Simon Wiesenthal (31 Desember 1908 – 20 September 2005) was 'n Oostenryks-Joodse Holocaustoorlewende, Nazijagter en skrywer. Hy het argitektuur studeer en het in Lwow gewoon ten tyde van die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Hy het die Janowska-konsentrasiekamp (laat 1941 tot September 1944), die Kraków-Płaszów-konsentrasiekamp (September tot Oktober 1944), die Gross-Rosen-konsentrasiekamp, 'n doodsoptog na Chemnitz, Buchenwald en die Mauthausen-konsentrasiekamp (Februarie tot Mei 1945) oorleef.

Ná die oorlog het Wiesenthal sy lewe gewy aan die opsporing van voortvlugtende Nazi-oorlogsmisdadigers en die versameling van inligting oor hulle, sodat hulle verhoor kon word. In 1947 was hy 'n medestigter van die Joodse Historiese Dokumentasiesentrum in Linz, Oostenryk, waar hy en ander inligting versamel het vir toekomstige oorlogsmisdadigersverhore en Joodse vlugtelinge gehelp het om verlore familielede op te spoor. In 1961 het hy die Dokumentasiesentrum van die Vereniging van Joodse Slagoffers van die Naziregime in Wene geopen en het hy voortgegaan om vermiste Nazi-oorlogsmisdadigers te soek. Hy het 'n klein rol gespeel in die opsporing van Adolf Eichmann, wat in 1960 deur die Mossad in Buenos Aires gevang is, en het nou saamgewerk met die Oostenrykse departement van justisie om 'n dossier voor te berei oor Franz Stangl, wat in 1971 tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is.

In die 1970’s en '80’s was Wiesenthal betrokke by twee hoëprofielgebeure wat Oostenrykse politici betrek het. Kort nadat Bruno Kreisky in April 1970 as Oostenrykse kanselier ingehuldig is, het Wiesenthal aan die pers uitgewys dat vier van sy nuwe kabinetslede lede van die Naziparty was. Die woedende Kreisky het Wiesenthal 'n "Joodse fascis" genoem, sy organisasie met die Mafia vergelyk en hom daarvan beskuldig dat hy met die Nazi’s saamgewerk het. Wiesenthal het hom suksesvol vir laster gedagvaar, en die saak is in 1989 afgehandel. In 1986 was Wiesenthal betrokke by die saak van Kurt Waldheim, wie se diens in die Wehrmacht en waarskynlike kennis van die Holocaust aan die lig gekom het tydens die aanloop tot die Oostenrykse presidentsverkiesing van 1986. Wiesenthal, verleë omdat hy Waldheim vroeër van enige wangedrag vrygespreek het, het negatiewe publisiteit as gevolg hiervan ontvang.

Wiesenthal het ’n reputasie as storieverteller gehad en was die skrywer van verskeie memoires met verhale wat net losweg op werklike gebeure geskoei is. Hy het veral sy rol in die gevangneming van Eichmann in 1960 oordryf. Wiesenthal is in 2005 in sy slaap in Wene oorlede op die ouderdom van 96, en is in die stad Herzliya in Israel begrawe. Die Simon Wiesenthal-sentrum, met sy hoofkantoor in Los Angeles, is na hom genoem.

Vroeë lewe thumb|links|200px|Simon Wiesenthal omstreeks 1940-'45.

Wiesenthal is op 31 Desember 1908 gebore in Buczacz, Koninkryk Galisië en Lodomerië, toe deel van Oostenryk-Hongarye en nou Ternopil-oblast in Oekraïne. Sy pa, Asher Wiesenthal, was ’n groothandelaar wat in 1905 uit die Russiese Ryk geëmigreer het om die gereelde pogroms teen Jode te ontvlug. Hy is in 1914 met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog opgeroep vir aktiewe diens. Hy is in 1915 in 'n geveg aan die oostelike front dood. Die res van die familie het na Wene gevlug toe die Russiese leër beheer van Galisië oorneem. Wiesenthal en sy jonger broer, Hillel, het ’n Duitssprekende Joodse skool bygewoon. Die familie het in 1917 teruggekeer na Buczacz nadat die Russe onttrek het. Die gebied het verskeie kere van beheer verander voordat die oorlog in November 1918 geëindig het.

Wiesenthal en Hillel het die Humanistiese Gimnasium in Buczacz bygewoon, waar Simon sy toekomstige vrou, Cyla Müller, ontmoet het. Hillel het in 1923 geval en sy rug gebreek en is die volgende jaar oorlede. Sy ma, Rosa, het in 1926 weer getrou en na Dolina, Oekraïne, verhuis saam met haar nuwe man, Isack Halperin, wat daar ’n teëlfabriek besit het. Wiesenthal het in Buczacz gebly totdat hy in 1928 hoërskool voltooi het.

