280px|thumb|'n Voorstelling van 'n insel (links) en 'n paartjie. Insel (IFA: ; 'n kombinasiewoord van "involuntêre, of onvrywillige, selibaat") is 'n term wat verbind word met 'n aanlyn subkultuur van hoofsaaklik manlike, heteroseksuele mense wat hulleself definieer as nie in staat om 'n romantiese of seksmaat te vind nie ondanks die feit dat hulle een wil hê. As gevolg daarvan blameer, objektiviseer en verguis hulle dikwels vroue en meisies. Die oorspronklike Engelse term, invcel, wat omstreeks 1997 uitgedink is deur 'n Kanadese vrouestudent bekend as Alana, het teen 1999 verander in incel. Dit het in die 2010's algemeen bekend geword weens die invloed van die vrouehaatterroriste Elliot Rodger en Alek Minassian.

Die subkultuur se aanlyn gesprekke word gekenmerk deur wrokke, vyandigheid, seksuele obektivisering, vrouehaat, selfbejammering en selfhaat, rassisme, 'n gevoel van 'n reg op seks, en die blamering van vroue en mense wat seks het vir hulle situasie. Mettertyd het die subkultuur verbind geraak met ekstremisme en terrorisme, en sedert 2014 was daar verskeie massamoorde, meestal in Noord-Amerika, wat gepleeg is deur mense wat hulle as insels beskou, asook ander voorvalle van geweld en pogings tot geweld.

Volgens die Global Internet Forum to Counter Terrorism "deel die inselgemeenskap 'n vrouehaat-ideologie wat vroue as geneties minderwaardig aan mans beskou en as gedryf deur hulle begeerte om met geneties meerderwaardige mans voort te plant, en dit sluit onaantreklike mans soos hulleself uit". Dit "toon al die kenmerke van 'n ekstremistiese ideologie". Dit is die kombinasie van 'n begeerte na 'n mitiese verlede waar alle mans geregtig was op seks met ondergeskikte vroue, 'n gevoel van voorafbepaalde persoonlike mislukking en nihilisme wat hierdie wêreldbeskouing gevaarlik maak.

Ramings van die totale grootte van die subkuluur wissel grootliks: van duisende tot honderdduisende individue.

Geskiedenis Die eerste webtuiste wat die term "insel" gebruik het, was "Alana's Involuntary Celibacy Project", wat in 1997 begin is deur 'n Kanadese student wat net as Alana bekend is om haar seksuele onaktiwiteit met ander te deel. Die webtuiste is deur mense van alle genders en seksuele oriëntasies gebruik om hulle gedagtes en ondervindings te deel. In 1997 het sy 'n poslys begin onder die naam INVCEL, maar wat later in "insel" verander is, vir "enigiemand van enige gender wat eensaam is, nog nooit seks gehad het of in 'n lang tyd 'n verhouding gehad het nie".

Tydens haar universiteitsjare het Alana besef sy is biseksueel en het sy meer op haar gemak geraak met haar identiteit. Omstreeks 2000 het sy ophou deelneem aan haar aanlyn projek en die webtuiste vir 'n vreemdeling gegee. Toe sy lees van die Isla Vista-moorde van 2014, en dat dele van die insel-subkultuur die aanvaller ophemel, het sy geskryf: "Nes 'n wetenskaplike wat iets uitvind wat eindelik as 'n oorlogswapen gebruik word, kan ek nie dié woord terugtrek of dit beperk tot die gawer mense wat dit nodig het nie." Sy het gesê sy is jammer oor die verandering in gebruik van haar oorspronklike bedoeling.

In 2003 is die boodskapsbord love-shy.com gestig as 'n plek vir mense wat verwerp voel of uiters skaam vir potensiële maats is. Die ledetal was hoofsaaklik manlik. Oor die volgende dekade het die ledetal al hoe meer oorvleuel met dié van aanlyn regse gemeenskappe soos 4chan. In die 2000's het inselgemeenskappe ekstremistieser geraak en het hulle gedrag aanvaar wat algemeen is van 4chan en Reddit, waar ekstremistiese boodskappe aangemoedig word as 'n manier om sigbaarheid te vergroot.

