Zandvliet is die oorspronklike naam van die wynplaas Solms-Delta tussen Simondium en Wemmershoek.

Die plaas lê waar die Helshoogtepad by die pad tussen die Paarl en Franschhoek (R45) aansluit. Buurplase is Allée Bleue, Lekkerwyn, Bien Donné, Boschendal en L’Ormarins (met die Franschhoek-motormuseum). Die Bergrivier en die Banghoekrivier omring die plaas.

In 1690 is die plaas van 50 ha toegeken aan Hans Silberbach en Callus Lans. Dieselfde jaar kry Ary Lecrévent die buurplaas Lekkerwyn. Silberbach was getroud met Ansela, ‘n vrysgestelde slavin. Lecrévent was getroud met ‘n De Lanoy-meisie van Boschendal. In ‘n rusie vermoor Silberbach vir Lecrévent. Silberbach vlug, verdwyn en sy plaas Zandvliet word daarop gekonfiskeer en op ‘n veiling verkoop. In 1803 is J.P. de Villiers die eienaar en noem dit Delta, waarskynlik weens die ligging tussen die twee riviere. Hy verkoop ‘n 35 ha van Zandvliet en ‘n 25 ha van Lekkerwyn aan sy neef Jan Stephanus de Villiers. Die res van Zandvliet behoort in 1806 aan ‘n ander neef, Jacob Stephanus de Villiers. Twintig jaar later is Cornelis Brink die eienaar van Delta. Later is dit die eiendom van Pickstone Fruit Farms en vroeg in die 21ste eeu van ‘n groep Amerikaners.

Lees ook Lys van wynkelders in Suid-Afrika

Bibliografie Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004.  Green, Lawrence G.: Beyond the city lights. The Story of the Western Cape – the Towns and the Farms, the Life and the People, the Folklore and the Legends. Kaapstad: Howard Timmins, 1957

Kategorie:Wynbou in Suid-Afrika Kategorie:Wes-Kaap