Met ’n belangstelling in kuns en teken het Wiesenthal besluit om argitektuur te studeer. Sy eerste keuse was om aan die Lwowse Politegnikum te studeer, maar hy is toegang geweier omdat die skool se Joodse kwota reeds gevul was. Hy het toe by die Tsjeggiese Tegniese Universiteit in Praag ingeskryf, waar hy van 1928 tot 1932 studeer het. Hy het tot 1935 as bou-ingenieur in opleiding gewerk, en die meeste van daardie tyd in Odessa deurgebring. Hy is in 1936 met Cyla getroud nadat hy na Galisië teruggekeer het.

Bronne verskaf verskillende weergawes van wat daarna gebeur het. Wiesenthal se outobiografieë weerspreek mekaar op baie punte; hy het ook gebeure oordramatiseer en gemitologiseer.

Tweede Wêreldoorlog In Europa het die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 begin met die inval van Pole deur Duitsland en die Sowjetunie. As gevolg van die daaropvolgende verdeling van Pole ingevolge die Molotof-Ribbentrop-verdrag is die stad Lwow deur die Sowjetunie geannekseer en het dit in Russies bekend gestaan as Lwof en in Oekraïens as Lwif. Wiesenthal se stiefpa, wat steeds in Dolina gewoon het, is as ’n kapitalis gearresteer; hy is later in ’n Sowjettronk oorlede. Wiesenthal se moeder het na Lwow verhuis om by Wiesenthal en Cyla te woon. Wiesenthal het ’n amptenaar omgekoop om sy eie deportasie te voorkom.

Teen middel Julie moes Wiesenthal en ander Joodse inwoners registreer vir verpligte arbeid. Binne ses maande, in November 1941, het die Nazi's die Lwowse ghetto opgerig deur gebruik te maak van Joodse dwangarbeid. Alle Jode moes hulle huise prysgee en daarheen verhuis – ’n proses wat oor die volgende paar maande afgehandel is. Verskeie duisende Jode is in Junie en Julie 1941 in Lwow deur Oekraïense nasionaliste en Duitse Einsatzgruppen vermoor. In sy outobiografieë vertel Wiesenthal hoe hy op 6 Julie gearresteer is, maar van teregstelling gered is deur sy voormalige voorman, ’n man met die naam Bodnar, wat toe lid van die Oekraïense hulppolisie was. Daar is verskeie weergawes van die verhaal, wat moontlik apokrief is.

Laat in 1941 is Wiesenthal en sy vrou na die Janowska-konsentrasiekamp oorgeplaas en gedwing om by die Oostelike spoorwegherstelwerk te werk. Hy het swastikas en ander inskripsies op beslaggelegde Sowjetlokomotiewe geverf, en Cyla is aangewys om die koper en nikkel te poets. In ruil vir inligting oor die spoorweë het Wiesenthal vals identiteitsdokumente vir sy vrou bekom as lid van die Armia Krajowa, ’n Poolse ondergrondse organisasie. Sy het na Warskou gereis waar sy in ’n Duitse radiofabriek gaan werk het. Sy het ook tyd in twee arbeidskampe deurgebring. Die omstandighede was haglik en haar gesondheid het permanent daaronder gely, maar sy het die oorlog oorleef. Die paartjie is in 1945 herenig en hul dogter, Paulinka, is die volgende jaar gebore.

Elke paar weke het die Nazi’s ’n klopjag in die Lwowse ghetto uitgevoer op mense wat nie kon werk nie. Hierdie klopjagte het gewoonlik plaasgevind terwyl die werkendes afwesig was weens dwangarbeid. In een so ’n deportasie is Wiesenthal se moeder en ander bejaarde Joodse vroue per vragtrein na die Belzec-verdelgingskamp vervoer en in Augustus 1942 vermoor. Omstreeks dieselfde tyd het ’n Oekraïense polisieman Cyla se moeder op haar voorstoep in Buczacz doodgeskiet terwyl sy uitgeplaas is. Tussen Cyla en Simon Wiesenthal is 89 van hul familielede tydens die Holocaust vermoor.

Dwangarbeiders vir die Oostelike spoorweg is uiteindelik in ’n afsonderlike geslote kamp aangehou, waar toestande effens beter was as in die hoofkamp by Janowska. Wiesenthal het argitektoniese tekeninge voorberei vir Adolf Kohlrautz, die senior inspekteur, wat dit onder sy eie naam ingedien het. Om kontrakte te bekom, het boumaatskappye omkoopgeld aan Kohlrautz betaal, wat ’n deel van die geld met Wiesenthal gedeel het. Hy kon verdere inligting oor die spoorweë aan die ondergrond oordra en het soms die kompleks verlaat om voorrade aan te skaf, insluitend wapens vir die Armia Krajowa en twee pistole vir homself, wat hy saamgebring het toe hy laat in 1943 ontsnap het.

