Groblersdal is 'n dorp in die Limpopoprovinsie (en voorheen in Mpumalanga), in Suid-Afrika. Die dorp is tussen Loskopdam en Marble Hall geleë. Die N11 nasionale pad gaan deur Groblersdal. Volgens die 2011-sensus het Groblersdal 'n bevolking van 4 329 gehad.
Geskiedenis Die dorp het sy ontstaan te danke aan die besproeiingskema vanuit die Loskopdam, 32 km suid van die dorp. Die dorp is uitgelê op die plaas Klipbank van WJ Grobler en na die eienaar vernoem. Die dorp is in 1938 geproklameer toe die besproeiingskema voltooi is. Munisipale status is in 1952 toegeken.
Loskopdambesproeiingskema Die eerste uitvoerbaarheidstudie is reeds in 1905 geloods. Die dam is vernoem na die plaas Loskop wat verwys na die alleenstaande koppie in die oop veld wat slegs sigbaar is as die dam se watervlak aansienlik gedaal het. Die dam is 48 km vanaf Middelburg. Die projek is in 1938 voltooi tesame met twee kanale van 148 km. Dit is die grootste besproeiingskema naas die Vaalharts-besproeiingskema. 'n Area van 12 755 ha is as 'n natuurreservaat opsy gesit rondom die dam. Daar is ook 'n vakansieoord langs die dam. Die damwal is in die laat 1960 met 10 meter verhoog.
Gewasse wat onder besproeiing gekweek word is: katoen, sonneblomsaad, grondboontjies, mielies, koring, lusern, tabak, groente, druiwe, perskes en sitrus.
Sien ook Gereformeerde kerk Groblersdal Lys van dorpe in Suid-Afrika
Verwysings
Op Pad in Suid-Afrika. B.P.J. Erasmus. 1995. Ensiklopedie van Suidelike Afrika, Eric Rosenthal, 1967.
Kategorie:Nedersettings in Limpopo