Moersili III, ook bekend as Oerhi-Teshoeb, was omstreeks 1282-'75 v.C. koning van die Hetitiese Ryk. Hy het sy vader, Moewatalli II, opgevolg en was die neef van koning Toedhalija IV.
Biografie Moersili III was die oudste oorlewende seun van Moewatalli II. Hy was 'n kleinseun van Moersili II.
Tydens sy bewind het Moersili III die hoofstad teruggeskuif van Tarhoentassa (waarheen Moewatalli II dit geskuif het) na Hattoesa (KBo 21.15 i 11-12). Die Assiriërs het Mitanni egter verower en sy legitimiteit om oor die Hetitiese Ryk te regeer in 'n groot mate verswak. In sy sewende jaar het Moersili III beslag gelê op sy oom Hattoesili se streekvestings Hakpissa en Nerik in die Hetitiese Ryk in 'n poging om Hattoesili te verwyder as 'n bedreiging vir die troon. Hakpissa was die middelpunt van Hattoesili se mag en Nerik was onder sy beheer danksy sy posisie daar as hoëpriester.
Hattoesili het 'n groot leër op die been gebring en Moersili aangeval. Van sy bondgenote was geswore vyande van die Hetiete, soos die Kaskiërs.Bryce, Trevor. The Kingdom of the Hittites. red. New York: Oxford University Press, 2005 pg. 224-227. Hattoesilli het Moersili vinnig verslaan en die troon van hom afgeneem. Hy het koning Hattoesili III geword en het Moersili se broer, Koeroenta, as die vasalkoning van Tarhoentassa aangestel om sy lojaliteit te wen.
Naby die dorp Sirkeli Höyük is 'n bekende reliëf van Moewatali III. 'n Ander, soortgelyke reliëf is net 'n paar meter van daar, maar dit is in die oudheid grootliks vernietig. Dit was 'n opsetlike verwoesting en die naam van die figuur kan nie gelees word nie, maar dit was vermoedelik van Moersili III en is deur sy oom vernietig om sy nalatenskap uit te wis.
Moersili het na Egipte, die land van sy vyand, gevlug nadat sy poging om sy oom van die troon af te sit misluk het. Hattoesili III het geëis dat Ramses II sy nefie uitlewer, maar Ramses het gesê hy weet nie waar Moersili is nie. Die twee lande het byna oorlog gemaak, maar het eindelik in jaar 21 van Ramses II vrede gesluit. Moersili het daarna uit die rekords verdwyn.
Verwysings
Skakels Die bewind van Moersili III
Kategorie:Konings van die Hetiete