Die r/incels-subreddit, 'n forum op die webtuiste Reddit, het later 'n besonder aktiewe inselgemeenskap geword. Dit was bekend as 'n plek waar mans vroue blameer omdat hulle insels is en waar verkragting en ander vorme van geweld dikwels gepredik is. Dit was vol vrouehaat en dikwels rassisme. Op 7 November 2017 het Reddit die subreddit verban nadat dit 'n nuwe beleid aanvaar het wat inhoud verbied "wat oproepe om geweld of fisieke leed teen enige individu of groep mense aanmoedig, ophemel of aanhits. Die gemeenskap het toe sowat 40 000 lede gehad.

Die inselgemeenskappe het verskuif na ander subreddits, soos r/braincels. Toe Reddit dit ook verbied, het die gemeenskappe weg van gedeelde platforms beweeg na hulle eie, geslote forums.

In die 2010's het die subkultuur onder groter openbare aandag gekom toe 'n reeks massamoorde gepleeg word deur mans wat óf as lede van die subkultuur geïdentifiseer het óf soortgelyke ideologieë gehad het.

Ekstremisme Van die 2010's af het inselgemeenskappe ekstremistieser en meer op geweld gefokus geraak. Dit is toegeskryf aan faktore soos die invloed van oorvleuelende aanlyn haatgroepe en die opkoms van groepe vir alternatiewe regses en wit heerssugtiges.

Die retoriek van vrouehaat en geweld van sommige lede het daartoe gelei dat hulle van verskeie webtuistes en verbied is.

Inselgemeenskappe het bly bestaan op toegeefliker platforms soos 4chan, 8chan en Gab, sowel as op webforums wat spesifiek vir dié onderwerp geskep is. Ekstremistieser insels migreer ook toenemend na obskure lokasies soos speletjiekletskamers (soos Discord) en die donker web om selfsensuur te systap wat al hoe meer deur inselgemeenskappe toegepas word om aandag te vermy.

Van 2018 af en tot in die 2020's is die insel-ideologie deur Noord-Amerikaanse owerhede beskryf as 'n terrorismebedreiging, en wetstoepassers het waarskuwings oor die subkultuur uitgereik. In Mei 2019 het 'n Amerikaanse man tronkstraf van tot vyf jaar gekry omdat hy dreigemente van terrorisme gemaak het, onder meer: "Ek gaan al die meisies skiet wat ek sien."

Ideologie 240px|thumb|'n Bekende meem van die inselgemeenskap, waarvolgens die soeke na maats onewewigtig is.

Baie inselgemeenskappe word gekenmerk deur wrokkigheid en haat, selfbejammering, rassisme en vroue- en mensehaat. Besprekings fokus dikwels op die oortuiging dat mans geregtig is op seks. Ander algemene onderwerpe is ledigheid, eensaamheid, ongelukkigheid, selfmoord en prostitusie, asook eienskappe wat hulle glo 'n mens se begeerlikheid as 'n maat vergroot, soos voorkoms, inkomste of persoonlikheid. Die inselgemeenskappe deel 'n slagofferidentiteit, waar individue hulle mislukkings vier en mekaar afraai om romantiese sukses te wil behaal.

Teenstand teen feminisme en vroueregte is algemeen. Sommige lede blameer vrouebevryding vir hulle onvermoë om 'n maat te kry. Sommige glo daar was 'n goue era waarin paartjies vroeg getrou het, streng monogaam was en gehou het by tradisionele genderrolle. Hulle glo in dié tyd het voorkoms 'n minder belangrike rol gespeel in romantiese verbindings en mans se "reg" op seks is nooit teengestaan nie. Die mense wat dit glo, stem dikwels nie saam oor wanneer dié era plaasgevind het nie, maar stem saam dit is geleidelik vernietig deur feminisme, die seksrevolusie, vrouebevryding en tegnologiese vooruitgang. Aleksei Podnebesni, 'n prominente lid van die Russiese insel- en antifeminismegemeenskap, het 'n teorie van "vaginokapitalisme" (van "vagina" en "kapitalisme") beskryf waardeur vroue mans ontneem van hulle reg om seks te hê en wat mans dwing om op die een of ander manier vir seks te betaal.

Rassisme word dikwels beskou as algemeen op inselforums, hoewel sommige navorsers dit bevraagteken. In 2019 het Jaki et al. geraam dat 3 persent van opmerkings op inselforums woorde van 'n lys rassistiese terme bevat wat deur die navorsers opgestel is. Antisemitiese oortuigings word dikwels op inselforums aangetref. Sommige lede blameer selfs Jode vir die opkoms van feminisme as 'n sameswering om die Westerse wêreld te verswak.

