groen Rooi Pantone 15-0955 TP / 1235 c/u 19-6026 TP / 349 c/u 19-1664 TP / 180 c/u RGB 253, 185, 19 0, 106, 68 193, 39, 45 Webkleure #FDB913 #006A44 #C1272D CMYK 0, 30, 100, 0 100, 55, 100, 0 25, 100, 100, 0
(Historiese) staatsvlag duimnael|Gehyste vlae by die Huis van die ondertekenaars op 16 Februarie 2007 duimnael|Die staatsvlag (bo) en die nasionale vlag tydens EuroBasket 2011 in Litaue In 2004 is, saam met die wet wat die wysiging van die vlagverhouding gemagtig het, ’n staatsvlag aangeneem. Dié vlag toon die nasionale wapen in ’n vaandelvorm. Die vlagverhouding is dieselfde as dié van die nasionale vlag, d.w.s. 3:5. Die staatsvlag, in die wet historiese nasionale (heraldiese) vlag genoem, Artikel 2(2) Wet Nr. I-1497, soos gewysig is voorgestel deur Česlovas Juršėnas, die adjunkspeaker van die Seimas, en deur Edmundas Rimša, die voorsitter van die Kommissie vir Heraldiek. Hierdie vlag is ook gelyktydig met die groot wapen voorgestel; albei is bedoel om die 750ste herdenking van Mindaugas se kroning in 1253 te herdenk (dié herdenking was in 2003). Tydens die strewe na nasionale onafhanklikheid was dit een van die min vlae wat beskou is om die nasionale vlag te word. Verskeie ander lande, waaronder Finland, Spanje, Venezuela, Duitsland en Thailand, het ’n amptelike nasionale vlag vir burgerlike gebruik en ’n staatsvlag vir regeringsgebruik.
In 2008 is die projek vir die opstel van die staatsvlag deur die Kommissie van Heraldiek begin en dit het in 2010 sy werk voltooi. Die ontwerper van die (historiese) staatsvlag is Arvydas Každailis wat ook die wapen ontwerp het. Op 17 Junie 2010 is hierdie staasvlagvoorstel aangeneem.
Kragtens die nasionale vlagwet word die staatsvlag permanent op drie plekke gehys: die Grootvorstepaleis van Litaue, die Trakai-kasteel en die Vytautas-Magnus-militêre museum. Daarbenewens word die staatsvlag op sekere dae by die volgende plekke gehys:
16 Februarie – by die Huis van die ondertekenaars in Pilies-straat in Vilnius 11 Maart – by die Seimas-paleis in Vilnius 6 Julie – by die Presidentspaleis in Vilnius 15 Julie – by die Departement van Verdediging 25 Oktober – by die Seimas-paleis, die Presidentspaleis en die Litause Regeringsgebou in Gediminaslaan
Vlagprotokol duimnael|Vertikale vertoning van die Litause vlag Die vlag mag vertikaal of horisontaal gehys word op openbare geboue, privaat huise, maatskappye, skepe, stadspleine of tydens amptelike seremonies. Wanneer die vlag horisontaal gehys word, moet die geel baan bo wees; wanneer die vlag vertikaal gehys word, moet die geel baan links wees en die rooi baan regs. Terwyl die vlag van sonop tot sononder gehys moet word, moet regeringsgeboue in Litaue en oorsee die vlag 24 uur laat wapper. Die vlae moet aan die wetlike standaarde voldoen en mag geensins vuil of beskadig wees nie.
Vir roudienste kan die vlag op een van die volgende maniere gehys word. Die eerste metode is om die vlag halfstok te hys, waarby die vlag kort tot volle hoogte gehys en daarna tot een derde van die vlagpaal laat saak word. Die ander metode is om ’n swart lint by ’n vlag aan te heg wat permanent aan ’n vlagpaal vasgebind is. Die lint is tien sentimeter in lengte en dit word aan die vlagpaal vasgebind sodat die einde van die lint aan die einde van die vlag raak. Tydens ’n begrafnisdiens mag die vlag gebruik word om die doodskis van regeringsamptenare, soldate, ondertekenaars van die Wet van die Herinstelling van die Staat Litaue en persone wat deur die president aangewys word te bedek; hierdie vlae word later gevou en voor die begrafnis aan die naasbestaandes oorhandig.