Op 2 Oktober 1943 het Kohlrautz hom, volgens Wiesenthal, gewaarsku dat die kamp en sy gevangenes binnekort gelikwideer sou word. Kohlrautz het vir Wiesenthal en sy medegevangene Arthur Scheiman passe gegee om saam met ’n Oekraïense wag dorp toe te gaan om skryfbehoeftes te koop. Die twee mans het agter in die winkel ontsnap terwyl hulle wag by die toonbank gestaan het.

thumb|240px|Bevryde gevangenes by Mauthausen groet Amerikaanse magte, Mei 1945. Nadat hulle ’n paar dae lank weggekruip het, het Scheiman by sy vrou aangesluit, en Wiesenthal is deur lede van die ondergrond na die nabygeleë dorp Kulparkow geneem, waar hy gebly het tot aan die einde van 1943. Kort daarna is die Janowska-kamp gelikwideer; dit het dit onveilig gemaak om in die omliggende platteland weg te kruip en Wiesenthal het na Lwow teruggekeer, waar hy drie dae lank in ’n kas weggekruip het.

Daarna het hy verhuis na die woonstel van Paulina Busch, vir wie hy vroeër ’n identiteitskaart vervals het. Hy is op 13 Junie 1944 daar in hegtenis geneem terwyl hy onder die vloere van die huis weggekruip het, en na die oorblyfsels van die kamp by Janowska teruggebring. Wiesenthal het selfmoord probeer pleeg om te voorkom dat hy oor sy verbintenisse met die ondergrond ondervra word. Uiteindelik was daar geen tyd vir ondervraging nie, aangesien Sowjetmagte die gebied begin binnekom het. SS-Hauptsturmführer Friedrich Warzok, die nuwe kampbevelvoerder, het die oorblywende gevangenes na Przemyśl, 97 km wes van Lwow, vervoer waar hy hulle in die bou van versterkings aan die werk gesit het. Teen September is Warzok en sy mense herontplooi na die front, en Wiesenthal en die ander oorlewendes is na die Kraków-Płaszów-konsentrasiekamp gestuur.

Teen Oktober is die gevangenes ontruim na die Gross-Rosen-konsentrasiekamp, waar die blyplek oorvol was en daar ’n tekort aan kos was. Wiesenthal se groottoon aan sy regtervoet moes geamputeer word nadat ’n rots daarop geval het terwyl hy in die steengroewe gewerk het. Hy was steeds siek in Januarie toe die toenemende Sowjetmagte weer eens ’n ontruiming nodig gemaak het, hierdie keer te voet na Chemnitz. Met ’n besemsteel as wandelstok was Wiesenthal een van die min wat die mars oorleef het.

Van Chemnitz is die gevangenes in oop vragmotors na Buchenwald geneem, en ’n paar dae later per vragmotor na die Mauthausen-konsentrasiekamp, waar hulle in middel Februarie 1945 aangekom het. Meer as die helfte van die gevangenes het nie die reis oorleef nie. Wiesenthal is in ’n doodsblok vir ernstig siekes geplaas, waar hy oorleef het op 200 kalorieë per dag totdat die kamp op 5 Mei 1945 deur die Amerikaners bevry is. Hy het toe 41 kg geweeg

Nazijagter Binne drie weke ná die bevryding van Mauthausen het Wiesenthal 'n lys opgestel van ongeveer 100 name van vermeende Nazi-oorlogsmisdadigers – meestal wagte, kampbevelvoerders en lede van die Gestapo – en dit aan 'n oorlogsmisdaadkantoor van die Amerikaanse teenintelligensiekorps by Mauthausen oorhandig. Hy het as 'n vertaler gewerk en amptenare wat arrestasies uitgevoer het, vergesel, al was hy steeds baie broos. Toe Oostenryk in Julie 1945 opgedeel is, het Mauthausen in die Sowjetbeheerde gebied geval en is die Amerikaanse oorlogsmisdaadkantoor na Linz verskuif. Wiesenthal het saam met hulle gegaan en is in 'n kamp vir ontheemde persone gehuisves. Hy het as ondervoorsitter van die gebied se Joodse Sentrale Komitee gedien, 'n organisasie wat probeer het om basiese sorg vir Joodse vlugtelinge te reël en mense te help om inligting oor hulle vermiste familielede in te samel.