"Swart pil" Die "swart pil" verwys na 'n stel oortuigings wat deur die meeste lede van inselgemeenskappe gehandhaaf word. Dit sluit in biologiese noodwendigheid, fatalisme en verydeling vir onaantreklike mense.

Die Vox-korrespondent Zack Beauchamp het die swart pil beskryf as 'n "uiters seksistiese ideologie wat... neerkom op 'n verwerping van vroue se seksuele bevryding en vroue etiketteer as vlak, wrede skepsels wat net die aantreklikste mans sal kies as hulle kan". Die term is die eerste keer gewild gemaak op die blog Omega Virgin Revolt, waar dit die oortuiging verteenwoordig het dat die hele sosiale stelsel gebreek is en 'n mens se plek in die stelsel nie iets is wat enige individu kan verander nie. Iemand wat die swart pil gedrink het, het die oortuiging aanvaar dat hulle hulpeloos is en dat hulle gebrek aan romantiese en seksuele sukses permanent is, ongeag enige veranderings wat hulle aan hulle voorkoms, persoonlikheid en ander eienskappe maak.

Mans wat hulle as insels beskou, handhaaf dikwels idees soos "vroulike hipergamie"; die genetiese meerderwaardigheid van mans teenoor vroue; die "80/20-reël" (waarvolgens 80% van vroue 20% van mans as begeerlik beskou); en, onder gekleurde lede, die "wees net wit"-teorie, waarvolgens wit mense die minste struikelblokke sou ondervind na verhoudings en seks.

Sulke mans glo ook mense wat 'n romantiese of seksmaat soek, neem deel aan 'n wrede, baatsugtige en Darwinistiese seksuele seleksie, waar insels as geneties onwaardig beskou word en vroue 'n voordeel het vir redes wat wissel van feminisme tot grimering., registrasie nodig Insels kan hulle gebrek aan seksuele sukses toeskryf aan faktore soos skaamheid, werkplekke met geslagsegregasie, 'n negatiewe liggaamsbeeld, penisgrootte of fisieke voorkoms. Hulle glo gewoonlik die enigste ander ding wat 'n man se hubaarheid verhoog, is geld.

"Rooi pil" thumb|links|280px|Die metafoor van die rooi pil kom uit The Matrix. Die "rooi pil" is 'n term at algemeen in die manosfeer en sommige ander gemeenskappe gebruik word. Dit kom van die dilemma in die rolprent The Matrix, waar die hoofkarakter moet kies of hy in 'n wêreld van illusie wil bly (deur die blou pil te drink) en of hy die wêreld wil sien soos dit regtig is (deur die rooi pil te drink).

Onder gemeenskappe wat die term gebruik, verwys die rooi pil na die kernoortuigings van dié gemeenskap. In manosfeergemeenskappe soos mansregtegroepe, en volgens sommige navorsers ook in die inselgemeenskap, beteken "om die rooi pil te drink" om die wêreld te sien waar feminisme vroue te veel regte bo mans gegee het en waar manlike bevoorregting nie bestaan nie.

Die swart pil is 'n uitbreiding van die rooipil-analogie. Die terme oorvleuel soms. Sommige navorsers en joernaliste gebruik die term "rooi pil" in verwysings na mansregtegroepe en "swart pil" om die insel-ideologie op te som.

In 2019 het navorsers van die Anti-Defamation League (ADL) geskryf sommige insels glo in die rooi pil en ander in die swart pil. Dié wat glo hulle kan hulle kanse by vroue verbeter, is aanhangers van die rooi pil, terwyl ander insels wat glo daar is niks wat hulle kan doen aan hulle situasie in die gemeenskap en by vroue nie, die swart pil aanhang. Volgens die ADL glo eersgenoemde groep hulle kan hulle posisie in die gemeenskap wat hulle te na kom, verbeter deur hulle aantrekliker vir vroue te probeer maak. Laasgenoemde groep is die mense wat die inselbeweging "die eienskappe van 'n doodskultus laat aanneem". Hulle het min opsies, gooi handdoek in oor die lewe (wat insels beskryf as LDAR, 'n afkorting vir lie down and rot) en pleeg selfmoord of massageweld.

Bevordering van geweld thumb|170px|Baie insels beskou Elliot Rodger as 'n "heilige".

Sommige besprekings in inselgemeenskappe onderskryf geweld teen seksueel aktiewe vroue en mans wat seksueel suksesvoller is, die teistering van vroue en selfmoord. Volgens die ADL is hulle die gewelddadigste gemeenskap in die manosfeer.